Cele versoek glo verlenging van amnestietydperk

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Donderdagmiddag aan AfriForum bevestig dat Bheki Cele, minister van polisie, die parlement genader het oor die moontlike verlenging van die vuurwapenamnestietydperk.

Dit volg nadat AfriForum Donderdagoggend ʼn skrywe aan Cele gerig en versoek het dat die amnestietydperk verleng moet word. Brig. Lawrence Nkgweng, nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse leër, sê Cele het dié versoek aan die speaker van die Nasionale Vergadering met die nodige dokumentasie gerig.

Nkgweng het aan AfriForum bevestig dat Cele nou wag op sowel die portefeuljekomitee van polisie as die gekose komitee oor sekuriteit en justisie vir ʼn antwoord. Die versoek moet eers deur dié twee onderskeie komitees goedgekeur word voordat dit na die Nasionale Raad van Provinsies en uiteindelik die Nasionale Vergadering vir goedkeuring verwys kan word.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het gesê dié terugvoer van die polisie af is ’n welkome toedrag van sake vir vuurwapeneienaars wat graag van die amnestieperiode gebruik wil maak.

“AfriForum word oorval met oproepe in dié verband. Dit was een van die redes waarom toenemende druk op Cele geplaas is,” sê Kamfer,

Maroela Media het vroeër berig AfriForum het Cele Woensdag gepols oor ’n moontlike verlenging van die amnestieperiode, nadat die organisasie in skrywes op 25 en 30 Maart 2020 uitgelig het dat vuurwapeneienaars wat van die amnestieperiode gebruik wil maak moontlik deur die afsonderingstydperk verhinder word.

Die amnestietydperk wat op 1 Desember begin het, strek tans tot 31 Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
christo

Bheki Cele misbruik sy mag. Onder daai hoed is ‘n leë skedel. Hoekom ondersoek hy nie die BEWEERDE betrokkenheid van sy kollega Nkosazana Dlamini-Zuma se verbintenis met die onwettige sigaret smokkel ‘ kingpins ‘.
Ramaphosa is ‘n bangbroek en kan nie sy man staan teen sy ministers.