Centurion-botsing: ‘Kaping’ lei dalk tot 3 se dood

Rapulana Seiphemo se motor. Foto: ER24

Rapulana Seiphemo se motor. Foto: ER24

Die polisie ondersoek gerugte dat ʼn bekende sepie-akteur glo gekaap is voordat sy motor op Valentynsdag op die N14-snelweg in ʼn botsing betrokke was, wat die lewens van ʼn onbekende man sowel as Jerry Coertze (28) en Donovan van Zyl (24) geëis het.

Donovan en sy ouer broer, Jody (25), het hul swaer, Jerry, verlede Sondag in Pretoria gaan oplaai en was op pad terug na hul huis in Krugersdorp toe die ongeluk omstreeks 22:00 naby die R55-afrit plaasgevind het.

Jerry Coertze. Foto: Verskaf

Jerry Coertze. Foto: Verskaf

Rapulana Seiphemo, beter bekend as Tau Mogale in die gewilde Generations-sepie, se motor, ʼn Audi A4, het na bewering Donovan se motor, ʼn Toyota Corolla, met ʼn hoë spoed van agter getref. ʼn Passasier in Seiphemo se motor en Donovan is op die toneel dood verklaar. Coertze en Seiphemo is albei in ʼn kritieke toestand na die Millpark-hospitaal geneem. Jody is met geringe beserings na die Kalafong-hospitaal geneem en die ander man na ʼn hospitaal in die omgewing. Coertze het op 16 Februarie aan sy beserings beswyk.

Intussen berig die Sunday Independent die oorlewende passasier van Seiphemo se motor is glo onder swaar polisiebewaking in die hospitaal nadat hy glo probeer ontsnap het. Die koerant berig Seiphemo ken glo nie die twee mans, van Mamelodi in die ooste van Pretoria, wat  in sy motor was nie.

Dit Toyota se wrak. Foto: Verskaf

Dit Toyota se wrak. Foto: Verskaf

Kapt. Tekiso Mofokeng het aan die koerant bevestig die man is onder polisiebewaking, maar wou nie verder uitbrei nie en gesê die saak word nog ondersoek. Hy het bevestig die polisie ondersoek drie sake van strafbare manslag.

Nelia Germishuys, Coertze se niggie, het aan Maroela Media gesê Coertze en Van Zyl word Dinsdag saam om 11:00 vanuit die EG Kerk in Krugersdorp begrawe.

Coertze laat sy ma, Elsa de la Guerre, pa, Andre Coertze, suster, Reinette Coertze en stiefma, Renel Coertze, agter.

Donovan laat sy verloofde, Althea van Eeden en driejarige seun, Riaan, agter.

rapulana seiphemo

Rapulana Seiphemo.

Mduduzi Sikhakhane, Seiphemo se swaer, het gesê Seiphemo herstel goed en is Sondag uit die hospitaal ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

DPJ ·

So volgens die berig het voertuig teen ‘n hoë spoed gery wie het gesê spoed veroorsaak nie ongelukke nie!

Rooijan ·

Nee jong mense wat vinnig ry kan sien en remme aanslaan, gewoonlik betyds. Die probleem is dat brandewyn nie brieke het nie. So as dit brandewyn agter die stturwiel is dan is daar perde.

maggie ·

Twee pragtige seuns weggeruk van hul geliefdes, ek hoop die saak word baie deeglik ondersoek!

Charlotte ·

Ag lyk weereens na n storie waar n prokureur gese het….se jy ken hul nie dit was n kaping!!! So word die wittes by die dag minder en minder!! Getegtigheid geskied nooit as dit wit is wat sterf nie maar andersom word dit WERELD NUUS!!!! Gatvol vir hierdie land vol korrupsie!!!

MM ·

“Gekaap” ek wonder en dan ken jy nie die mense in jou en wat bestuur nie. Shame.! ek dink die seuns het nie gou genoeg na hulle sin oorbeweeg na die ander baan nie, want dit is hoe hulle ry op die N14. Die Toyota wat die seuns in was het van Sondagaand af tot Woensdagaand teen die pad gele voor dit verwyder is. Die BMW, Audi Merc en VW klub dink die N14 het nie spoed grense.
Dis so onnodig dat 2 jong mense hulle lewe so moet boet.

Jaco ·

Julle mense wat hierdie tragiese ongeluk nou in n wit-swart storie wil verander is belaglik, dink julle rerig Mnr. Seiphemo wou homself in die hospitaal kry? Kom meer gereeld uit julle grot of bly daar permanent.

Alwyna Holtzhausen ·

Wonder of hierdie nie net n toesmeerdery is nie…klink vir my alteveel na n storie…

Marie Hansell ·

Alwyna, dit is my niggie se kind wat hier gesterf het (Jerry Coertze) en ek dink net soos jy dat dit ‘n toesmeerdery is. Seiphemo was minder as ‘n maand voor hierdie ongeluk ook in ‘n ongeluk waar hy blykbaar sy motor omgekeer het by Wespark Begraafplaas. As ons in SA is, ry ons soms daardie pad en dit is skrikwekkend om te sien hoe vinnig en aggressief mense daar bestuur. Ek is geskok elke keer dat ons SA besoek oor die haat, ongeduld en aggressie op die SA paaie. Families word verskeur a.g.v. hierdie negatiwiteit. Dis tyd dat die mense in SA wakker word en besef wat hulle aan hulleself en ander doen. Hartseer!!

Angie ·

Die probleem is die lisensies word mos gekoop en ek is seker die duur karre word ook met die houding bestuur van ons besit die pad, want en nou is my kop eers groot, ek is mos n tv ster, die probleem is die geld is daar maar nie die breins nie, tipiese probleem wat ons in SA het. Ek dink die eintlike probleem is dis weereens die verkeerdes wat oorleef het, soos altyd die skuldiges! Sterkte aan die families.

Maggie ·

was die sepie ster dan nog in sy motor nadat dit gekaap is? Alle sterkte aan al die families betrokke

Watsenaam ·

Nou hoe gaan dit met onse sepie-ster na die kaping, enige behandeling nodig…vir stress en so aan?? Ek weet hoe mens lyk en voel na ‘n werklike kaping…was self in een!

Sumari ·

Jinne maar julle kan darem gou oordeel. Genade ek kan nie meer wag laat die aarde vergaan nie, want eerstens ek wil nie my kind in die rassistiese land grootmaak nie en dan tweedens is ek dank Vader ontslae van julle Afrikaanse witmense wat so oordeel. Net so terloops ek is ook wit, maar skaam my vir witmense.

susan ·

Dai was my pa se peet kind donnie was n lieflike kind altyd n hand aan di nodige gebied……donnie ons gaan jou mis boeta R.I.V. Jou spore sal altyd baie diep in ons harte vas getrap bly!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.