Centurion-sinkgat: ‘Dit is buitengewoon groot’

Die kruising waar die sinkgat ondergronds gevorm het. Foto: Google Earth

Ingenieurs gaan minstens ʼn week benodig om die presiese omvang van ʼn massiewe sinkgat onder ʼn besige aansluiting in Centurion te bepaal.

Peter Sutton, DA-raadslid van die wyk in Die Hoewes waar die sinkgat onder die aansluiting van Jeanlaan en Gerhardstraat gevorm het, het Donderdag aan Maroela Media gesê ʼn span kenners het die oggend begin om die gebied te evalueer.

Maroela Media het vroeër berig kontrakteurs wat opknappingswerk in die omgewing doen het op die sinkgat, wat nog nie ingeval het nie, afgekom terwyl hulle ʼn in die omgewing gegrawe het. Volgens Sutton is die sinkgat minstens 12 m diep en so groot soos ʼn skoolsaal. Die paddikte tussen die teer en die gat is slegs sowat 75 cm en die kruising is noodgedwonge vir die publiek en motoriste se veiligheid gesluit.

“Die presiese grootte van die sinkgat kon nog nie vasgestel word nie, aangesien die sigbaarheid van kant-tot-kant nie duidelik gemeet kon word nie,” het Sutton gesê.

“Die gat is buitegewoon diep en wyd. ʼn Ingenieursverslag sal in die volgende week voorberei word. Daar sal onder meer sirkelboring moet plaasvind om die presiese omvang van die sinkgat te bepaal.”

Sutton het gesê die gevaargebied word afgebaken en daar sal gepoog word om toegang te skep na die nabygeleë Zenex-vulstasie en omliggende twee sentrums om die kruising.

“Ons sal eers weet hoe lank dit gaan neem om die kruising vir verkeer oop te maak, hoe die gat gevorm het en hoe om die gebied te rehabiliteer as die ingenieursverslag voltooi is.”

Die aansluiting is een van die hoofroetes in Centurion wat nagenoeg 40 000 voertuie per dag hanteer en wat nou van alternatiewe roetes gebruik moet maak.

“Ons besef watter ongerief die sluiting veroorsaak en die stadsraad sal alles doen wat hy kan om die probleem sou gou moontlik op te los.”

Die ingang na die sinkgat. Foto: Via Edward Bromfield / Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Tanya ·

Gaan die sinkgat nie dalk reguit na ‘n bank se kluis toe nie?

Johannes van Rooyen ·

In Japan het ñ sinkgat in die pad wat baie groter is het die mense 24 uur later weer gery tot die strepe was weer geverf
IN SA SÊ hulle dit gaan ñ week vat om die omvang te bepaal DIT IS DIE VERSKIL TUSSEN EERSTE EN DERDE WÊRELD

Dafer ·

Nouja boet as jy dit kan so vinnig doen, hoekom gaan meld jy nie aan nie? In Amerika gaan kyk hulle eers na ‘n week of twee. Om hierdie ding na behore te herstel moet jy eers kyk hoe lyk dit onder die materiaal wat ingesak het, dit regstel en dan die gat opvul. Dit kan selfs maande neem!

Yvonne ·

Wil in Japan gaan bly. Was al baie daar, maar die taal is nie vir ons nie. Maar my gunsteling plek.

Ashley ·

Met die droogte wat ons die laaste tyd ervaar het is ek nie verbaas dat dit die resultaat is nie, en om als te kroon is daar in n 500 m radius soveel nuwe komplekse wat opspring so al daardie dinge het n impak. Baie dankbaar dat dit gevind is voordat dit n slegte geval was! Fantastiese werk aan elkeen betrokke!

Callie ·

Lang gelede was daar kommer oor suur mynwater wat sinkgate tot gevolg kon he?

Paul ·

Daar is geen suur mynwater in die Centurion gebied nie.

Daar is al donkiejare wel sinkgate in Centurion – die geologie daar is van so aard dat dit gebeur.

Niel ·

applous aan die kontrakteurs wat op die sinkgat afgekom het. Bly dit was gevind voor daar ernstige beserings was ens. op ‘n ligte noot… wonder of daar interresante dinge onder in die sinkgat is. Ek het so ‘n maand of 3 gelede op ‘n interresante artikel gelees van ‘n Missouri magnate, Johnny Morris wat ‘n grot-stelsel in ‘n sinkgat opgespoor het op sy golfbane. “Johnny Morris, 68, found the network of caves underneath his golf course” So met al die onlangse artikels oor wieg van die mensdom se nuutste vondse… wie weet… dalk is hierdie sinkgat ‘n belangrike hoogtepunt in die toekoms?

