Cele se bewerings ʼn belediging vir armstes, sê Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, en Albert Fritz, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, het Saterdag gesê polisieminister Bheki Cele se bewering, dat die Wes-Kaap die meeste polisiëringshulpbronne geniet, is ʼn belediging vir die armste gemeenskappe in die provinsie.

Cele het Vrydag aangevoer die Wes-Kaap ontvang “die leeueaandeel” wat hulpbronne vir polisiëring betref.

“Hierdie uitlating is só misleidend dat ons regering geen ander opsie het as om te reageer en die feite te stel nie,” het Winde en Fritz in ʼn gesamentlike verklaring gesê. “Versuim om hierop te reageer sal die nasionale regering in staat stel om te onttrek aan die lewering van werklike polisie-hulpbronne wat ons gemeenskap steeds so dringend nodig het, en wat ons eis.”

Enigiemand wat in die Wes-Kaap se misdaad-brandpunte woon weet al te goed dat daar nie genoeg polisiebeamptes is om misdaad te bekamp nie, ondanks die harde werk van talle beamptes op die grond. “Dit is ons armste gemeenskappe, hoofsaaklik op die Kaapse Vlakte, wat steeds onvoldoende polisie-tot-gemeenskap ratio’s het weens ʼn versuim deur die nasionale regering om behoorlike hulpbronne te verskaf.

“Dit is nie nuus vir die minister, sy ministerie of sy departement nie, omdat ons dit al jare lank vir hom wys deur ons polisiëringsbehoeftes en -prioriteiteverslag.

“Ons doen ʼn beroep op die minister van polisie om die regte ding te doen en sy verklaring reg te stel. Hy moet die regstelling ook gebruik om homself daaraan te verbind om meer polisiëringshulpbronne aan die SAPD in die Wes-Kaap vry te stel – veral in die misdaadbrandpunte in ons armste gemeenskappe.”

Cele se kommentaar wys duidelik hoe belangrik die afwenteling van mag is sodat werklike behoeftes aangehoor en aangespreek kan word deur ʼn bekwame provinsiale regering, het Winde en Fritz bygevoeg. “Ons is gereed om dit te doen.”

SAPD-beamptes nie op gelyke basis in provinsie ontplooi nie

As ʼn 1:225 polisie-tot-gemeenskap ratio gebruik word om voldoende hulpbronne te bepaal het die armste gemeenskappe ʼn groot gebrek aan ondersteuning deur die SAPD. Inligting van die SAPD wat by ʼn parlementêre reaksie op 25 September 2020 ingesluit is, het dit duidelik gemaak. Die volgende is net ʼn handjievol van die stasies, waarvan meeste ook deur gewelddadige misdaad geteister word:

  • Ravensmead 1:895
  • Houtbaai/Imizamo Yethu 1:804
  • Grassy Park 1:800
  • Harare 1:731
  • Atlantis 1:715
  • Nyanga 1:682
  • Gugulethu 1:642
  • Philippi-Oos 1:638
  • Kraaifontein 1:624
  • Langa 1:575
  • Elsiesrivier 1:538
  • Mfuleni 1:531
  • Philippi 1:518
  • Manenberg 1:489
  • Khayelitsha 1:480
  • Macassar 1:448

“Die gelykheidshof het in 2018 bevind dat die toeken van polisie-hulpbronne en die stelsel wat die SAPD gebruik om dié teikens te bepaal onregverdig teen arm mense diskrimineer op grond van ras en armoede. Dit is tot dusver nie behoorlik reggestel nie.”

Wes-Kaapse speurders het onaanvaarbare hoë werkslading

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. (Foto: ANA)

Die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid se SAPD-speurderassesseringsverslag wat in 2019 vrygestel is, het onthul dat daar ʼn gebrek aan opleiding is en onvoldoende hulpbronne vir speurdienste in die Wes-Kaap.

ʼn Assessering is tussen 1 Julie 2017 en 31 Desember 2017 by die 150 polisiestasies gedoen om nakoming aan die SAPD se norme en praktyke te bepaal.

Die assessering het bevind dat 48% van speurders in die Wes-Kaap ʼn werkslading van meer as 200 dossiere per persoon het – dit is 333% meer as die norm van 50 – 60. Daar is tans ʼn tekort aan 548 speurders in die provinsie waarvan 142 poste vakant bly.

Van die speurders wat in aanmerking kom vir opleiding in die Wes-Kaap:

  • het 91,7% nog nie opleiding in die gespesialiseerde speurder-leerprogram ontvang nie;
  • is 88,2% nog nie opgelei om bedrog te ondersoek nie;
  • het 57% van die speurder-bevelvoerders nog nie die vereiste opleiding afgehandel nie; en
  • het 45,8% nog nie die basiese speurder-leerprogram afgehandel nie.

