Cele se kop geëis oor misdaadstatistieke

Minister Bheki Cele. (Foto: GCIS)

Die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke wat polisieminister Bheki Cele vir die periode 1 April tot 30 Junie 2021 vrygestel het, is ʼn aanklag teen hom en die Suid-Afrikaanse Polisiediens, sê die Demokratiese Alliansie.

“Die minister het probeer om die getalle goed te praat deur te sê dit is só hoog en ‘onnatuurlik’ weens die afsonderingsperiode,” het Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, in ʼn verklaring gesê. “Die voorkoms van gewelddadige misdaad is egter steeds skokkend en abnormaal.

Maroela Media het vroeër berig die misdaadkoers het met 60,2% gestyg met altesaam 5 760 mense wat in dié periode oorlede is. Kontakmisdaad het met 60,6% toegeneem en roof met verswarende omstandighede met 92,2%.

Tydens die periode was daar 181 aanvalle op plase en kleinhoewes wat 15 mense se lewens geëis het. Daar was 47 meer aanvalle in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar.

“Die behoefte aan sigbare polisiëring in landelike gebiede is krities om die veiligheid van dié gemeenskappe te verseker,” het Whitfield bygevoeg.

Die DA bly besorg oor die hoë vlakke van seksuele misdaad en huishoudelike geweld wat steeds gemeenskappe teister – veral vroue en kinders. In die betrokke drie maande is meer as 10 000 mense verkrag. Altesaam 500 van die gevalle wat aangemeld is, word verbind met huishoudelike geweld.

“Elke keer wat die misdaadstatistieke vrygestel word, raak dit al hoe meer duidelik dat kwesbare gemeenskappe en groepe gebuk gaan onder afskuwelike geweldsmisdaad. Hulle is ook die grootste slagoffers van minister Cele en die SAPD se onbevoegdheid. Dit is tyd dat minister Cele aanspreeklikheid neem vir sy versuim om Suid-Afrikaners veilig te hou deur te bedank.”

Misdadigers besig om stryd teen polisie te wen

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die skokkende toename in die amptelike misdaadsyfers van Suid-Afrika is ʼn bewys dat die polisie teen ʼn vinnige tempo besig is om die stryd teen misdaad te verloor.

“Dit dien ook as bewys dat daar diepgaande probleme in die polisiemag is en dat die regering nie in staat is om dit reg te ruk nie.”

Groenewald sê geen minister van polisie kan in sy pos behou word met ʼn polisiemag wat die stryd teen misdaad verloor nie en dit is onverstaanbaar dat president Cyril Ramaphosa vir minister Bheki Cele in die pos behou het met die laaste kabinetskommeling.

Alle kontakmisdaad in die land het in die eerste kwartaal van die finansiële jaar met dubbelsyfers toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Moord het met 66,2% toegeneem en van begin April tot einde Junie is 5 760 mense vermoor. Dit is 2 295 meer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Ander kontakmisdaad buiten moord, wat insluit poging tot moord, seksuele oortredings en alle vorme van aanranding is op met 60,6%.

Daar was 76 936 voorvalle van aanranding terwyl verkragting toegeneem het met 72,4%.

Altesame 181 plaasaanvalle is opgeteken en 15 mense is in die aanvalle vermoor.

Transitorooftogte, wat met baie geweld gepaardgaan, het met 142,1% gestyg. Daar was 46 transitorooftogte – 27 meer as in dieselfde tydperk verlede jaar.

Die gevreesde trio-misdade soos gewapende roof, motorkaping en aanvalle in woonhuise het eweneens skerp gestyg met motorkapings wat met 92,2% toegeneem het.

“Minister Cele het hierdie syfers probeer afwater deur dit te vergelyk met die inperkingsperiodes van verlede jaar. Dit hou nie steek nie aangesien die polisie ʼn toename moes voorsien en daarvolgens moes beplan en optree. Met die onlangse onrus in die land het dit duidelik geblyk dat die land se intelligensiedienste nie op standaard is nie.”

Groenewald sê die jongste misdaadstatistiek dien ook as bewys dat die polisie se misdaadintelligensie nie meer in staat is om sy werk te doen nie.

“Minister Cele het vandag tydens die bekendmaking van die misdaadstatistiek aan ʼn joernalis erken dat geen nuwe rekrute die afgelope twee finansiële jare ingeneem is nie. Dit het ʼn tekort gelaat van 14 000 polisielede. Hieruit blyk dit duidelik dat gesoute en ervare polisielede die diens verlaat en nie vervang word nie. Die regering sal ernstig moet besin en ingrypende stappe doen om te keer dat Suid-Afrika tot ʼn misdaadparadys verval.”