John ·

Die ‘black hole of Calcutta’ eindig bietjie te noord. Nou sal hulle moet duimgooi na Saxonworld of die blouligbrigade sms… Het iemand die nommer van Eskom se hoofkantoor?

Louis Roodt ·

‘n Sinkgat van ongeveer 30 m lank oor die 4 laan wydte van Jeanlaan is ongeveer 5+ jaar gelede herstel net oos van die kruising. Die verweerde dolomiet residue is deur ‘n lekkende waterpyp weggekalwe. Dit is ‘n wonderwerk dat daardie gate nie inval en tot verliese lei nie. Die Stad Tshwane MOET ‘n geologiese moniteringsstelsel bedryf wat veral op die paaie fokus. Hulle is nalatig as hulle dit nie doen nie, want die risiko (waarskynlikheid x omvang van skade) is wel bekend en munisipale paaie is hul verantwoordelikheid. ‘n Gat van die omvang kon met relatief eenvoudige geofisiese metodes reeds opgespoor gewees het.

Dolomite verslag ·

Jy slaap die Spyker op die kop. Veral huise en komplekse in die area moet verplig word om jaarliks dolomiet verslae in te handig. Die sink gate word veroorsaak deur water lekkasies in water pype, rioolpype, stormwater pype ens. Ons kan maar net dankbaar wees iemand het nog nie seer gekry nie.

Neels ·

Dit is nog nie ‘n sinkgat nie, dis op hierdie stadium nog ‘n grot en dit is ‘n normale verskynsel in dolomietgebiede. Eers as die dak ingestort het sal dit ‘n sinkgat wees. Dit maak egter geen verskil aan die feit dat dit onveilig is nie. Dit verbaas my egter dat die owerheid dorpsuitleg goedgekeur het sonder dat daar deeglike geologiese ondersoeke gedoen is. Hulle moes 50 of meer jare terug (voor dorpsontwikkeling) al die area vol toetsgate geboor het. Sulke grotte neem ‘n baie lang (geologiese) tyd om te vorm maar water van bv lekkende pype en stormwater bespoedig net die ineenstorting.

Jan Jooste ·

Owerhede weet lankal van Verwoerdburg se geologiese probleme. Onder andere is Adriaan Vlokop as destydse LV dienooreenkomstig ingelig. Nogtans het die ontwikkelaars elke keer die reg gekry om voort te gaan – totdat die huidige ramp tot stand gekom het.

Alki ·

Dit is nie ver van die Gautreinstasie af nie, en daardie pad is een van die hoofroetes na en van die stasie, oooo hier kom groot verkeersprobleme, sterkte vir al wat daagliks daardie pad moet ry

Altyd reg ·

Julle weet seker Lyttelton is n dolimiet area… En kyk hoe lank was daardie area by die polisie stasie afgekamp wat na fannies toe gegaan het. Dink nie daai is 2km eers weg nie en dan word daar wel vir dolomiet gedelf so om te se daars geen myn aktiwiteit aan die gang nie is vals

Adriaan Hattingh ·

Die enigste dolomiet “myn” is in Botha laan tussen Lyttleton en Irene. Dit is nie ‘n ondergrondse myn nie maar wel ‘n oopgroefmyn of quarry.

Elmer Swanepoel ·

Sowat 60 jaar gelede het ‘n sinkgat ontstaan in die Waterkloof lugmagbasis nadat daar ‘n nuwe’dorp’ binne die area vir die personeel gebou is. Een oggend toe die mense wakker word het die hele swembadkompleks in die aarde verdwyn sodat net die toppe van die elektriese pale sigbaar was.

Louw du Plessis ·

Verstommend hoedat inspeksie dienste en sogenaamde dorpsontwikkeling latere jare net goedgekeur word sonder behoorlike navorsing. Destyds 1968/69 was die gebied (Lyttelton) langs Botha-laan oppad na Irene ook geidentifiseer as ‘n gevaargebied en daar was nie gebou nie – dit was ek dink as n “uitspanning” aangedui. Ongelukkig is daar vandag huise gebou nadat dit destyds as dolomietese gebied met die gevaar van sinkgate beskou was. Wie gaan deesdae die verantwoordelikheid neem in die geval van ‘n ramp, die ONTWIKKELAARS of die Stadsraad.

