Centurion-drawwer glo verkrag

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou is Sondagoggend glo sowat 200m buite Midstream Estate se hoofhek in Centurion verkrag toe sy gaan draf het.

Nico Chrisostomou en Martin Siebert, twee reaksiebeamptes van MonitorNet, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hulle het omstreeks 12:00 roetinepatrollie in die gebied gedoen toe nooddienswerkers van ʼn ambulansdiens hulle gesien en afgetrek het om hulp te vra.

“Hulle was op pad na die vrou waar sy langs die pad deur ʼn verbyganger aangetref is,” het Chrisostomou gesê. “Die vrou, in haar dertigs, was vreeslik geskok toe ons opgedaag het. Sy kon nie die gebeure onthou nie en het gesukkel om te praat. Sy het na bosse in die gebied, sowat 150m van die straat af, gewys en gesê ‘die man is in die bosse’.”

Chrisostomou het gesê hulle het besef die vrou is verkrag en het dadelik die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum ontbied. Die vrou is inderhaas na die Unitas-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Hulle is na die toneel waarheen die vrou gewys het, en het daar op ʼn iPod en drafbroek afgekom. ʼn Gesamentlike soektog met die honde-eenheid van Scorpion Security en ʼn helikopter is van stapel gestuur om na die man te soek. Dit is nog nie bekend of iemand al in verband met die vermeende verkragting in hegtenis geneem is nie. Tydens die soektog het die polisie vier mans in hegtenis geneem nadat hulle met dagga betrap is.

Generaal Mozuoe Mozuoe, die stasiebevelvoerder by die Olifantsfonteinpolisie, het aan Maroela Media bevestig dat hulle bewus is van die voorval. “ʼn Saak is egter nog nie oopgemaak nie, aangesien die slagoffer nog in die hospitaal is,” het hy gesê. Mozuoe het gesê dat die vrou na verwagting Dinsdagmiddag uit die hospitaal ontslaan gaan word. Polisiebeamptes sal haar besoek en haar verklaring afneem. Hy het gesê indien ʼn verdagte reeds weens die voorval in hegtenis geneem is, is die persoon nie na die Olifantsfontein-polisiestasie geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grassie ·

Volgens die stasiebevelvoerder, `n generaal nogal, is `n saak nog nie oopgemaak nie want die slagoffer is nog in die hospitaal. Magtig. Dit beteken dat daar waarskynlik ook geen forensiese ondersoeke op die toneel gedoen is nie. Ek hoop uit die diepte van my hart dat die inligting in hierdie berig verkeerd is, anders is dit `n klinkklare bewys dat die gehalte van polisiëring in hierdie land totaal in duie gestort het.

Slim Daan ·

Waarheid Grasman.
In n geval waar n klaer / klaagster nie in n posisie is om n strafregtelike klag te open nie, maar n lid vd SAPD bewus is dat een of ander misdryf inderdaad gepleeg is, word n dossier geopen met n aanhef wat lui :- Die Staat soos per kst. Piet Pompies etc etc.
Dit beteken die o/soek behou momentum. Wat hier gebeur lyk meer na n geval waar die manne armpies vou en heimlik hoop en bid die klaagster maak nie weer haar opwagting nie.
Die vlak van polisiering het jy dit ook reg. Bykans al die verklarings wat aanvanklik in die Oscar-sage geneem was, moes later ” herneem ” word. Getuies word dan later in kruisondervraging gestenig omdat hul relaas van die een verklaring – verskil van die latere of aanvullende een. Is een enorme boggerop.

Grassie ·

Ek stem saam met jou. In enige kriminele saak word die misdaad teen die Staat gepleeg – die slagoffer of benadeelde is bloot `n getuie. Al wil die slagoffer nie met die saak voortgaan nie berus die besluit by die Staatsaanklaer of Prokureur-Generaal. Dit beteken dat as daardie generaal bewus is van `n verkragting en hy open nie `n saak nie, hy hom waarskynlik skuldig maak aan regsverydeling. Maar ek glo nie die huidige grootkoppe in die Polisie weet dit nie. Hulle het mos hul senioriteit mahala gekry.

Slim Daan ·

Daai tannie van China met haar sker hier kry. Het n vermoede sy sal oortyd werk !

Danie ·

As daar ten tyde van Pres Mandela se inhuldiging ‘n foto van die hele Afrika geneem was, wat sou ons sien? Sou ons sien dat SA op daardie oomblik na jare van apartheid by verre die beste en die meeste vir al hul armes aanbied ook swart arm mense , Skole , universiteite, hospital fasiliteite, algemene infrastruktuur die beste en die beste kwaliteit en meer as in letterlik enige ander Afrika land? Ons kan nooit ontken dat Swart mense ‘n 2de klas lewe in SA gehad het net omdat hul nie blank is nie. Hoe kon die apartheid land gebuk onder wereldwye sanksies , aan al hul mense ook die armstes van die armste, in beter lewe aanbied as die armstes van die armste in enige ander afrika land? As dit wel so is, is my logiese afleiding , dat die swart mense ten tyde van apartheid gelei het om hul nageslag ‘n beter lewe te gee? As dit so is hoekom dan RA, swart arm mense sou dan in geen ander Afrika land ‘n beter toekoms vir hul nageslag kon beding nie? Ek kan nie help om te wonder nie, wat is nou die misdaard teenoor die mensdom apartheid, of swart Afrika regering ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.