Sake van die hofrol geskrap weens onvoldoende opleiding

Wat betref sake oor huishoudelike geweld het ʼn studie deur die departement van gemeenskapsveiligheid in 2020 bevind dat 67% van sigbare polisiëringslede nie die vyf dag lange kursus oor die Wet op Huishoudelike Geweld ondergaan het nie. Daar is ook bevind dat 74% van die speurders by die top-20 stasies vir voorvalle van huishoudelike geweld ook nie die opleiding ondergaan het nie.

Die resultaat van gebrekkige opleiding beteken dat 85% van sake, wat tydens die departement van gemeenskapsveiligheid se assessering gemonitor is, van die hofrol geskrap is:

  • 380 dossiere het nie by die hof opgedaag nie;
  • 417 ondersoeke is nie volledig afgehandel nie;
  • 37 getuies was afwesig in die hof; en
  • 41 forensiese verslae was nie beskikbaar nie.

Forensiese laboratorium versuim om DNS vir strafregtelike sake te prosesseer

Daar is ook ʼn onaanvaarbare hoë agterstand wat betref die prosessering van DNS-monsters wat tydens strafregtelike ondersoeke ingesamel is. Volgens ʼn parlementêre reaksie het dit ʼn impak op meer as 36 000 sake van seksuele misdrywe in die Wes-Kaap.

Die departement se studie in 2019 het bevind dat 43,5% van die betrokke stasies nie enige toerusting gehad het om mondholte-monsters te neem nie – iets wat noodsaaklik is vir DNS-analise vir bewyse in sake. Altesaam 13% van die stasies het slegs tussen een en vyf stelletjies beskikbaar gehad.

Sommige stasies het ook ʼn tekort aangedui van voorraad vir Volwasse Seksuele-stelletjies, Pediatriese stelletjies en Seksuele aanranding-stelletjies. Dit is alles nodig om DNS-monsters te kan versamel in verskillende sake. Dié tekorte duur al meer as twee jaar voort.

SAPD-lede en stasies het ook uitdagings aangemeld oor die insameling van monsters van verdagtes, omdat stasies nie toegewyde plekke het waar monsters in privaatheid geneem kan word nie. Omdat die omgewing ook nie gesteriliseer is nie, word monsters gereeld besmet en dit het ʼn negatiewe impak op die bewyse om ʼn skuldigbevinding te verseker.

Tydens die periode 2017/18, 2018/19 en 2019/20 het die departement van gemeenskapsveiligheid se hofmoniteringseenheid ʼn getal howe besoek om te bepaal waarom sake van die hofrol geskrap word. Daar is bevind dat verskeie sake, veral moordsake, teruggetrek word weens ʼn agterstand by die nasionale forensiese wetenskaplaboratorium.

Gebrek aan hulpbronne om misdaad te bekamp

Die Browns Farm-satellietpolisiestasie, wat dele van Nyanga en Philippi diens, het al twee jaar lank nie elektrisiteit nie. Dit beteken dat die kantoor slegs tot 17:00 bedryf kan word, omdat beamptes nie veilig hul werk kan doen nie.

Die departement lê ook gereeld besoek af aan SAPD-stasies. In 2020 is 38 stasies besoek en daar is bevind dat talle van die polisiestasies nie toegangskontrole in plek het nie. Talle het ook nie aanhoudingselle nie en privaat kantore moet gebruik word om aangehoudenes in te hou. Daar is stasies sonder dossier-argiefstore of plek om bewyse te stoor. Daar is ook stasies wat beduidende instandhouding benodig.

Soos genoem in die 2019/20 SAPD-jaarverslag, gebruik die SAPD ook outydse tegnologie om op noodgevalle te reageer. Die provinsie het een radiobeheersentrum in Maitland en dit gebruik die APCO 16 analoog-radiostelsel wat al sedert 2009 nie meer vervaardig word nie en waarvoor daar sedert 2012 nie meer enige onderdele beskikbaar is nie.

Wat betref fisiese hulpbronne het die getal polisiestasies dieselfde gebly, ondanks ʼn toename in bevolkingsgetalle in die provinsie. Die 2020/21-verslag het gewys dat die SAPD van voornemens is om twee nuwe polisiestasies in Tafelsig en Macassar te bou, maar die Macassar-polisiestasie word al nege jaar lank beplan en ontwerp. Die SAPD verskaf nie enige redes vir die vertraging nie. “Dit is ʼn gemeenskap wat swaar deur misdaad getref word en dringend polisiedienslewering benodig.”

Voertuie nie geskik nie

Tydens die periode 2018/19 het die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid ʼn polisiestasie-sensus onderneem by 150 polisiestasies in die provinsie. Die toeken van voertuie op stasievlak is by 60 stasies ondersoek. Daar is bevind dat 59% of 940 van die 1 572 voertuie wat aan die 60 stasies toegeken is, in ʼn swak toestand is. “Ons beamptes kan nie hul werk doen as hul voertuie onbetroubaar is nie.”

