Cele-video is vals nuus, sê SAPD

Skermgreep uit die video

ʼn Video wat op sosiale media versprei word van polisieminister Bheki Cele by ‘n partytjie, is nie op Oujaarsaand in 2020 geneem nie, het die ministerie van polisie gesê.

Die video wys Cele by ʼn geleentheid, sonder ʼn masker en waar sosiale distansiëring nie toegepas word nie, soos vereis word tydens die Covid-19-pandemie.

“Bheki Cele geniet Nuwejaars met al die sosiale distansiëring” het ʼn sosialemediagebruiker op Twitter gesê via ʼn groep genaamd “Sick of Corruption & Racism”. “Afsonderingsreëls geld slegs vir plebs, Covid raak nie wetmakers nie. Covid gee ons politici ʼn zero-infeksie-permit, eish.”

Die ministerie van polisie ontken egter dat die video op 31 Desember 2020 verfilm is. “Die video is in 2017 geneem en nie op #NewYearsEve2020 onder die gewysigde vlak 3-afsonderingsregulasies, soos sommige sosialemediagebruikers beweer nie,” het die SAPD op Twitter gesê.

ʼn Petisie is ook intussen op die webwerf change.org deur ʼn privaat persoon begin waar versoek word dat Cele as die minister van polisie afgedank moet word. “Hy misbruik herhaaldelik sy mag. Hy het geen agting vir die wet nie,” lui die beskrywing. Sowat 3 300 persone het reeds die petisie onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.