Centurion Mall: Nóg ʼn selfoonwinkel in PTA beroof

Die Telkom-winkel in Centurion Mall Foto: Centurion Mall

Die Telkom-winkel in Centurion Mall Foto: Centurion Mall

Drie selfoonwinkels is die afgelope drie weke in gewilde winkelsentrums in Pretoria beroof.

In die jongste voorval het ʼn aantal gewapende mans Dinsdagaand net voor sluitingstyd op die Telkom-winkel in Centurion Mall toegeslaan. Sers. Asnath Malatsi, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag die rooftog aan Maroela Media bevestig.

“Die rowers het bokse met selfone, slimfone en tabletrekenaars gesteel. Die gesteelde goedere het ʼn geskatte waarde van R1,2 miljoen,” het Malatsi gesê.

Sy het gesê niemand is tydens die rooftog beseer nie.

Annah Moremela, die bemarkinsbestuurder van Centurion Mall, het by navraag gesê alle kringtelevisiebeeldmateriaal is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek. Sy het gesê hulle beskou die voorval as ernstig en dat veiligheid ‘n prioriteit by die sentrum is.

Die polisie ondersoek ʼn saak van besigheidsroof. Die polisie kon nie dadelik sê hoeveel rowers in die voorval betrokke was, en in watter voertuig hulle gevlug het nie.

Maroela Media het vroeër berig dit is vermoedelik dieselfde bende wat onlangs op selfoonwinkels in Northpark Mall, in die noorde van Pretoria, en Mayville Mall, in Pretoria se Moot-gebied, toegeslaan het. Malatsi het gesê die polisie ondersoek die moontlikheid of die rooftogte verbind kan word.

Lees ook:
Rooftog by Centurion Mall
Nog ‘n PTA-winkelsentrum beroof
Rowers slaan toe op PTA-winkelsentrum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.