Cele sê oor ‘liggaam’ naby Madikizela-Mandela-woning

Genl. Bheki Cele, minister van polisie (Foto: ANA)

Bheki Cele, minister van polisie, het Saterdagaand ontken dat daar dié naweek ʼn liggaam naby aan die Johannesburgse huis van die ontslape Winnie Madikizela-Mandela aangetref is.

Dit kom nadat Nonkululeko Phokane, Cele se woordvoerder, Saterdag ʼn mediaverklaring aan die media gestuur het wat onder meer aangedui het dat Cele Saterdagaand duidelikheid sal gee oor ʼn liggaam wat ʼn paar strate weg van Madikizela-Mandela se woning aangetref is.

Lede van die veteranevereniging Umkhonto weSizwe het Saterdag – as deel van ʼn jare lange tradisie – na bewering tydens ʼn begrafnis van een van hul lede skote afgevuur om die lewe van dié lid te vier. Die skote word in die lug afgevuur en bespiegelinge het bestaan dat ʼn dwaalkoeël ʼn persoon moontlik kon getref en noodlottig beseer het.

Cele het ontken dat ʼn liggaam naby aan Madikizela-Mandela se huis aangetref is en gesê volgens sy kennis is niemand as gevolg van die skietery van die oudlede van Umkhonto weSizwe dood nie. “Niemand is geskiet nie, niemand is beseer nie en niemand is dood nie,” het hy gesê.

Die regerende party het voorheen beslis dat veterane nié meer skote mag afvuur tydens begrafnisdienste nie – selfs al is dit ook ʼn tradisie wat al jare lank voortduur. “Die ANC het beslis dat hierdie tipe tradisies nie meer by begrafnisse uitgevoer mag word nie,” het hy gesê. “Dis onwettig om ʼn wapen af te vuur in ʼn omgewing waar mense is en ons is besig om hieraan te werk.”

Madikizela-Mandela, ANC-struggleveteraan en eksvrou van oudpres. Nelson Mandela, het verlede week in die ouderdom van 81 gesterf. Sy is in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HPV ·

Sou witmense die skote afgevuur het was hulle summier in hegtenis geneem sonder moontlikheid van borg, beslaglegging van hul vuurwapens en permanente opskorting van hul vuurwapenlisensies. Hulle sou ook onder die dubbelstandaard wette van die regime aangelka word en waarskynlik lewenslank gekry het. Maar vir sekere mense is dit toelaatbaar want dit is tradisie!

Reguit ·

Vir enige ander rede as self beskerming, is dit onwettig om ‘n vuurwapen in ‘n bewoonde gebied af te vuur. As “sekeres” dan “gemagtig” is om koeëls in die lug in te jaag tydens “verrigtinge”, dan sou enige iemand ook op Nuwe Jaar sommer sommer skote in die lug kon skiet as deel van “verrigtinge”. Dis belaglik.

Gerrit ·

Alles diskriminasie , die minister hoef nie elke misdaad toneel persoonlik te besoek nie hy moet die probleme aanspreek soos die ongeletterdheid,korrupsie,misdaad betrokenheid onder polisie lede , die onbevoegdheid van lede op stasie vlak , nou jaag hy rond tussen misdaad tonele met sy 10 kar sterk begeleiding soos idi amin vroeër jare en niks verbeter nie

L ·

“Hulle werk nog daaraan”? Dis n wet, wat wil hulle aan werk? Hoe maak jy n ongehoorsame n gehoorsame?! Kon hulle al ooit die wet gehoorsaam of soos die minister se: sal maak soos hulle wil….

Magda ·

“…en ons is besig om hieraan te werk…” REGTIG???? DIt mag nie gebeur nie maar julle “werk” daaraan om dit nie te laat gebeur nie? Wat de hel? Mens mag nie eers meer vuurwerke afvuur in ‘n woongebied nie wat nog te sê van ‘n vuurwapen?? Maar ja weereens die ANC en hul kaders wat wegkom met ‘n verskoning soos “…ons werk daaraan…”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.