Centurion-pa gaan ‘Comrades’ in sy tuin hardloop

Bennie Roux aan die hardloop in sy tuin met die ondersteuning van twee van sy seuns. Foto: Verskaf

Bennie Roux van Centurion beplan om Saterdag die afstand van ʼn Comrades-marathon (90 km) in sy tuin te hardloop.

Die 42-jarige pa van drie het sedert die tydperk van afsondering aangekondig is al etlike kilometers in sy tuin gehardloop en het Saterdagoggend omstreeks 04:00 met die “Comrades” begin. Dit is egter nog nie duidelik of die reënweer dalk sy poging in die wiele gaan ry nie.

Die Roux-gesin woon op ʼn pypsteelerf en Bennie begin in die motorhuis en hardloop dan in die pypsteel af en om die huis om sowat 250 m af te lê. Hy gaan Saterdag die “roete” sowat 360 keer moet doen om by 90 km uit te kom.

Roux se vrou, Isabel, en sy drie seuns, Hugo (13), Ruben (11) en Sion (4), sal kort-kort saam draf om hom te ondersteun. Hulle sal ook eet- en drinkgoed aangee. Roux mik om die afstand binne 11 uur te voltooi.

Die idee om by die huis te begin hardloop het gekom nadat Roux gelees het van die Fransman Elisha Nochomovitz wat ʼn volle marathon van 42,2 km op sy balkon (van sewe meter lank) in Toulouse gehardloop het.

Roux het verlede Vrydag op die eerste dag van die afsonderingstydperk toe sommer reeds weggespring en dié afstand in sy tuin gehardloop. “Toe begin ʼn paar pelle my uitdaag en sê hoekom doen ek nie sommer die Comrades in my tuin nie.”

Die finale motivering om die Comrades in sy tuin te hardloop het gekom nadat hy gehoor het van hardloopvriende wat ook in hul tuin hardloop en sodoende geld insamel vir die Con Amore-skool, ’n skool vir gestremde kinders in Kempton Park.

Roux het sommer tydens die eerste dag van die afsonderingstydperk ‘n marathon afgelê in sy tuin. Foto: Verskaf

Roux het intussen ʼn klomp borge gekry, onder andere mense wat hom tussen R50 en R200 per kilometer gaan borg.

“Ek wou nog altyd betrokke raak by ʼn skool vir gestremdes. Dit is iets wat my na aan die hart lê. In die geval het dit amper gevoel of die skool my gekies het.”

Roux oefen onder normale omstandighede minstens een keer per dag en partykeer meer. Dit sal nie die eerste keer wees wat Roux die Comrades hardloop nie. Hy het die amptelike marathon al elf keer vantevore voltooi. Sy beste tyd was onder sewe uur.

Hy het ook al drie keer aan die moordende Munga-marathon deelgeneem. Die marathon behels 400 km oor een skof van sowat 80 uur en deelnemers wat die minimum slaap.

Roux is vasbeslote om Saterdag se Comrades binne die toegelate tyd van 12 uur te voltooi.

Roux het verlede maand aan AfriForum se Hardloop en Fietsry vir Hoop-projek deelgeneem ter ondersteuning aan mense wat deur plaasaanvalle geraak word. Hy het ook in Oktober verlede jaar aan die projek deelgeneem en sodoende derduisende rande ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Feetjiemens

Sterkte, Bennie! Jy is seker dan nou reeds amper 4 ure aan die gang as die reën jou nie in die wiele ry nie????

Martin

Sterkte Bennie. Ek weet die reen maak dit baie moeiliker, ek het ook al deur ‘n moeilike wedloop met reen en koud geworstel. Byt vas ou maat!!

Lindi

Ons kyk uit moreoggend vir MM se terugvoer oor jou wentyd!

Jdb

Daar gaan NIKS van sy grasperk oorbly nie!

Stefan

Fantasties Bennie, en dit met hierdie kouerige reën.