Cell C-banier: ‘Uitspraak het verreikende gevolge’

Só lyk die Cell C-banier nadat dit geskend is. Foto: Twitter

Só lyk die Cell C-banier nadat dit geskend is. Foto: Twitter

Cell C het sy teleurstelling uitgespreek in die hooggeregshof in Johannesburg se uitspraak dat ʼn “lasterlike” banier nie verwyder hoef te word nie en het gesê die regter het nie die hoofrede waarom hulle die saak hof toe gevat het, naamlik die beskerming van een van hul werknemers, aangespreek nie.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Donderdag Cell C se dringende aansoek om die banier te laat verwyder, met koste van die hand gewys. Die banier is verlede week Vrydag by die WorldWear-winkelsentrum op die hoek van Beyers Nauderylaan en Wilsonstraat in Fairland laat oprig.

Candice Jones, woordvoerder van Cell C, het gesê die diensverskaffer se hoofrede waarom hulle die hof genader het, was om die persoonlike inligting en privaatheid van een van hul werknemers, Riaan van Rooyen, te beskerm.

“As gevolg van die banier is Riaan geteister en verbaal mishandel. Mense moet hulself afvra wat hulle van hul werkgewer sal verwag indien hulle die onderwerp is van die tipe teistering bloot omdat hulle hul werk doen,” het Jones gesê.

Die banier het gelui: “Die mees nuttelose diensverskaffer in SA – Cell C Sandton City. Cell C se Riaan van Rooyen, ‘franchisebestuurder’ 084-XXX-XXXX sê sy naamlose ‘uitvoerende hoof’ weier om die kliënt by te staan!!”.

Die banier is later geskend en Van Rooyen se selfoonnommer is verwyder. Volgens Jones het George Prokas, die sakeman wat die banier laat oprig het, eers tydens die hofverrigtinge die onderneming gegee dat Van Rooyen se persoonlike inligting nie weer gepubliseer sal word nie.

Jones het gesê die uitspraak het verreikende gevolge vir besighede in Suid-Afrika. Sy het gesê die uitspraak het tot gevolg dat ʼn individu lasterlike stellings kan maak solank as wat dit uitgedruk word as ʼn opinie van persoonlike ondervinding.

Volgens Jones skuld Prokas steeds vir Cell C uitstaande gelde vir dienste wat gelewer is en sal daar regsaksie geneem word om die geld te verhaal. Sy het gesê Prokas maak ondanks sy negatiewe kommentaar op die banier steeds van Cell C gebruik.

Lees alle vorige berigte wat met die Cell C-banier verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

monika ·

waarom gebruik ons die voorbeeld vir pr Zuma nie?. Verander dit na die duurste president.

Dave ·

Jones het gesê die uitspraak het verreikende gevolge vir besighede in Suid-Afrika. Sy het gesê die uitspraak het tot gevolg dat ʼn individu lasterlike stellings kan maak solank as wat dit uitgedruk word as ʼn opinie van persoonlike ondervinding.

En Dave Du Plessis stem saam dat dit *hopelik verreikende gevolge kan hê* in die opsig dat dit besighede versigtiger en met die nodige lojaliteitsal laat optree met betrekking tot diensverskaffing.

Elizabeth ·

Ek haal aan: “…indien hulle die onderwerp is van die tipe teistering bloot omdat hulle hul werk doen,” het Jones gesê.” Wat ‘n grappige stelling me Jones, as hy en sy span hul werk WEL gedoen het was dit nie nodig vir mnr Prokas om tot sulke uiterstes te gaan om die probleem uitgesorteer te kry nie! Buitendien werk Riaan Van Rooyen mos vir Cell C en kon hy maklik ‘n nuwe nommer gekry het – ai tog! Dankie tog dat die reg in hierdie geval aan die “mense” se kant was; ek hoop al hierdie luies wat nie hul werk doen sal in vervolg bietjie aandag gee aan ons, die publiek wat hul salaris help betaal en die diens lewer wat van hul verwag word!

Eish ·

Nou wonder ek hoekom gee ‘n firma vir 2 mense dieselfde nommer??????? Volgens my moet daardie vreeslike skuld nie van Mnr. Porkas verhef word nie. Cell C julle is ‘n grap! Skryf daardie geld af en sorg dat dit nooit, nooit, nooit weer gebeur nie. Vra verskoning en sorg dat die rekening reggestel word en verged Mnr. Porkas vir jul fout. So sou jul dalk baie meer advertensie gewen het en ook mense laat glo het in jul dienste.

Dave ·

…en vergoed mnr Prokas vir sy banier-uitgawes want dit is júlle Cell C, wat die skoolgeld moet betaal en niè die leerkrag nie!

Pieter ·

Vodacom is volgende………Die lot se internet en opvangs hier in Danabaai is swak en jy kan bel en bel maar niks gebeur.

Chris Erasmus ·

Ek wens almal het die moed van hul oortuigings soos die persoon gehad. Ons is te passief om stappe teen swak dienslewering te neem. Ek blameer die persoon glad nie. Ek gee Cell C nog net 22 dae kans om my “probleem” op te los. Dit is na 123 vonkposse en sowat 34 telefoon oproepe. Ons aanvaar swak dienslewering te gelate. Ek persoonlik is om die minste te se redelik gatvol. Dit is nie net Cell C nie. Kyk hoe word jy as klient by afdelingswinkels behandel. Ek gee toe, die kassiere het seker grond om op te staan, maar ek betaal indirek hul salarisse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.