Suzette ·

Dit is waar, dit was nog nooit ‘n geheim die afgelope 40+ jare dat Valhalla, Voortrekkerhoogte en die hele Centurion dolomiet gebied is en daar is gewaarsku om nie te bou in Centurion nie. Wel soos baie dinge luister mense nie en baie van die sinkgate wat al “ontdek” was in Centurion, haal nooit die nuus nie, al was dit nie so groot nie, ons het ook al een by ons huis gehad (2m by 60cm diep) en dit was ‘n hele paar rand om gerehabiliteer te kry. Die een wat ‘n paar jaar terug in Jeanlaan was, was die pad vir meer as ‘n jaar (kan nie meer so lekker onthou presies hoe lank) gesluit. Ek vermoed ook die woonstelle en ander ontwikkeling wat net bo die grot “wat tog ‘n sinkgat is, want daar is net die teeroppervlak bo die sinkgat en met jare se teer op teer het dit dank Vader beteken die gat het nie al lankal lewensverlies veroorsaak nie”, het ‘n invloed gehad dat die dolomiet gouer ‘n gat gevorm het, met water ens. Al is ons nou nie so gou soos die Jappanners nie, hoop ek regtig saam almal dat daar binnekort ‘n oplossing gevind sal word om daar die sinkgat te rehabiliteer.

Johann ·

Elke keer as ek die berig lees en sien dat die gat uitermate groot is, grinnik ek en wonder, kan die stadsraad nie baie geld uit die groot gat maak deur dit aan Julius te verkoop nie?

Bolander ·

Laaaaank , baie laaaaank gelede het ons in ‘n kommervrye Suid Afrika gebly. Krieket in die pad gespeel, tok tokkie gespeel, laat aande op die grasperk voor die huis gelê en die sterre getel, sommer in die tuin gekamp in jou tentjie en so kan ek voort gaan en voort gaan. Dit breek my hart en siel om te sien en ondervind wat in hierdie pragtige land van ons aan die gebeur is!!!!!!!!!!!!!!! Voel so vreeslik magteloos. Maar ek het myself belowe ek gaan nie op hou bid vir die Vader vir uitkoms nie.

Wegkruipertjie ·

Bolander, wat van wegkruipertjie in die huidige gat?

Gert de Jager ·

Ek hoop die nuwe woonstelblokke oos van die kruising het voldoende voorsorg getref? Ek bou byvoorbeeld ‘n muur in my huis toe om dit 2 eenhede (deeltitel) te maak, en moet weens verdigting (residensieel 1 na residensieel 2) ‘n gat vir geologiese verslag laat boor en ‘n verslag kry. (+- R40 000). Aan die ander kant kan ek planne indien en 300 vk meter aanbou, sonder geologie kostes. Die voorskrifte(“cast in stone”) is vir bewoners se veiligheid.(Raad dra dan nie die risiko indien iets gebeur nie.) Ek woon meer as 50 jaar in Centurion en dis hoog tyd dat daar aan ‘n omvattende plan gewerk word om die dolomite-situasie behoorlik te monitor en te bestuur (die Raad, ander kundiges en leke soos ek wat glo “common sense” kan ook m ‘n bydra maak. Nota: Indien daar tans so plan bestaan, moet inwoners van Centurionasb. daaroor ingelig word!, anders kan mense hier en daar in die toekoms nog hul eie gate sien (gebeur)

Sakkie van der Merwe ·

‘n Sinkgat het bykans 2 jaar gelede in Van Riebeecklaan ingeval. Die pad is nog steeds afgesper en die gat nog nie opgevul nie. Hoe werk dit.

Bolander ·

Sakkie, dit is heel eenvoudig. Die geld wat vir dit bedoel is, is deel van die korrupsie lys van gesteelde geld!!!!!

Gert de Jager ·

Dit word seker gesien as Oom Jan (Van Riebeeck) se gat wat nie so dringend aandag nodig het nie!
Praat met jou plaaslike Raadslid, hulle word baie betaal deur ons belastinggeld om dinge te help bespoedig

Charles ·

Daar was laas week fotos van die sinkgat by die Centurion Hoërskool ook. Dit het nie die nuus gehaal nie.
Weet iemand wat daar gebeur?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.