‘Cele stel politiek bo plig’ – VF Plus, TLU SA

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Die VF Plus en TLU SA sê die minister van polisie, Bheki Cele, se teenstand teen oudpres. Jacob Zuma se inhegtenisneming en die gebeure by Nkandla is weer eens ʼn teken van magsmisbruik en ʼn voorbeeld van onbevoegdheid van die polisie.

Die VF Plus het hul misnoeë uitgespreek oor Cele, en nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, wat gesê het hulle gaan enige optrede om oudpres. Jacob Zuma in hegtenis te neem, staak tot sy aansoeke daaroor afgehandel is, of tot ʼn direkte opdrag van die waarnemende hoofregter daaroor gegee word.

Hulle het Dinsdag die Konstitusionele Hof skriftelik hiervan in kennis gestel.

Zuma se aansoek om sy inhegtenisneming tersyde te laat stel, is Dinsdagoggend in die Pietermaritzburgse hooggeregshof aangehoor nadat hy vroeër skuldig bevind is aan minagting van die hof en tronkstraf van 15 maande opgelê is.

Maroela Media het vroeër berig die land se hoogste hof het Zuma Woensdag die vonnis opgelê en beveel dat hy binne vyf dae aanmeld om sy vonnis te begin uitdien. Sou hy versuim om dit te doen, het die hof gelas dat die polisie die oudpresident binne drie dae in hegtenis moet neem.

Zuma het daarna die aansoek by die hooggeregshof ingedien.

Met dié aansoek vra hy die hof om sy inhegtenisneming op te skort tot die Konstitusionele Hof, wat die oorspronklike vonnis opgelê het, uitspraak lewer oor sy aansoek om die besluit te herroep. Dié aansoek word volgende week aangehoor.

“Cele moet ophou om verskonings uit te dink en sy werk doen om toe te sien dat oudpresident Jacob Zuma in hegtenis geneem word. Zuma is nie verhewe bo die reg dat hy kan aandring op spesiale behandeling nie,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

“Cele se optrede is net nóg ’n voorbeeld van hoe hy versuim om sy plig uit te voer,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “As hy nie besig is om die vuurwapen- of DNS-stelsels van die land inmekaar te laat tuimel, of by die een of ander omstrede korrupsie betrokke is nie, laat hy misdadigers toe om hofbevele te verontagsaam.”

TLU SA het in Maart reeds ’n veldtog van stapel gestuur om Cele se kop te laat rol. Volgens Geldenhuys is dit veral boere en mense op die platteland wat direk geraak word deur Cele se wanbestuur van die polisie omdat hulle kwesbare teikens is.

“Cele is natuurlik nog nie die meester van korrupsie, wanbestuur en selfvoldaanheid nie. Dié titel behoort aan Jacob Zuma… Al wat ons wil sê, is dat ons hoop mense weet hy speel weereens vir tyd, maar dat ons hoop hy word vir eens vir sy laakbare gedrag gestraf.”

Nkandla

Volgens Groenewald dui die polisie se onvermoë om die afgelope naweek by Nkandla skarebeheer toe te pas, ook op die onbevoegdheid van die polisie en gebrekkige opleiding wat skarebeheer aanbetref.

Groot skare mense het die afgelope naweek na Nkandla opgeruk om hul steun aan oudpres. Jacob Zuma toe te sê. Die mense was gewapen en skote is selfs in die lug geskiet in ʼn poging “om die polisie uit te lok”. Volgens Cele was daar baie vroue en kinders en die polisie moes ʼn tree terugstaan.

Die skare het ook nie maskers gedra nie en geen sosiale afstande is gehandhaaf nie. Dit benewens die feit dat byeenkomste ingevolge die vlak 4-afsonderingsregulasies boonop ook verbied word.

“Indien die polisielede wel behoorlike opleiding in dié verband gehad het, sou hulle geweet het hoe om die situasie korrek te hanteer en sou mense in hegtenis geneem gewees het vir die verbreking van Covid-19-veiligheidsmaatreëls,” sê Groenewald.

Cele het egter die polisiebeamptes geloof vir die manier waarop hulle die situasie hanteer het.

Die VF Plus sê Cele is egter besig om mense te mislei oor die selektiewe optrede van die polisie.

“Minister Cele maak homself daaraan skuldig om die indruk te wek dat politiek ’n groot rol in die optrede van die polisie speel. Met optogte van die EFF, die ANC of soos nou by Nkandla, soek hy verskonings om nie op te tree nie. Dit skep die indruk by die publiek dat hy polities gedienstig is en op dié gronde besluit oor optrede.

“Hierteenoor is verskeie voorbeelde van optrede en die inhegtenisneming van enkele persone soos mense op strande wat nie hul maskers gedra het nie.”

