Cele, Sitole het albei ‘bloed aan hul hande’

Die stryd tussen die minister van polisie en polisiekommissaris word al hoe feller. (Argieffoto’s)

Die twis tussen die minister van polisie, Bheki Cele, en die polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, word al hoe feller en die bittere stryd tussen die twee word toenemend in die openbare oog gevoer. Terwyl die twee honde oor ʼn been baklei, gedy misdaad en is die magte wat Suid-Afrikaners moet beskerm, verdeeld.

In die jongste aanduiding dat die messe behoorlik uit is tussen die land se twee polisieleiers, het Cele die kommissaris vandeesweek daarvan beskuldig dat hy met die leier van die EFF, Julius Malema, saamgesweer het om hom uit die kussings te lig. Sitole het teruggekap en sê hy het met skok en onthutsing verneem van die minister se uitlatings tydens sy spreekbeurt in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. Hy het aangevoer die ontmoeting met Malema is deur die polisie geïnisieer en spesifiek in opdrag van Cassel Mathale, adjunkminister van polisie.

Cele is later aangesê om sy opmerking oor Sitole en Malema terug te trek.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die minister moes terugkrabbel en verskoning vra. “Dit skep die indruk dat nie alles wat hy sê, heeltemal korrek is nie. Dis amper vir my ʼn bewys dat Cele goed fabriseer teen die kommissaris – en die gevolg daarvan is nadelig vir my en jou as gewone burgers.”

Groenewald sê terwyl Cele en Sitole mekaar probeer bykom, kan misdaad nie doeltreffend bestry word nie. “Omdat daar ʼn stryd tussen hulle is, is die polisie se topbestuur verdeel. Sommige is aan die kant van die minister en ander aan die kant van die kommissaris. Almal is nou agterdogtig.

“Daar is ʼn lae moraal in die polisie want diegene ter ondersteuning van een, dra weer stories oor die ander een aan. Dit is ʼn onhoudbare situasie,” sê Groenewald.

Albei ongeskik vir pos

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, luister aandagtig na die polisieminister Bheki Cele. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die drukgroep Action Society meen ook daar moet heelwat krieweling in die toprange van die polisie wees. “Dit behoort geen verrassing te wees nie, omdat Cele en Sitole albei heeltemal in hul taak misluk het,” sê Ian Cameron, woordvoerder van die organisasie.

Sitole se vyfjaartermyn as polisiehoof verstryk in November vanjaar. Hy moes vroeër redes aanvoer waarom Ramaphosa hom nie moet skors weens beweerde wangedrag terwyl sy geskiktheid vir die pos ondersoek word nie.

Groenewald meen egter Ramaphosa gaan op sy hande sit tot dié termyn verstryk. Van Cele kon die president egter al lankal ontslae geraak het. “Daar is meer as genoeg redes om hom af te dank. Wat onmiddellik behoort te gebeur, is om die minister te vervang en as daar klinkklare bewyse teen Sitole is, moet hy ook gaan.”

Cameron meen Sitole en Cele se koppe moet saam rol. “Sitole en Cele is albei al betrek by korrupsieskandale en moes nooit toegelaat om ʼn openbare amp te beklee nie.”

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, stem saam. “Albei het deurlopend versuim om te verseker die polisie is ʼn professionele instelling vir diegene wat onder hulle werk.

“Wanneer die twee mees senior mense in die polisie baklei soos hulle dit doen – in die openbaar –verregaande bewerings maak en nie saamwerk nie, stuur dit die polisie in ʼn draaiduik.

Polisiebeamptes volg die bevelsorde, maar as daar verwarring is oor aan wie hulle rapporteer, lei dit tot wanorde en lae moraal.

Cele wil ‘alfa en omega’ wees

Bheki Cele, toe hy nog nasionale polisiehoof was. (Foto: GCIS)

Cele kon boonop nooit die polisiekommissaris-rol wat hy vantevore beklee het, afskud nie en Whitfield sê die minister dink skynbaar hy is steeds polisiehoof ook.

Groenewald stem saam dat Cele, ʼn voormalige polisiekommissaris wat onder ʼn wolk van omstredenheid uit dié pos verwyder is, beide rolle wil vervul en sy wil probeer afdwing. “Ek sê nie die kommissaris het geen foute nie, maar hy is darem ʼn man met 35 jaar polisie-ervaring en het deur die range gekom.

“Cele was nooit ʼn polisieman voor hy kommissaris geword het nie en dit was een van die redes waarom die polisie so agteruitgegaan het. Die minister wil nou alles doen en dit is waarom daar botsings is.”

Nog ʼn polisiekenner, wat gevra het dat sy naam weens praktiese redes nie gebruik word nie, sê Cele “hou hom voor as die alfa en omega van die polisie”.

Die minister verwys na homself as “generaal”, terwyl hy allermins dít is en oneervol uit die polisie ontslaan is en enige rang wat hy sou gehad het, verloor het, sê dié kenner.

Ek dink hulle is twee opponerende, polities gedrewe mense wat elk sy eie agenda najaag. Nie een van hulle stel belang in die behoeftes van die publiek of om misdaad te bekamp nie. Dit gaan oor poste en mag.

“Albei moet vervang word.”

Daar is verskeie maniere om slimmer te polisieer, maar “niks van wat hier aan die gang is, is slim nie”, sê hy.

“Eintlik het hulle bloed aan hul hande. Albei van hulle. Almal is slagoffers van hulle onderlangse beheptheid met mag.”

Whitfield meen Ramaphosa gaan “kant kies” en moontlik een van die twee in die pad steek. Dit kan ook ʼn aanduiding gee van waar hy in die stryd staan.

Hy sê daar is ook geen waarborg dat indien Sitole die trekpas kry, Cele nie die volgende polisiehoof op dieselfde manier gaan probeer ondermyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Jy weet nie watter een van die twee is die domste nie…..dumb and dumber!

Wondermaarnet

Die hele lot kaders het bloed aan hul hande. Ramaphose die meeste. Gee amnestie aan verkragters en moordenaars wat dae na vrylating weer verkrag en gemoor het!

Hannes

Dis n kwessie van The blind leading the blind. Albei is pateties!!!!

Sarel

Dit byk weer herhaling van destyds tussen
Mbheki en Msimang sy Dr. Van Gesondheid.
Die persone is duidelik nie geskik om.hulle werk te doen nie maar die Staatshoof tree nie op nie.
Selfde met mense soos Sisulu…Mbalula
en Mthetwa…

Andre

Steek altwee in die pad, hulle is ewe useless.