Verkiesingsfoefie

Kaapstad-metro se plan vir die bevordering van wetstoepassing (Leap)-beamptes in die Wes-Kaap (Foto: Alan Winde/Twitter)

Die Wes-Kaapse regering het reeds meer as 1 000 beamptes deur Kaapstad-metro se plan vir die bevordering van wetstoepassing (Leap) aangestel om die SAPD in misdaad-brandpunte by te staan en fokus op geweldvoorkoming deur die aanstelling van areagebaseerde spanne in dié gemeenskappe. “Ons maak gebruik van die hele samelewing en het ʼn goeie verhouding met die provinsiale polisiekommissaris. Ons bly verbind om alles in ons vermoë te doen om die SAPD te ondersteun, want ons kan nie toelaat dat die onaanvaarbare hoë vlakke van geweld in ons gemeenskappe voortduur nie,” het Winde en Fritz bygevoeg.

“Uitlatings soos dié (deur polisieminister Bheki Cele), wat slegs verduidelik kan word as ʼn laaste-minuut-verkiesingsfoefie, trek bloot die aandag af van die baie ernstige gebrek aan hulpbronne wat talle gebiede in die provinsie beleef. As die minister van polisie dit nie wil erken nie, kan ons bloot aanneem dat hy nie van voornemens is om dit aan te spreek nie. Dit is kommerwekkend en moet reggestel word.”

Winde en Fritz sê dit versterk bloot die saak vir afwenteling van mag aan die provinsiale regering. “Ons het na ons inwoners se behoeftes geluister en ons is bereid om iets daaraan te doen. As minister Cele nie bereid is om iets te doen nie, moet hy vir ons die hulpbronne gee om dit te doen, en ons sal die werk gedoen kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Hardekwas ·

Dis die laagste van laag as die polisie minister openlik lieg. Jy is n skande vir die term mens en hoort in n gestig.

Strandloper ·

Oooo…. dog hy is al lankal opgeneem? Vandaar die gejaag met blou ligte en wagte! Soms word hy op strande los gelaat met katastrofiese gevolge!

Willem ·

Die ANC – regering van bo tot onder leef in ‘n droomwêreld. Alles is aan’t vergaan en stort ineen maar hulle glo in hul “Good story to tell”. En dit is presies wat dit is: ‘n storie. Die realiteit lyk veel anders.

jzjz05 ·

Hoop daar is iemand wat beter is en kan sien dat die ANC besig is om die land oor n afgrond te stoot waarvan daan daar geen terugkeer gaan wees nie.Ek twyfel dat daar in die ANC so n iemand is.

Prikkie ·

Sal die Hoed in staat wees om al hierdie feite wat aan hom voorgelê is te verwerk?

Pieter9 ·

Daar is nie ‘n hoed wat hom pas nie…net min soos die waarheid.

Stephen ·

As jy Cele aan n IK masjien koppel sal die land heeltemal kragonderbrekings ondervind!!

annie ·

Enigeen wat hoop die Kaap wil afstig moet maar mooi dink na hy bogenoemde inligting lees. Dit sal ‘n taai toffie wees om te kou. Al die geld van die nuwe regering van die nuwe nuwe Kaap van Hoop sal daar ingeploeg moet word om enige verandering te bring. Destyds het die trekboere opgepak en getrek en toe was daar seker nie meer as 50 000 mense nie.

Willem ·

Daar moet ook bygevoeg word..die speurders is lankal nie meer speurders nie..en bloot salaristrekkers..ALLE stastsdepartemente het ñ lekker geleentheid geword vir vinnige onbekwame aanstellings en regstellende aksie ten koste van dienslewering.Cele is ñ politikus..is en was nooit ñ polisieman nie..daar is ñ paar ander onbevoegdes ook wat baie slim is…

jzjz05 ·

Baie waar .maar hulle reken dit is werkverskafing maak nie saak of hy die werk kan doen nie of die kennis het nie ,net solank hy nie wit is en n kader is .

Kokerboom ·

Almal kan kla en praat tot koeie huistoe kom. As jou land se President nie inkoop is alles verlore! Dis uiters tragies! CR het ‘n goue geleentheid deur sy vingers laat glip om die land ‘n modelstaat te maak maar “he just dont have it what it takes!”

Martie Smartie ·

Wes Kaap moet onthou hulle het slegs 150 stasies uit 1 154 landwyd. Die inwonertal is ook ‘n druppel in die emmer gemeet teen die totaal. So, daar is ander prioriteite ook. Swak bestuur en beplanning, lieg en korrupsie is deel vd ANC se beleid en vesel. So, Wes Kaap, almal ly daaronder. Relax en raak dit gewoond. Doen die metropolisie ding, dis al wat gaan help.

Harley Davidson ·

Die weskaap moet so gou moontlik ‘n referendum hou en afstig van Suid-Afrika.

Jack ·

Alles wat cele se of nog gaan se is leuens en is slegs daar om homself te beskerm. Hy is in eie reg n diktator en as sulks beteken hy niks vir my en jou nie. Hy moet vervang word soos verlede jaar al.

Yvonne ·

Die minister besit nie genoeg wysheid of insig vir die rol as minister nie….hoe jammer vir ons land dat dit net gaan oor kader ontplooiing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.