Centurion se sinkgat-probleem ‘nie gou opgelos’

Die massiewe sinkgat in Cliftonlaan in Lyttelton Manor het reeds beduidende skade aan twee huise aangerig. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Nie minder nie as 37 sinkgate het die afgelope jare in Centurion geval en afgesien van die toenemende hoofbrekens wat dit vir motoriste skep, vrees inwoners dat hul huise binnekort óók in ʼn sinkgat kan verdwyn.

Kenners waarsku egter die herstel van hierdie gate kan nog jare duur aangesien die Stad Tshwane ʼn beperkte begroting hiervoor het. Weens die aard van die dolomietiese grond waarop Centurion gebou is en verouderde infrastruktuur, kan nóg sinkgate boonop in die nabye toekoms verwag word.

“Enigeen wat ʼn eiendom op dolomietiese grond het, moet bekommerd wees, al lei sinkgate statisties tot minder sterftes as byvoorbeeld motorongelukke,” sê David Farquharson, DA-raadslid in die Lyttelton‑omgewing.

Die yslike sinkgat in Lyttelton Manor in Centurion. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Almal wat ʼn huis koop, moet bewus wees van die risiko’s wat dolomiet betref.”

Te min geld

Die Stad Tshwane begroot tans R30 miljoen ʼn jaar om sinkgate te herstel. Dit is nie naastenby genoeg nie aangesien dit soms soveel kos net om één sinkgat te herstel. Die metroraad het aan Maroela Media bevestig daar is tans 48 sinkgate in Tshwane. Volgens die DA is 37 van dié sinkgate in Centurion.

Farquharson sê die beskikbaarheid van geld is die grootste uitdaging wanneer dit by die herstel van slaggate kom.

“Hoewel dolomietgebiede onstabiel is, is die algehele voorkoming van sinkgate moontlik, maar dit is onbekostigbaar.”

Die massiewe sinkgat in Cliftonlaan in Lyttelton Manor het reeds beduidende skade aan twee huise aangerig. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Volgens Farquharson het ʼn yslike sinkgat wat destyds op die aanloopbaan van die Waterkloof-lugmagbasis ontstaan het, R700 miljoen gekos om te herstel.

Dr. Desiree Muller, ʼn konsultant vir omgewingsrisikobewusmaking, verduidelik dat sinkgate oor duisende jare ontwikkel, met grondwater wat dolomiet stelselmatig oplos en ondergrondse holtes vorm. Volgens haar is die grootste gedeeltes van Centurion op hoërisiko- of mediumrisiko-dolomietgebiede ontwikkel.

“Die groot krisis ontstaan wanneer infrastruktuur verouder en lekkende pype in dolomietiese grond sinkgatvorming versnel. Stormwaterdreinering wat nie in stand gehou word nie, vererger ook die situasie.”

Sy sê die verandering in weerspatrone wat meer oorstromings tot gevolg het, het ook ’n groot impak op die integriteit van bestaande onstabiele dolomietiese grond. “Paaie dra boonop nou meer verkeer as waarvoor ooit beplan is.”

Muller vermoed ook dat die probleem in die algemeen sal vererger aangesien munisipaliteite minder geld het om bestaande infrastruktuur in stand te hou.

Die massiewe sinkgat in Cliftonlaan in Lyttelton Manor het reeds beduidende skade aan twee huise aangerig. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Die munisipaliteit is waarskynlik in ’n baie moeilike situasie weens die enorme koste-implikasies. Deur ’n dolomietstabiliteitsondersoek te doen, word bepaal wat die risikokategorie vir die ontwikkeling van sinkgate in die omgewing van die huidige sinkgat is. Sinkgate is gewoonlik groter as wat op die oog af sigbaar is.”

Farquharson wens tog die metro wil meer doen om sinkgate te herstel. “Hoofpaaie word deur sinkgate versper en dit bemoeilik kommunikasie. Toe die Clifton‑Potgieter-sinkgat gevorm het, het die stad se intranet ingekonk. Dit ontwrig ook dienste soos water, riool en elektrisiteit.”

Mainweg in Irene is al byna ʼn week tussen Nellmapiusweg en Alexandrastraat gesluit nadat die padoppervlak weens ʼn waterlek gesak het.

Die M10-pad (Wierdaweg) naby die brug oor die N14 is ook al maande lank gesluit nadat twee sinkgate in November langs die pad gevorm het.

Die sinkgat in Snake Valleyweg in Centurion. (Foto: Verskaf / Ina Strijdom)

Dié paaie is provinsiale paaie en moet deur die Gautengse departement van paaie en vervoer herstel word.

Ina Strijdom, ook ʼn DA-raadslid in Centurion, sê die sinkgat in Snake Valleyweg (M24) tussen die Ou Johannesburg-pad (R101) en Fjordweg, veroorsaak net so ʼn groot verkeersnagmerrie vir inwoners en plaas enorme druk op die Ou Johannesburg‑pad.

Sinkgate lewensgevaarlik

Sinkgate kan selfs hele huise insluk. In 1964 het die Oosthuizen-gesin saam met hul huis in ʼn massiewe sinkgat in Blyvooruitzicht aan die Wes-Rand verdwyn.

