Cele op terme geplaas oor dreigemente aan besighede

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Polisieminister Bheki Cele moet sy onregmatige instruksies aan lede van die SAPD, dat hulle besighede mag penaliseer en sluit, terugtrek. Sakeliga se regsverteenwoordigers het Cele ingelig dat Sakeliga die reg voorbehou om ʼn dringende interdik teen hom te bring sou die SAPD volgens sy onregmatige instruksies handel.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê lede van die SAPD kan nie regter en jurie wees nie. “Hulle het nie die reg om, op die wyse wat Cele beskryf, boetes uit te reik of besighede te sluit nie – nóg konstitusioneel, nóg ingevolge die rampbestuurswet. Sou hulle dit doen, sal hulle onwettig optree, self vatbaar wees vir vervolging, en die staat (en dus belastingbetalers) aan skadevergoedingseise blootstel.”

Cele se openbare opmerkings, onregmatig soos dit is, eggo uitsprake deur pres. Cyril Ramaphosa dat kriminele vervolging op die kaarte is vir eienaars en bestuurders van ondernemings en persele, op grond van die nakoming al dan nie van hul werknemers en besoekers.

Le Roux sê die staat “se poging om nakoming van sy dikwels irrasionele en onkonstitusionele regulasies – soos in meerdere hofsake nou al bevind – die plig van ander mense te maak is onaanvaarbaar”. “Eienaars en bestuurders behoort nie met kriminele vervolging gedreig te word vir die optrede van andere nie, in besonder nie wanneer die optrede nie eens vir daardie persone self krimineel geag word nie. Ons word deur ons regspan geadviseer dat suksesvolle kriminele vervolging in hierdie verband onwaarskynlik is, maar steeds risiko’s daarstel,” het hy bygevoeg.

Sakeliga se regspan moniteer die gevaar van kriminele stappe teen besighede. “Ons moedig sakelui aan om enige pogings in hierdie verband onder ons aandag te bring.”

Klik hier om die brief aan Cele te sien.

Regte misdaad en groter gevare

Le Roux versoek die publiek om die SAPD te help om sy beperkte hulpbronne aan regte misdaad te wy en om nie lede van die SAPD by kleinighede te betrek nie.

“Ek versoek lede van die publiek wat Covid-19-verwante optrede deur eienaars en bestuurders van ondernemings onbevredigend vind om sulke gevalle direk by besighede aan te meld. In ʼn land waar moorde alleen 22 000 ʼn jaar beloop en waar pogings tot moord, seksuele aanslae, roof, aanranding, grootskaalse korrupsie en ander ernstige misdade veelvoude daarvan beloop, moet polisie die geleentheid gegun word om op regte misdaad te fokus,” het hy gesê.

“Suid-Afrika word tans blootgestel aan veel groter gevare as Covid-19, insluitende bedreigings van lewe en lewensgehalte danksy maatskaplike, politieke en ekonomiese onstabiliteit. Die gevolge wat opbou sluit in meer misdaad uit toenemende desperaatheid, politieke radikalisme, fiskale krisisse, onderwysmislukkings, lewensverlies as gevolg van laer lewenstandaarde en swakker mediese sorg, en veel meer.”

Strandsluitings

Intussen hou Sakeliga kontak met en verleen ondersteuning aan verskeie belanghebbendes langs die Tuinroete en ander sogenaamde brandpunte om so ver as moontlik skadelike, teenproduktiewe en onredelike regulasies soos strandsluitings teen te gaan. Le Roux sê dit is ʼn “deurlopende proses, wat belemmer word deur die tydsraamwerke ter sprake en die wyse waarop die regering die regulasies ontwerp om litigasie te bemoeilik”.

“Die nasionale regering se strandsluitings is skadelik en kos die regering die ondersteuning van die publiek en van besigheid. Dit is vernietigend vir die ekonomie in geraakte gebiede, wat op enkele weke ʼn jaar vir lewensvatbaarheid staatmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Kokerboom ·

Welgedaan Sakeliga. Die kaders kan NIE maak en breek soos hul lusvoel!

Anel ·

Hy is die grootste krimineel en nou kom hou hy homself hoogheilig. Pleks bepaal hy hom by REGTE misdaad maar ek dink nie hy weet wat dit is nie. Die ergste is dat hy as kommissaris afgedank is en toe na minister bevorder is. Dit is iets wat nog nie vir my sin maak nie.

