CemAir mag weer vlieg

FlyCemAir sê hy sal oor die volgende paar dae verdere inligting bekend maak, nadat hy suksesvol geappelleer het teen ‘n vroeëre verbod om te vlieg.

Die private lugdiens CemAir het Maandag suksesvol teen die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se besluit om hom te verbied om te vlieg, geappelleer.

CemAir het vantevore na 11 bestemmings in sewe van Suid-Afrika se provinsies gevlieg, maar die redery was die afgelope paar maande in ʼn bitter stryd met die BLO gewikkel om operasioneel te bly.

CemAir en die BLO het in Desember ʼn skikking bereik waarvolgens die BLO ʼn oudit sou doen met die oog daarop om die redery se bedryfsertifikate te hernu. Die oudit het verskeie kwessies aan die lig gebring. CemAir het daarna ʼn regstellende aksieplan ingedien waarin uitgestippel word hoe hy beplan om dié kwessies aan te pak. Die BLO was egter nie tevrede met die aksieplan of enige ander hersiene weergawes wat daarna ingedien is nie.

Tussen 28 Desember en 11 Januarie het beamptes van die BLO die redery se bedrywighede besoek om bewyse te bekom en te verseker dat die lugwaardigheid-knelpunte na wense aangeraak is. Die BLO was egter steeds ontevrede, het Maroela Media vroeër berig.

Tydens die oudit het dit ook onder die BLO se aandag gekom dat ʼn vliegtuigvervaardiger ʼn assessering van CemAir se vliegtuiginstandhouding gedoen het en aan CemAir hul bevindinge en aanbevelings gegee het om die instandhouding van die redery se vloot weer op datum te kry. Die BLO het toe gesê dit is kommerwekkend dat die redery nie genoeg bewyse kon voorsien dat hy dié aanbevelings volledig ingestel en toegepas het nie.

Die vloot is gevolglik verbied om te vlieg.

Ingevolge regulasies vir burgerlike lugvaart kon CemAir binne 30 dae appèl teen die besluit aanteken. Dié aansoek het nou geslaag.

Die burgerlugvaart-appèlkomitee het bevind die wesenlike foute wat gemaak is in die besluit om die lugdiens se bedrywighede op te skort, maak dit “irrasioneel, eiegeregtig, onbillik en prosedureel onregverdig”.

CemAir het die besluit verwelkom.

“Ons posisie is gehandhaaf en ons bedank die departement van vervoer en die burgerlugvaart se appèlkomitee dat hulle die regverdige beginsel van Suid-Afrika se Grondwet gehandhaaf het,” het die lugdiens in ʼn verklaring gesê.

“CemAir vra om verskoning vir sy stilte. Die pad wat ons die afgelope maande moes stap, was ongekend in die lugvaartbedryf. Ons sal oor die volgende paar dae verdere inligting bekend maak.”

Die BLO het gesê hy het die appelkomitee se beslissing ontvang en bestudeer dit nog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Deja vu ·

Ek stem lugveiligheid is baie belangrik. Maar onthou ook dat CemAir kompeteer met S A Express en SAL wat bankrot is op die streeksroetes, tans ontvang hulle belastingbetalersgeld om te vlieg. Baie van die kompetisie was al in die verlede verwyder met verskillende redes deur die magte in die staat. Deja vu…..

Db ·

Ag siestog dit is seker omdat CemAir nie die totale werksmag aan die nuwe wesens oorhandig het nie

Elmarie ·

Als goed en wel, maar wanneer gaan julle ons geld terugbetaal vir kaartjies gekoop Cemair?

august du preez ·

Ek het sowat 20 weke gewag vir terugbetaling van kaartjie aanlyn gekoop in Desember 2018 (Die ergste is dat hulle die kaartjies aan my verkoop het terwyl hulle verbied was om te vlieg!) …..van ‘n belofte van aanvanklike 6 weke terugbetaling – toe 8 weke! Uiteindelik 20 weke ……..Nooit nooit…..nooit weer met Cemair

Marinda ·

Wonderlike nuus. Ons lughawetjie kan doen met die kompetisie.

geluk cemair ·

GELUK CEMAIR .. DIS ‘N WONDERLIKE LUGDIENS EN DIE ENIGSTE WAT VERNIET AANGENOME HONDJIES EN VERWAARLOOSDE DIERE BEREID IS OM NA HULLE BESTEMMING TE LAAT VLIEG WAAR HULLE WEER HULP OF ‘N HUIS KAN ONTVANG … BAIE BAIE GELUK CEMAIR .EK HET DIE GROOTSTE RESPEK VIR JULLE!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.