In Cliftonlaan in Lyttelton Manor in Centurion is daar tans ʼn enorme sinkgat wat reeds beduidende skade aan twee huise aangerig het. Inwoners van dié huise moes einde verlede jaar noodgedwonge ʼn ander heenkome vind.

Elvis Mathaba, een van die inwoners, se huis is in November verlede jaar beskadig nadat hul voortuin en grensmuur in die sinkgat verdwyn het. Die skade is nou veel meer en die huis het sigbare krake en skeure opgedoen. Die huis langsaan het al gedeeltelik ineengestort.

Die sinkgat in Snake Valleyweg in Centurion het reeds baie skade berokken. (Foto: Verskaf / Ina Strijdom)

Mathaba, wat nou in ʼn huurhuis woon, sê hy kry wel terugvoer van Tshwane, maar net as hy daarvoor vra. Die metro kan egter nie aandui wanneer hulle die sinkgat sal kan rehabiliteer nie.

“Diewe plunder ook die huise wat deur die sinkgat geraak is. Ek word nie in die gebied toegelaat nie, maar die metro stel ook niemand aan om die terrein te bewaak of die erwe te onderhou nie.”

Farquharson sê die munisipaliteit se geologieafdeling moniteer die situasie, maar maak nie in hierdie stadium enige voorspellings nie.

“Die koste van rehabilitasie sal waarskynlik die bepalende faktor wees. Dit is geld wat die metro nie noodwendig het nie.”

Metro het ‘stelsels in plek’

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê die munisipaliteit het ’n voorvalbestuurstelsel in plek om die voorkoms van sinkgate te hanteer, veiligheid te verseker en die sinkgat te rehabiliteer.

Mainweg in Irene is al ʼn week tussen Nellmapiusweg en Alexandrastraat gesluit nadat die padoppervlakte weens ʼn waterlekkasie gesak het. (Foto: Verskaf / Gert Visser)

“Die aantal sinkgate wissel gedurig aangesien nuwe sinkgate vorm sodra ander herstel word. Ons het drie nuwe sinkgate seder Junie verlede aangeteken, terwyl twee sinkgate vergroot het ná swaar reën in November.”

Mashigo sê die koste van herstelwerk aan ’n sinkgat word deur verskeie faktore bepaal, insluitend die grootte van die sinkgat en die toestand van die terrein.

Volgens hom skakel die metro gereeld met inwoners of eiendomseienaars wat deur sinkgate geraak word. Eiendomseienaars word aangemoedig om hul versekeringsmaatskappy dadelik in kennis te stel wanneer ’n sinkgat vorm. Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die herstel van sinkgate op munisipale grond, terwyl sinkgate op private eiendom die verantwoordelikheid van die eienaars is.

“Waar die veiligheid van ’n struktuur in gedrang is, sal die toepaslike departement ’n ontruimingsbevel uitreik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lillian ·

My vraag is, hoekom word daar in die eerste plek op dolomiet gebou as dit onstabiel is?

Veldskoen ·

Want toe almal 70 jaar terug hier gebou het was ons seker die munisipaliteit sou die infrastruktuur onderhou. Niemand sou kon indink dat die onbekwame en korruptes so sou seëvier nie.

Danie ·

En toe raak almal baie naïef en droom van feetjies en eenhorings…nou 30 jaar gelede…

Anel ·

Die sinkgate is nie as gevolg van die reën. Dit is as gevolg van die nie instandhouding nie. Dit het nog altyd gereën maar nou is daar stormwaterpype en die goed raak verstop met al die gemors, water dam op en die natuurlike gevlog is dit sak weg. Hoekom was daar 30 jaar terug nie sulke oorstromings nie? Alles was beplan. Daar was doprsbeplanning met alles wat daarmee saam gaan. Op sekere plekke is daar nie gebou nie, met rede. Vandag werk dit nie meer so nie. As ek eil plak, dan doen ek dit waar ek wil. As my hut dan oorspoel is dit die regering se skuld en hulle moet voorsien. So, ja. In ander lande sou die gate binne ‘n week toe gewees het. Hier vat alles jare deesdae!!

Danie ·

Dolomiet is, as ek reg verstaan, baie hard maar ook redelik porieës, In Dolomiet is sinkgate soos kanker. As daar nie redelik gou iets daaraan gedoen word nie versprei dit. Seker nie toeval dat na die naamsverandering die verval begin het nie…

Pierre ·

een van die dae is grootste gedeelte van Centurion een groot gat

Truman Burbank ·

En vir baie dekades was daar geen probleme. In die 60’s en 70’s was daar net enkele gevalle in Valhalla.

Truman Burbank ·

Die enigste rede waarom dit so duur is om sinkgate reg te maak en natuurlik so lank vat kan in een woord gegee word. TENDERS

skurweberg ·

Hulle doen net instandhouding as ‘n gat ontstaan, omdat hulle nie weet om sinkgate te voorkom nie. Ons sien dieselfde probleem met die kragvoorsiening. Kortsigtigheid is die siekte se naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.