5 760 moorde in drie maande waansinnig

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Deur die inperking te gebruik om die toename in misdaad te probeer verbloem lei niemand in Suid-Afrika om die bos nie, sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

Die minister van polisie het herhaaldelik beklemtoon dat die dubbelsyfer-styging nie ʼn ware weerspieëling van die toename van misdaad is nie omdat die Covid-19-pandemie die syfers skeef trek.

“Slim woorde verander nie die feit dat 5 760 mense in drie maande in Suid-Afrika vermoor is nie. Waar op aarde is dit aanvaarbaar dat 2,7 mense per uur doodgemaak word? Dit is waansinnig.”

Geldenhuys meen dit is verder uiters kommerwekkend dat die Suid-Afrikaanse polisie die afgelope twee jaar geen nuwe rekrute kon aanstel nie terwyl ervare lede op strepe aftree. Dit laat Suid-Afrikaners, en veral boere op afgeleë plase, baie kwesbaar in ʼn land waar misdaad seëvier.

“Dit is onaanvaarbaar dat die polisie se begroting besnoei word – en die res aan wanbesteding en korrupsie verloor word – terwyl misdaad een van die knelpunte in die land is. Dit is ook vir ons nie genoeg dat minister Cele sê die herstruktureringsprogram vorder goed nie. Kry effektiewe planne in plek, en gebruik die beskikbare fondse effektief om misdaad te bestry.”

TLU SA doen weer ʼn beroep op pres. Ramaphosa om die polisiedepartement van wanbestuur en korrupsie te suiwer deur (vir ʼn begin) van minister Cele ontslae te raak. Steun gerus TLU SA se veldtog hieroor by hierdie skakel: https://www.tlu.co.za/tsamaea-cele/

Cele blameer Covid-19

Argieffoto (Foto: Josh Hild/Pexels)

Ian Cameron, woordvoerder van Action Society, sê die toename van 72,4% in verkragtings is skokkend. “Altesaam 10 006 sake van verkragting is tussen April en Junie 2021 aangemeld. Dit is ʼn skokkende toename van 4 000 gevalle in vergelyking met dieselfde periode in die 2020/2021- finansiële jaar.”

Cameron sê die huidige DNS-agterstand van meer as 300 000 sake by die Nasionale Forensiese Wetenskapslaboratoriums (NFSL) beteken dat dié slagoffers waarskynlik drie jaar of langer sal moet wag om hul dag in die hof te kry. “Dit is as die saak nie in daardie periode van die rol geskrap word nie. Die polisieminister versaak weereens slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika.”

Cele het self kommentaar gelewer oor die onvermoë van sy departement en die Covid-19-pandemie as ʼn sondebok gebruik.

“Dit is nou meer as ooit nodig dat burgers wettig gewapen moet wees sodat hulle hulself kan beskerm omdat die SAPD duidelik nie hul plig teenoor Suid-Afrikaners nakom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Persheks Adri ·

Totaal en al onbevoeg! Om te dink hy wil ons ontwapen pffft julle kan en wil ons nie beskerm nie!

Ons sal self!!!

Persheks Adri ·

Ek mag nie ander woorde hier gebruik nie twaalfboor, maar ek dink jy van alle mense weet al hoe ons taalgebruik kan wees as dit by die mannetjie kom! Hy jaag my bloeddruk op en die woordeskat eish!

Werner ·

Ek sal met liefde die werk vat want ek sal dit 100% beter kan doen as hy.Dit was op e nuus dat hy nie eers weet wat sy hoof van intelegensie se naam is nie.Klink dit vir jou na n ou wat weet wat in sy werk aangaan.

Keith ·

Is daar enige goeie nuus in hierdie verlepte land van ons ?

Johan ·

Ja, die bejaarde boer wat die rower hierdie week doodgeskiet het.

Blikke ·

Onbevoeg….geen idee….n Kader…..Skop hom waar dit saak maak!!!!

DieKriek ·

Moenie hom afdank nie; netnou kom hy terug as adjunk-president. Soos daardie weermag tannie.

Blomme ·

Dis absoluut hartseer en kommerwekkend. Wat het geword van menseregte wat die ANC se wagwoord was? Klink dan nou asof misdaad die nuwe mode is en normaal geword het in SA. Ek dink die regering moet hul kop in skaamte laat sak. Hulle het die land se mense versaak. Uiter swak en dan ontvang hulle vet tjeks vir hul swakhede.

KB ·

Sjoe, jy sê dit so mooi. Mens kan hulle amper jammer kry…
Nee, alla wêreld, mooipraat is verby! Dis tyd vir reguit praat en aksie neem!

