Centurion-huisbrand: Pa sterf ook

Theo Nagel (Foto: Verskaf)

Die pa van die jong ma en oupa van haar tweejarige dogtertjie wat ʼn week gelede in ʼn huisbrand in Centurion omgekom het, het intussen ook aan sy beserings beswyk.

Theo Nagel (53) is vanoggend omstreeks 06:30 in ʼn staatshospitaal in Pretoria oorlede nadat hy hiér in ʼn kritieke toestand in ʼn geïnduseerde koma geplaas en weens rookinaseming ook aan ʼn ventilator gekoppel was.

Clarize Pretorius, ʼn familielid, het Theo se afsterwe aan Maroela Media bevestig.

Dít volg nadat ʼn brand op 24 Februarie omstreeks 22:00 in een van die slaapkamers van die gesin se meenthuis in Pierre van Ryneveld uitgebreek het waar Nicolene Pretorius (22) en haar twee kinders, onderskeidelik twee en vier jaar oud, geslaap het.

Pretorius het verlede week aan Maroela Media vertel dat die kamer reeds in vlamme gehul was toe Nicolene wakker geskrik het. Die deur na die res van die huis was egter gesluit en sy kon nie die deur oopkry na haar ouers, Theo en Christelle, wat saam met haar in dié huis woon nie.

“Sy het geskree en aan die deur geruk. Haar ma, Christelle, het vir haar geskree om die kinders by die venster uit te gooi en het om die huis na buite gehardloop om die kinders aan die buitekant te vang,” verduidelik Pretorius.

Nicolene Pretorius by haar dogtertjie, Leoné. (Foto: Verskaf)

Nicolene kon daarin slaag om haar vierjarige seuntjie, Theo junior, betyds by die venster uit tot op die gras te gooi waarna haar pa, Theo senior, die deur uiteindelik afgeskop het, vertel Pretorius.

“Hulle kon egter nié die dogtertjie, Leoné, uitkry nie. Dit was te warm. Sy het tussen die bed en die bedkassie vasgesit en hulle kon nie by haar uitkom nie. Hulle kon haar hoor gil.” Theo senior en Nicolene kon in die doodsnikke daarin slaag om buite te kom en op die gras te rol waarna die bure die gesin te hulp gesnel het. Albei het brandwonde opgedoen.

Volgens Pretorius gaan dit sedertdien baie sleg met Christelle wat nie nét haar dogter en kleinkind aan die dood moes afstaan nie maar ook nou haar lewensmaat van die afgelope 21 jaar.

“Sy is verpletter. Ons hele familie is baie geskok, so ek wil nie eers weet hoe sy moet voel nie.” Pretorius vertel dat Christelle ontroosbaar is ná die brand wat haar gesinslewe handomkeer verander het.

Theo Junior, wat na sy oupa vernoem is, is tans steeds in sy pa se sorg en het nog nie sy ouma sedert die huisbrand gesien nie.

Nicolene en Leoné sou Woensdag ter ruste gelê word. Die begrafnis is egter tot verdere kennisgewing uitgestel aangesien Christelle graag saam van Theo, Nicolene en Leoné afskeid wil neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Se maar ne ·

Bitter hartseer.Baie sterkte aan Christine en die res van die familie…Mag God julle stuff vashou en julle trane afvee

Blue Butterfly ·

Absoluut hartverskeurend. Ek kan net vra dat die Here Christelle en die familie in hierdie ontsettende moeilike tyd dra.

GM ·

Die lewe is so wreed. Sterkte aan die seuntjie en ouma.
Dis hartseer dat mens met toe kamerdeure moet slaap. Die situasie kon dalk anders uitgedraai het as die deur nie gesluit was nie. Almal sê altyd: “Kry diefwering”. Maar hoe gemaak as jy moet uit en jy kan nie? Catch 22.
Rus in vrede.

Koos de Meyer. ·

Mens het nie woorde nie,ons Hemelse vader alleen kan troos. Sterkte in hierdie moeilike tyd.

Elrou ·

Hoekom was die kamer gesluit…dit is so hartseer dat 3 mense moes omkom…
My vraag weer hoekom was die kamer gesluit sodat sy nie kon uit nie…maak nie sin nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.