Adrian ·

Seuntjie met sy standerd ses het nou die mag om ‘n besigheid te sluit…!??Skielik is “Sherriff” weer wakker want hier is nou weer ‘n “soft job” soos met die roker “misdadigers”…

Charles ·

Met sy ou hoed op die kop is hy nou weer gereed om gewone mense wat ń lewe probeer maak se lewe weer hel te maak.

Cecilia ·

Ag man Cele, Ramaphosa en ou Mal-Emma.
D hele spul is n Sirkus!
Hoe gaan 100 SAPS lede duisende vakansie gangers beheer? D SAPS kan nie eers misdaad beheer nie!

Jr ·

Kyk hoe lyk Durban se strand vandag met ” our people” wat nie ‘n dut omgee nie. Maar ons eie
” Kojak” vervolg besighede wat belasting inbring. Wonder of hy ” township” spaza winkels sal teiken. Dink nie n’ mens hoef ‘n rocket scientist te wees om te weet wat daai antwoord is.

Hendrik ·

Dit is soos die geagte minister wil poliseering doen – om mense se regte in te kort. Hy moet hom toespits om krimenele te arresteer, moorde op te los en die mense van die land te beskerm. As hy dink dit is sy werk, is hy besig om uit die bus uit te val.

Johan D ·

Rammetjie uitnek met sagte teikens maar aan ernstige misdaad kan hy en sy sirkus niks doen nie!

Persheks Adri ·

Useless useless useless! Hy beteken sweet blow NIKS vir die land nie!

JM ·

Gee vir sommige mense mag en hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie, want die insig ontbreek. Hoe lank moet die land nog met hierdie regering en sy narre sit?!

marius ·

Hy loop in Kampsbaai en dreig die wittes , maar is te bang om in Durban sy eie mense aan te vat . Lafhartige gemors !

Francois ·

Bravo Sakeliga, en wil net graag weet of onse ministers en presidente nie raadgewers het nie. Gelukkig is die wet nog staande dat ONKUNDE nie in die howe aanvaar word as n verskoning nie. Watter kant toe die saak sou gaan DIE BELASTINGBETALER (wat n vloekwoord) geword het moet opdok vir die kostes. Dit bly skokkend soos hierdie ministers te kere gaan asof daar nie n einde is aan geld nie

Janine ·

Ek sou verkies dat die idioot hom eereder bepaal by sy KORRUPTE polisielede. Hulle is deur-en-deur ‘n absolute SKANDE vir SA!

Johann ·

Die GROOTSTE MAGSBEHEPTE ANC kader van die ANC magsbasis. Gaan luister na sy konfrontasie in die Kaap met die plaaslike regering! Absolute arrogansie!

Thinus ·

Dit lyk vir my almal in die regering het deesdae hul eie ‘boss banners’ waarmee hulle rondloop, want dis so goedkoop en maklik bekombaar om dit te kry…

Albertus Wilhelmus ·

Waar gaan dit eindig? Sy arrogance ioortref sy IK en insig met ligjare. Die erste is dat hy daarmee wegkom.

Robert ·

Waarvoor wag… kry die interdik teen hom en die SAPD nou!

Piet Pompies ·

Ag asb – hulle doen net wat hulle will – hofsake neem maande en teen daai tyd is daai besigheid al lankal gesluit – mense verloor hulle werk en al word hulle skuldig bevind gebeur daar ook niks nie
Ons lewe in ‘n diktarorskap

koos10 ·

Hy en kopdoek is meer bewyse dat CR totaal beheer verloor het (of dit fyn beplan).

Ria ·

Ons hoef nie deur n magsbehepte mens soos skoolkinders behandel te word nie. Hy misbruik sy posisie om n skrikbewind te voer. Dis onvanpas en slegte smaak in hierdie tyd waarin ons lerf

Johann ·

MAGS MAL ANC ONTPLOOIDE! Doen wat hy wil soos dit hom pas. Onaanspreeklik.

Tanniepetoors ·

As Minister van Polisie het hy geen reg om instruksies direk aan lede te gee nie. Veral nie instruksies wat nêrens bestaan nie. Die man is onbevoeg vir sy amp en ‘n verleentheid vir die hele Suid-Afrika in die buiteland. Hoe gouer hy van sy amp onthef word, hoe beter. Suid-Afrika kan nie vigilante polisie-ministers wat hand om die blaas met rassistiese, haatdraende opstokers omgaan, bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.