CemAir kry eindelik bedryfsertifikaat

CemAir (Foto: CemAir, Facebook)

Die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartowerheid (BLO) sê die private lugdiens CemAir het eindelik kommer oor sekere veiligheidskwessies uit die weg geruim en sy twee bedryfsertifikate is dus weer uitgereik.

Dit beteken die redery mag weer begin vlieg.

CemAir het vantevore na 11 bestemmings in sewe van Suid-Afrika se provinsies gevlieg.

Maroela Media het vroeër berig die redery was die afgelope paar maande in ʼn bitter stryd met die BLO gewikkel om operasioneel te bly.

CemAir en die BLO het in Desember ʼn skikking bereik waarvolgens die BLO ʼn oudit sou doen met die oog daarop om die redery se bedryfsertifikate te hernu. Die oudit het verskeie kwessies aan die lig gebring. CemAir het daarna ʼn regstellende aksieplan ingedien waarin uitgestippel word hoe hy beplan om dié kwessies aan te pak. Die BLO was egter nie tevrede met die aksieplan of enige ander hersiene weergawes wat daarna ingedien is nie.

Die vloot is gevolglik verbied om te vlieg.

Ná verskeie aanpassings en assesserings is CemAir se bedryfsertifikaat nou goedgekeur.

“Uit ʼn vloot van 21 vliegtuie het CemAir in dié stadium net toestemming om sewe daarvan te bedryf. Die res sal in diens geneem word wanneer CemAir dit aan die BLO vir inspeksie en evaluering beskikbaar stel en daar aan alle vereistes voldoen word,” het die BLO in ʼn verklaring gesê.

Die owerheid sê hy gaan CemAir se bedrywighede monitor.

“Suid-Afrika handhaaf die afgelope jaar ʼn goeie veiligheidsrekord in die geskeduleerde en rederybedryfskategorieë. Dit is ʼn merkwaardige rekord wat die BLO beoog om sonder vrees, guns of vooroordeel te beskerm.

“Alle operateurs wat passasiers van een lughawe na ʼn ander vervoer moet te alle tye voldoen aan lugvaartbepalings sodat elke opstyging in ʼn ongeluksvrye landing eindig en passasiers veilig wegstap.”

Solidariteit het vroeër gesê meer as 60% van CemAir se personeel is weens die vliegverbod afgelê. Hy het gesê hy het sedertdien uitgereik na verskeie ander lugrederye in ʼn poging om werk vir dié mense te help vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.