Cele ook by OB verkla oor reis na WB-toernooi 

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die DA het ook nou die Openbare Beskermer (OB) gevra om ondersoek in te stel na Bheki Cele, minister van polisie, en sy uitvoerende assistent se onlangse reis na die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk.

Cele het bekend gemaak dat ʼn “private maatskappy” sy reis na die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk betaal het en dat belastingbetalers R446 339 moes opdok sodat sy uitvoerende assistent ook die uitstappie kon meemaak.

Cele het dié onthulling in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA bekend gemaak.

Okkie Terblanche, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, sê die OB is versoek om die saak verder te ondersoek, ʼn verslag oor haar ondersoek op te stel en regstellende stappe aan te beveel.

“Die klagte meld dat die minister verskeie bepalings van die etiekkode vir lede van die uitvoerende gesag oortree het, waaronder die uitdruklike verpligting wat op ministers geplaas word om te goeder trou en in die beste belang van goeie regering op te tree, om in alle opsigte op te tree op ʼn wyse wat ooreenstem met die integriteit van hul amp, en om hul pligte en hul bevoegdhede nougeset en met eerlikheid uit te oefen.”

Volgens Terblanche maak die etiekkode dit ook duidelik dat lede van die kabinet onder geen omstandighede hul posisie mag gebruik om óf hulself te verryk óf enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie.

“Die DA sal nie toelaat dat ministers staatsfondse tot hul eie voordeel en plesier misbruik nie, veral as in ag geneem word dat die SAPD reeds so onderbefonds is.”

Die party het ook reeds ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om verdere inligting oor Cele en sy assistent se reis te bekom. Die DA wil weet wie die private maatskappy is wat Cele se reisuitgawes betaal het; of dié maatskappy enige verbintenis met die polisie of regering het; of Cele se assistent in eerste- of besigheidsklas gevlieg het; of die assistent in vyfsterhotelle op die belastingbetaler se rekening gebly het; en of enige bykomende uitgawes vir BBP-beskerming aangegaan en met belastinggeld betaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Kweperlat ·

Die neiging om maar net staats- ( belasting) geld na willikeur te misbruik vir eie gewin is soos n pessiekte!! Jy soek verniet vir betroubaarheid en integriteit!!

koos10 ·

Ek is nou nog verstom. Cele verklaar dat sy trippie R33000.00 gekos het, maar geborg is. Nou kom bedrae van 15 keer meer uit wat die belasting betaler moes betaal. Is ht regrig so stupid dat die publiek hom sal glo, en dat hy dink hulle moet hom glo???? Of is hy net te verwaand en egoisties??? Jy is nie ‘n minister se alie werd nie. Jammer genoeg sal CR jou nie afdank nie, want hy roei saam in die sous bootjie!

Ore ·

Watse instansie sal die minister wil borg?Wat kry hulle daaruit? R33,000 kan nie die totale koste wees nie. Ek het op ‘n stadium gesien kaartjies alleen beloop R45,000. Mag ons sy /haar naam wat sy assistent is se naam dalk weet? Vergelyk nou maar Cele se weergawe van die twee verskillende bedrae. Die assisent s’n lyk meer na die waarheid

Anel ·

Die R 33000.00 is sy sakgeld. Buitelandse toelaag as jou etes en verblyf gedek is. Dis in elke geval ‘n skande dat hy dit moes kry. Wst het hy in elke geval daar loop maak, om nie eens van die assistent te praat nie! En wie is die assistent nogal? En hulle sou ook nie alleen gegaan het nie! Hoeveel mense tussen hom en sirrel het saam gegaan en op ons geld gaan eet en drink? Want in rugby stel hulle niks belang nie! Sou graag hierdie wou weet.

Althes ·

Terwyl hy ñ jetsetter is in SA om gesig te wys by begrafnisse wat hy selektief kies, is misdaad nog steeds ñ enorme probleem.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom mense, dit kan eensaam word in die grote Parys.

Johan ·

Die Da sal dit nie toelaat nie??? Al wat julĺe kan doen is aankla en terwyl julle besig is om aan te kla gaan hulle maar net voort en kom op die

Johan ·

Die Da sal dit nie toelaat nie??? Al wat julĺe kan doen is aankla en terwyl julle besig is om aan te kla gaan hulle maar net voort en kom op die ou end tog weg…

Di ·

Hy en ander moet minder “RONDHANG” in ander lande terwyl SA burgers geteister word deur misdaad. Verkragtings, moord en roof neem toe by die dag en hulle karjakker rond asof dis hulle eie geld is

Catherina ·

Is daar iets in hierdie pragtige land wat nie n gemors is nie?

Cherokee ·

Maw Johan, jy sou verkies dat die DA tjoepstil bly, soos die ander politieke partye, en nie boe of ba sê nie. Of daar ‘n opvolg sal wees, is ‘n ope vraag. Dit maak egter nie jou kritiek geldig nie. Komende van ‘n nie-lid van die DA.

Sê maar net ·

Baie eerbaar van die DA, maar hier gaan dadels van kom…..
Soos gewoonlik….

gpsa ·

Mooi voorbeeld hoekom SA nooit 1ste wereld land sal wees nie. 1ste wereld land word so persoon afgedank en vervolg sodat daar geld is vir die res van die populasie. In SA kom so persoon niks oor nie. Hulle weet dit goed en so doen al die hoog geplaastes maar dieselfde, want hoekom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.