Cele moet sê oor klagtes teen Malema en kie, vra DA

EFF-leier Julius Malema. (Foto: EFF/Twitter)

Die Demokratiese Alliansie het parlementêre vrae gerig aan die minister van polisie Bheki Cele en die minister van justisie en korrektiewe dienste Ronald Lamola ingedien oor verskeie aanklagte wat aanhangig gemaak is teen lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters.

Natasha Mazzone, hoofsweep van die DA, het gesê die DA het deur die loop van die jaar klagtes aanhangig gemaak wat strek van haatspraak tot aanhitsing om geweld te pleeg teen verskeie EFF-lede ná opruiende uitlatings op verskeie sosialemediaplatforms. “Die parlementêre vrae sal deursigtigheid verseker wat betref die ondersoek en vervolging van al die klagtes wat teen EFF-leier Julius Malema en sy makkers aanhangig gemaak is, en dat die wiele van geregtigheid draai, maak nie saak hoe stadig nie.”

Tensy hulle aanspreeklik gehou word vir hul misdadige gedrag, bestaan die gevaar dat Suid-Afrikaners gewoond en uiteindelik immuun sal raak teen die EFF se gewelddadige optrede wat ten doel het om te ontwrig, te verwoes en te intimideer.

Mazzone sê die EFF se optrede is deurgaans teenstrydig met bewerings dat hulle vir armes en die kwesbares baklei. “Deur hul geweld en verwoesting plaas hulle voortdurend lewens en mense se lewensbestaan in gevaar. Die verwoesting van infrastruktuur tydens hul betogings het ʼn direkte impak op die armstes in die land. Deur hul rassistiese en gewelddadige uitlatings wys hulle dat daar meer is wat Suid-Afrikaners verdeel as wat daar dinge is wat ons verenig, in ʼn poging om stemme te lok.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.