CemAir-vliegtuie: ‘Eerste groen lig is stap in regte rigting’

CemAir (Foto: CemAir, Facebook)

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) het met onmiddellike inwerkingtreding die opskorting van CemAir se instandhoudingsgoedkeuring, soos uitgereik deur die vliegtuiginstandhoudingsorganisasie (AMO), opgehef.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het gesê dit volg ná die suksesvolle voltooiing van ʼn vyf-fase-sertifikasieprogram deur dié diensverskaffer.

Maroela Media het vroeër berig die BLO het gesê hy het tydelik die sertifisering opgehef en dit het vroeg in Februarie in werking getree.

“Die besluit om die sertifisering op te hef volg ná ʼn oudit deur BLO-inspekteurs wat vasgestel het sommige vliegtuie, wat deur CemAir se instandhoudingsorganisasie versien is, is deur ongekwalifiseerde personeel lugwaardig verklaar,” het die BLO in ʼn verklaring gesê.

“Hoewel CemAir wel die voordele van sy instandhoudingsorganisasie kon terugwin, is die situasie wat sy 12 vliegtuie betref steeds dieselfde. Die vliegtuie is nog nie lugwaardig verklaar nie en dus nog nie weer bruikbaar vir vlugte nie. Die opheffing van die  vliegtuiginstandhoudingsorganisasie se intrekking is egter ʼn stap in die regte rigting. Dit beteken die organisasie is nou in ʼn posisie om sy eie sowel as ander vliegtuie waarvoor hy goedgekeur is in stand te hou,” het Ledwaba gesê.

Ledwaba het bygevoeg CemAir is nou in ʼn posisie om hopelik meer van sy vliegtuie gereed te kry vir inspeksie deur die BLO. “Die vliegtuie sal weer in werking wees wanneer hulle lugwaardig verklaar word.”

Die BLO het ook in aanmerking geneem dat die lugredery maatreëls ingestel het om hom in staat te stel om sy verpligtinge teenoor kliënte na te kom.

“Die BLO sal aanhou leiding aan die diensverskaffer bied om sodoende te verseker dat alle verpligtinge, soos in sy aksieplan vervat, nagekom word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Thea ·

Ek hoop dit word spoedig opgeklaar! Ek geniet dit vreeslik om met CemAir te vlieg!

Gideon ·

Ja ons as pasasiers se veiligheid was waarskynlik laer in order as regstellende aksie. Barry Smith het gese draai wat politikuste sê 180 grade om en jy kom by die waarheid uit. So kan met verskeie BBBEE aksies ge doen word tensy n land volwaardig n Afrika staat wil wees en in wil verval

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.