Cell C-banier kos man meer as R60 000

cell cDie banier wat na Cell C verwys as die mees nuttelose diensverskaffer in Suid-Afrika is lasterlik tot op die punt dat dit onregmatig is, het die hooggeregshof in Johannesburg Woensdag gehoor.

Christopher Whittcuut, Cell C se regsverteenwoordiger, het aangevoer die banier is ʼn lasterlike stelling en onbeskaamd so. George Prokas het die banier Vrydag by die WorldWear-winkelsentrum op die hoek van Beyers Nauderylaan en Wilsonstraat in Fairland laat oprig.

Die banier het gelui: “Die mees nuttelose diensverskaffer in SA – Cell C Sandton City. Cell C se Riaan van Rooyen, ‘franchisebestuurder’ 084-XXX-XXXX sê sy naamlose ‘uitvoerende hoof’ weier om die kliënt by te staan!!”.

Die hof het gehoor dat daar in 2013 ʼn dispuut tussen Prokas en Cell C ontstaan het nadat hy ʼn selfoonkontrak vir sy seun uitgeneem het. Die foon se toegekende nommer het egter aan ʼn ander persoon behoort en is deur die persoon gebruik. Dié persoon het ʼn rekening van nagenoeg R5 000 gehad. Prokas het die stoporder vir die foon in Oktober verlede jaar gekanselleer.

Prokas het vroeg in 2014 ʼn motor probeer koop waarna hy verneem dat hy as ʼn slegte skuldenaar gelys is weens die R5 000 wat nie betaal is nie. Hy het Cell C genader om die situasie te probeer oplos maar teen einde Oktober was daar nog geen vordering nie.

Prokas het e-posse aan Cell C gestuur waarin hy aangedui het dat hy die banier gaan oprig indien sy klagtes nie hanteer word nie. Prokas het R61 200 betaal om die banier te laat maak en op te rig.

Die banier is oor die naweek geskend en lui nou: “Die mees bruikbare diensverskaffer in SA soos ervaar via Cell C Sandton City. Ons is lief vir Cell C.” Prokas het ontken dat hy die banier geskend het.

Whittcutt het gesê hoewel die banier se bewoording verander is, dit steeds daar hang. “Hy wil dit weer opsit soos wat dit oorspronklik was, sonder mnr Van Rooyen [die franchisebestuurder] se besonderhede. Indien die interdik nie toegestaan word nie, is dit presies wat hy gaan doen.”

Uitspraak word na verwagting Donderdag gelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SNEL ·

Pleks Cell C eerder die man se probleem oplos en dan n nuusberig laat plaas of op enige TV program kom om te bevestig wat hul fout was en hoe hul dit herstel het, nou gee hulle die man net nog meer wind van voor, oor die banier. Duidelik sou hulle nie na hom geluister het as hy nie sulke drastiese stappe geneem het nie, nou eweskielik is hulle meer bekommerd oor hul naan en die advertensie op die banier. Hoe hulle die situasie hanteer, sal my beslis nie gretig maak om n kliënt van hulle te word nie, in teendeel, ek bly so ver weg van Cell C as moontlik, nie oor probleme opduik nie, maar hoe hulle die situasie hanteer. Van so firma wil ek nie deel wees nie. Die man het gevra en gesoebat dat sy probleem oogelos word, dis al hoe hy hul aandag kon kry deur die banier. Ek is ook seker hy moet hul kan dagvaar omdat sy naam deur die modder gesleep is oor slegte skuld, wat nie eers sy fout was nie. So ding is n klat op mens se naam. Dis skandelik dat dit is hoe hulle kliënte wat hulle ondersteun se probleme oplos en nou n groter bohaai oor n banier maak as oor hul groot fout; om n kliënt te los met probleme vir maande en maande. Ek hoop baie mense kanselleer hulle kontrakte by Cell C as hulle die ou gaan dagvaar of nog geld uit hom uit wil maak of as hulle hierdie kliënt laat sleg lyk.

Jakes ·

Dons hulle op! Ek het met ñ soortgelyke probleem gesit so ñ jaar of drie terug. Autopage het week na week my klagtes bloot geignoreer, maar toe ek na twee maande van sukkel die foon vir hulle terugvat en sê jammer maar julle kom nie julle kant van die ooreenkoms na nie, swartlys hulle my!

Ghost ·

Jakes, hulle kan maklik mens se naam swartlys wat so onregverdig is, maar sodra jy wil stappe vat omdat hulle diens treurig is, dan kan hulle vinning met hof dreigemente kom omdat jy hulle naam beswader. Nou wat is die verskil as hulle jou naam onregmatig swartlys.
Hulle sal eerder der duisende rand in die hof spandeer om n saak te betwis as om die klient se saak op te los wat eintlik hulle fout is. Regtig pateties. Sal nie Cell C ooit gebruik om aan beveel nie.

Anita ·

Swak Cell C swak!

Ek sal almal afraai om met julle besigheid te doen na aanleiding van hoe julle hierdie situasie hanteer het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.