Cele weer na Vrystaat oor veiligheid op plase

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die minister van polisie, Bheki Cele, sal Donderdag weer in die Vrystaat wees waar hy sal terugvoer gee oor vordering met landelike veiligheidskwessies.

Die vergadering word in Bethlehem gehou.

Cele het die streek aanvanklik ná die moord op Brendin Horner (21) besoek. Die jong man is verlede maand wreed op ʼn plaas in die Paul Roux-omgewing vermoor. Cele en die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, het ook Horner se gesin besoek.

Die ministers het terselfdertyd die boerderygemeenskap van Senekal ontmoet om te luister na misdaadverwante probleme.

Senekal was die afgelope ruk in die nuus – nie net oor die wrede moord op Horner en die opstand wat tydens sy vermeende aanvallers se hofverskyning gevolg het nie – maar ook weens die polisie se beweerde onbevoegdheid om veediefstal te ondersoek, oor korrupsie en swak dienslewering, asook weens die gebrek aan ʼn behoorlike werksverhouding tussen die gemeenskap en die polisie, het Cele se kantoor gesê.

Daar word nou onderneem om ondersoek in te stel na saakdossiere wat as onopgelos afgesluit is of in die eerste plek nie behoorlik ondersoek is nie. Cele sal ook terugvoer gee oor misdaad in die algemeen en inwoners van die streek sal die geleentheid kry om enige nuwe bekommernisse te opper.

Verskeie nasionale en provinsiale polisieoffisiere sal die minister op sy besoek vergesel.

Die burgerregtegroep AfriForum het intussen gesê plaasmoorde geniet steeds nie die nodige aandag nie, ten spyte daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa en Cele die land daaroor probeer gerusstel het.

AfriForum het gereageer ná die aanval op Pieter Hills (56) en sy seun Eddie (26) op hulle plaas buite Hennenman in die Vrystaat. Pieter is op teregstellingswyse doodgeskiet en Eddie is in die nek geskiet nadat hy glo op die aanval afgekom het. Hy is sedertdien breindood verklaar.

Die organisasie het die jongste voorval ten sterkste veroordeel.

“Die werklikheid is dat die regering oor geen teenstrategie beskik om plaasmoorde te verhoed nie,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Hy sê die regering se landelike veiligheidsplan word nie uitgevoer nie en bevat nie ʼn gefokusde strategie teen plaasmoorde nie.

“As die regering ernstig was oor plaasmoorde sou hy toesien dat ’n holistiese plan – wat nie bloot opmerkings maak oor hoe verdagtes gearresteer moet word nie, maar wat daarop toegespits is om te verhoed dat hierdie moorde in die eerste plek plaasvind – opgestel en uitgevoer word.

“Dié plan behoort meer gereelde navorsing oor plaasmoorde in te sluit, asook ’n holistiese benadering tot die krisis en die strategie om dit te beveg eerder as om dit bloot aan plaaslike polisiestasies oor te laat; dit vereis daadwerklike samewerking tussen die polisie en die burgerlike samelewing, dat politici wat geweld teen boere verromantiseer tot verantwoording geroep word en dat spesialiseenhede betrek word,” sê Roets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Connie ·

Cele moet uit, hy gee niks om oor plaasmoorde nie. Gee net voor om te dink hy maak ons sag hahahaha

Pieter ·

Dis baie waar wat jy sê, maar die hartseer ding is dat hy steeds meer doen en erken as “our people” se president

domheks ·

Die land is in ‘n toestand, want CR en cele is hand om die blaas met eff narre! Hoekom word niks gedoen aan die narre nie? Hulle kan maak en breek soos hulle wil, daarna hoor jy NIKS van die regering af nie?????

Dup ·

Die Minister het seker al heelwat “frequent flier” punte opgestapel soos wat hy die land platry en rondvlieg.Het hy nie n adjunk minister of bekwame senior mense wie hierdie take kan verrig nie? Sy plig is om toe te sien dat alle voorstelle en planne op parlementêre vlak ondersoek en deurgevoer word.Geen wonder die aanvalle op boere gaan onverpoosd voort nie.

Persheks Adri ·

Ag Cele bly by jou huis! Jy soek meer mag regtig? Ons boere sal self dinge in eie hande neem, want om vir jou en JOU president te wag gaan niks help nie pffft! Julle verlekker julle oor die brutale moorde

Werner ·

En net soos die vorige kere sal daar niks gebeur nie.Seker weer net Vrystaat landnou wat opgewonde sal raak.

Adam Adriaan ·

Ek dink die knaap moet vir hom ‘n baai kostuum gaan koop, met sambreel en vir sowat ‘n maand strand toe gaan en kyk of die gemors wat hy besig is om aan te jaag nie sal verbeter nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.