Cell C-banier bly hang

Die Cell C-banier soos dit oorspronklik gelyk het voordat iemand die banier geskend het. Foto: Twitter

Die Cell C-banier soos dit oorspronklik gelyk het voordat iemand die banier geskend het. Foto: Twitter

Die Johannesburgse hooggeregshof het Donderdag ʼn dringende aansoek van Cell C teen ʼn banier, wat dienslewering by een van die maatskappy se takke kritiseer, met koste van die hand gewys.

“Dit is nie ʼn dringende aansoek nie,” het regter Sharise Weiner, gesê. Sy het ook bevind dat die kliënt die maatskappy in kennis gestel het van sy voorneme om die banier op te rig indien sy klagtes nie aangespreek word nie.

ʼn Ontstoke kliënt, George Prokas, het die banier op 6 November buite die WorldWear-winkelsentrum in Beyers Nauderylaan opgerig. Die banier is professioneel laat druk en word prominent vertoon. Die teks op die banier lui: “Die mees nuttelose diensverskaffer in SA – Cell C Sandton City. Cell C se Riaan van Rooyen, ‘franchisebestuurder’ 084-XXX-XXXX sê sy naamlose ‘uitvoerende hoof’ weier om die kliënt by te staan!!”

Die takbestuurder voer aan die bewerings is lasterlik, maar Weiner het beslis dat die bewerings in Prokas se mening die waarheid is. Sy het gesê kritiek word beskerm indien dit as regverdige kommentaar beskou kan word.

Die dispuut handel oor ʼn telefoon wat Prokas in 2013 by Cell C vir sy seun aangeskaf het. Die selfoonnommer het egter aan iemand anders behoort en dié persoon het die rekening tot R5 000 laat oploop. Prokas het in Oktober 2013 die stoporder gekanselleer. Toe hy egter aan die begin van 2014 ʼn motor wou koop, het hy ontdek dat hy, as gevolg van die uitstaande R5 000, op die swartlys geplaas is. Hy het Cell C versoek om die rekening te kanselleer en sy naam teen die einde van Oktober 2014 van die swartlys te verwyder. Die situasie het egter onveranderd gebly en Prokas het in verskeie e-posse aan Cell C gewaarsku dat hy dié banier gaan oprig indien sy klagtes nie aangespreek word nie.

Die banier is intussen oor die naweek geskend en lui nou soos volg: “Die mees bruikbare diensverskaffer in SA soos ervaar via Cell C Sandton City. Ons is lief vir Cell C.” Dit is nie duidelik wie vir die skending verantwoordelik is nie. Prokas het alle betrokkenheid ontken.

Lees alle vorige berigte wat met die Cell C-banier verband hou, op Maroela Media.

Só lyk die Cell C-banier nadat dit geskend is. Foto: Twitter

Só lyk die Cell C-banier nadat dit geskend is. Foto: Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Ek is bly vir die klient se part. Hoogtyd dat iemand iets doen omtrent die power diens van Cell C. Eendag het iemand op fb gekla oor cell c en ek koni glo waste negatiewe kritiek deur kliente gelewer is nie. Dit is ‘n feit dat cell c nooit opvangs het nie en regtig nie op standaard is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.