Cele sal held namens polisie groet  

Michalene Marx, weduwee van kapt. Pierre Marx, word getroos deur premier Oscar Mbuyane. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal Saterdag afskeid neem van kapt. Pierre Marx, die polisieduiker wat verlede Saterdag tydens ʼn reddingspoging in Oos-Londen verdrink het.

Bheki Cele, minister van polisie, sal self die lofrede tydens die diens by die Calvary Christian Church in Oos-Londen lewer.

Marx (53) het verdrink toe hy saam met ander duikers van die Oos-Londen K9-soek-en-reddingseenheid op ʼn verdrinkingsvoorval in die Horseshoe-vallei in die buitewyke van dié stad gereageer het. Hy is deur sterk strome in die Nahoonrivier meegesleur nadat hy ʼn boer van die omgewing uit die water gered het.

“Kapt. Pierre Marx was ʼn bekende lid van die polisie wat erkenning ontvang het vir sy besonder heldhaftige reddingsaktiwiteite in die provinsie. Hy het ʼn hele paar toekennings vir sy bravade ontvang en was baie geliefd onder verskeie gemeenskappe wat sy toewyding aan sy werk eerstehands ervaar het,” het Lirandzu Themba, woordvoerder van die minister van polisie gesê.

Die provinsiale polisiekommissaris en premier van die Oos-Kaap het kapt. Pierre Marx se familie besoek. (Foto: Facebook)

Die polisiekommissaris en premier van die Oos-Kaap het ook die afgelope week Marx se huis besoek om hul medelye met sy familie te betoon. Hulle het ook die toneel besoek waar Marx sy lewe verloor het.

“Ons hoop om veral aan mevrou Marx ʼn mate van troos in hierdie baie moeilike tyd te bring. Ons sal vir ewig die nagedagtenis aan kapt. Marx in ons harte en gedagtes koester. Sy voorbeeld van onbaatsugtigheid en voortreflike leierskap sal as ʼn baken van hoop dien vir alle Suid-Afrikaners,” het premier Oscar Mbuyane ten tyde van die besoek gesê.

“Sy heldhaftigheid en toewyding aan die polisiediens het ons almal geïnspireer. Ons gebede is met sy familie en ons hoop dat hulle berusting sal vind.”

Hy het gesê dat Marx ontsettend gemis sal word deur dié wat naby aan en dierbaar vir hom was.

Ook lt.genl. Nomthetheleli Mene, polisiekommissaris van die Oos-Kaap, het Marx se lof besing. “Die feit dat hy sy lewe aan diens verloor het, wys dat hy altyd bereid was om die gemeenskap te dien. Ons waardeer kapt. Marx se toewyding en patriotisme in die uitvoering van sy pligte.”

Oscar Mbuyane, premier van die Oos-Kaap, besoek die plek waar kapt. Pierre Marx verdrink het. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Ag en nou moet ek glo dat hy werklik simpatiek is teenoor die gevalle rots en steunpilaar.Tsek tsek patent.Aan hierdie gevalle held se familie baie sterkte en innige simpatie met julle groot verlies.

Chris dupreez ·

Ja die klomp is net daar vir die aandag trek en fotos.

Marius ·

Hy was ‘n baken van hoop en lig in ‘n donker wêreld vol van misdaad, moord, haat en misleiding. Baie moeilik om so ‘n uitstaande persoon te vervang.

Hennie ·

Rus sag dapper held! Verby is al jou leed! Dis nie maklik vir ‘n WM in die polisie nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.