Groenewald sê die hele aangeleentheid ondermyn die strafregstelsel in Suid-Afrika en die VF Plus se standpunt is dat die organiseerders van hierdie byeenkomste in hegtenis geneem moet word, selfs al is dit ná die optog.

“Die polisie behoort deur sy intelligensievermoë en kameras op die toneel van optogte goed te weet wie die organiseerders is. Dié mense moet in hegtenis geneem en aangekla word. Dit sal ’n duidelike boodskap stuur dat inperkingsmaatreëls nie sonder meer tydens optogte verontagsaam kan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Tanniepetoors ·

Cele en Sitole skep ‘n situasie wat hulle nie sal kan beheer sonder bloedvergieting nie.

Werner ·

Die dae wat politiek en n gestemmery die probleme in die land kon oplos is laaaaankal verby.Die regering weet nie wat demokrasie beteken nie.Hulle hoop vir anargie en burgeroorlog voor daar weer n verkiesing is.

Pieter ·

Dit is hoe die anc kommuniste en terroriste werk. Wat het tlu en die vf gedink ons gaan nooit ooit wakker skrik nie.

Persheks Adri ·

Te verdomp slap in die broek om sy werk te doen en beslis bang! Maak my verdomp naar die klomp waaragtig. Hulle kan net sowel nie bestaan nie useless

Michael ·

Die howe-insluitende die konstitusionele hof- en polisie is in diens van die ANC-wat moet hulle nog doen vir mense om dit raak te sien, Zuma sal nooit die binnekant van ‘n tronk sien nie-dis tog duidelik

Anton J ·

Cele hulle is lekker bang vir Zuma nê of is daar ‘n slang in die gras wat Zondo dalk so bietjie kan ondersoek. Lol

Elinette ·

As Zuma val, val daar baie ANC grootkoppe en ringkoppe saam met hom … dís waarvoor hulle bang is. Onthou, hy was hoof van die ANC se intelligensiediens voorheen … hy weet beslis ‘n hele paar geheime van die grootkoppe en kan ‘n hele paar geraamtes uit hul kaste laat tuimel ….

fransdutoit3 ·

Beide die minister en kommissaris ondermyn die grondwet en behoort aangekla te word vir minagting van die hof asook dwarsboming van die gereg.. Kom ons kyk watter politieke party of ander organisasies toon die moed van almal se oortuiging deur hierdie klagtes te lê.. Ek twyfel of daar enige sal wees..

Kobus ·

Eerste geval van muitery? Wat gaan onse slapryg president Ramp doen? Hy het nou al oor en oor bewys dat hy die howe gebruik / misbruik om namens hom besluite te neem.Nou is die besluite geneem duer die howe , maar CR is doodstil.Sy party stel SA in die verleentheid , maar hy se niks.Nou is me Duarte baie spraaksaam, maar ‘n tyd gelede het sy ook onder regter Zondo ingeklim. Wonder wat haar getref het.

Stoffeltjie ·

Hoe kan hierdie swaap nog enigsens geduld word? Hy kan vrouens op strande molesteer met sy teenwoordigheid, maar kan nie die SAPD of kriminele beheer nie. Dis die mees onbevoegste gees in een van die belangrikste poste.

Oom Kaspaas ·

Dis wat gebeur as Ace en Zuma belowe hulle bring almal se geheime op die lappe as hulle toegesluit word … dan wil niemand aan hulle vat nie. Daar moet dalk bietjie in Cele se kas rond gekrap word, daar kom net dalk ietsie uit wat ordentlik lig op die hele hande was in onskuld oefening

Elinette ·

Gaan kyk maar wat van die korrupsie-aantygings in 2011 geword het, waarvoor hy uit sy pos as Nasionale Polisie Kommissaris geskors was. G’n haan het weer daarna gekraai nie.

Francois ·

Die groot probleem in ons land is dat hierdie mense, van die ANC president tot kruiwa-stoter, te bang is om die verantwoordelikheid te neem en self ‘n besluit te maak want hulle is bang dit lyk nie goed as dit nie die populêre besluit is nie…. Dit is regtig vir my of hulle nog nie geleer het om as individu te besluit wat is reg en wat nie – daarom “pass hulle die ball” na die volgende persoon net om ontslae te raak van die warm patat. Ek doen argitekswerk en selfs by stadsraad met goedkeuring van planne kan die persoon wie se werk dit eintlik is, nie self dadelik n besluit neem oor toepassing van sommige regulasies sonder om eers dae te vat om by ander te hoor wat hulle dink nie….

Elinette ·

Het die polisie dan “intelligensie”-vermoë? Ek verwys hier na beriggewing, die laaste paragraaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.