Werner ·

Al waar dit gaan gebeur is in jou drome.Hulle sal nie mag oorgee nie eerder oorlog maak

Niklaas ·

Hoedman is steeds in sy pos en dit sal lank wees voor die ANC se gunsteling, die publiek se afskeidswoorde “thanks for leaving” gaan aanhoor. Dalks nooit.

KB ·

Ek sê dit al lank.
(Hoe sleg moet jy wees as Zuma jou afdank?…en dan stel Ramaphosa jou as as minister aan?! Hoe sleg is die hele sous?!?!?)

Marthinus ·

Hoe kan iemand met ‘n onderwysdiploma minister van SAPD wees? Nogmaals kan SAPD lede hulself nie eens beskerm nie,dan word moordsake teen hulle oop gemaak.Waarvoor bestaan die SAPD dan……… kyk net hoe het hulle net gestaan en kyk in Kzn met plundery.

Corne123 ·

fire hom hy beteken niks die hele SAPD is n joke onder hom

Jackie ·

Afgesien daarvan dat Cele se kop moet rol, n drastiese rekruut program van stapel gestuur moet word, die polisie se begroting met 30% verhoog moet en die bbp (vip) se begroting halveer moet word, moet die Christen gemeenskap 1 Tim 2: 1-2 begin toepas. ……sodat ons n stil en rustige lewe kan lei…… is die gevolg van die stap.

Herman ·

Ja dis reg hy moet “get” maar sy opvolger sal net nog n onbevoegde, ongeletterde en korrupte staat amptenaar (nar) wees. evil circle goes on.

Nationalist ·

Van plundery tot plaasmoorde, onbevoegdheid tot korrupsie. SA is lamgelê deur magsbehepte geldwolwe. Wens daar was ń intenting teen die ANC.

Kobus ·

Sal die persoon wat duime af wys op al die kommentaar asseblief u opinie lug want u stem duidelik nie saam nie. Kom na vore en moenie net agter u duimpie skuil nie.Elkeen het ‘n reg op opinie en elkeen het die reg om te verskil of saam te stem. Cele is onbevoeg , die stats se dit. Hy kan soos al die ministers vertel wat fout is maar kan niks konstruktief doen nie

Zet ·

Ek wou nounet dieselfde ding sê. Mooigestel. Sal graag sy redenasie wil sien.

lodewyk ·

Onthou hy is een van die korupt ANC kamerade en sal in die pos bly tot die ANC/Rama uitgestem word anders nie sal ons moet registreer en reg stem,en die wat nie stem nie moet nie kla nie-Dus hoog tyd vir verandering!!!

Nie Verbaas ·

En wie vat sy plek? Almal in ANC is hopeloos en onbevoeg.

Stefaan ·

As enige iemand so onbevoeg is vir sy pos in enige besigheid sou hy lankal opstraat gesit het. ‘n Mens begin wonder of hy nie ‘n houvas op ramapose het nie.

Johanna ·

Cele moes laankal gegroet het. Natuurlik sal misdaad toeneem as daar geen DNA toetse gedoen kan word nie.
Maar nee, mense word aangestel wat nie eers hulle eie persoonlike budgets kan bestuur nie. Ministers wat nie opdaag by Kabinet-sittings nie het geen Bestuur kundigheid, TydsBestuur Organiesasie, Verantwoordelikheid, Produktiwiteit en Insig nie. Maar hulle ploeter voort.
Hulle stel wragtig weer n Speaker aan met n Rekord.
Cels moet eintlik toegssluit word vir al die wapens wat sl verdwyn het en die DNA toetse waarvan die rekening nie betaal is NIE. Erken dit maar:… die SUID AFRIKAANSE POLISIE DIENS HET IN DUIE GESTORT net soos SAL ESKOM, TRANPORT METRORAIL, POSKANTOOR DENEL en 95% van alle Minisipaliteite. Hospitale word nie elke jaar instant gehou nie. 26 jaar later en skole het steeds nie Basiese water, toilet geriewe nie. Blame Jan vsn Riebeek daarvoor.

Johann ·

Ja shure. Ramaposa gaan onyslae raak van sy standloperkie….ter wille van politiek en sy aanhang in KZN gaan hy eenvoudig voortstoom met sy bloedbevlekte hande om die land te de stabiliseer. GEEN aanapreeklikheid.

Dirk Mostert ·

Vir wat enige statistiek in die getransformeerde S.A. werd is. Maar gee die man krediet vir die duisende inhegtenisnemings van ongemaskerdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.