Centurion-sinkgat: Herstelwerk begin eers dán

Die kruising waar die sinkgat ondergronds gevorm het. Foto: Google Earth

Herstelwerk aan die reusesinkgat wat sedert Mei vanjaar verkeer op een van Centurion se hoofroetes ontwrig, gaan eers in 2018 begin.

Die Tshwane-metro het in ʼn verklaring gesê herstelwerk aan die sinkgat by die aansluiting van Jeanlaan en Gerhardstraat gaan eers in Januarie begin en nie in November soos voorheen verwag is nie.

“Die metro gaan in Desember ʼn kontrakteur aanstel wat in alle erns met herstelwerk in Januarie gaan begin,” het Lindela Mashigo, ʼn woordvoerder van die Tshwane-metro, gesê.

“Die metro vra om verskoning vir die vertraging van die herstelwerk wat in November ʼn aanvang moes neem. Ons was besig om ons verskaffingskettingprosesse te versterk om te verseker dat ʼn vaardige en bekwame kontrakteur aangestel word en dat die prosesse bo verdenking is.”

Mashigo het gesê die perseel sal in Desember aan die kontrakteur oorhandig word, maar dat werk eers in Januarie sal begin aangesien die meeste diensverskaffingsmaatskappye oor die feesseisoen gesluit gaan wees.

“Sodra die perseel oorhandig is, sal die plaaslike raadslid en die kontrakteur na die administratiewe kwessies omsien om werkers uit die plaaslike gemeenskap aan te stel om die werk te verrig.”

Hy het gesê met inagneming van onvoorsiene omstandighede, sal die R25 miljoen-projek na raming nege maande neem om te voltooi.

Die sinkgat het reeds grootskaalse ontwrigting in verkeersvloei en vir die omliggende sakeondernemings veroorsaak.

Maroela Media het vroeër berig kontrakteurs wat opknappingswerk in die omgewing gedoen het, het op dié sinkgat afgekom voordat dit heeltemal ingeval het. Die gat is minstens 12 m diep en so groot soos ʼn skoolsaal. Die dikte van die pad tussen die teer en die gat is slegs sowat 75 cm en die padoorgang is noodgedwonge vir die publiek en motoriste se veiligheid gesluit.

Dié aansluiting is een van die hoofroetes in Centurion wat nagenoeg 40 000 voertuie per dag hanteer en wat nou van alternatiewe roetes gebruik moet maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HENNA ·

SKANDE – dat dit so lank neem met soveel verkeer ontwrigting en besigheid verlies !!!!

susan ·

Ek wag eerder geduldig, voordat verkeerde besluite en halwe werk veroorsaak dat daar ‘n groter gemors verskyn. Die vorige een sinkgat in Jeanlaan het baie langer geneem.

Ella ·

Wat n skande daai straat is maande lank gesluit nou nog langer. Hoe het hulle R25m gekom sonder n kontrakteur se insette en betrokkenheid?

PJC ·

Miskien kan iemand met geologiese kennis vir ons sê hoekom hierdie sinkgate ontstaan. Ek wonder of die onttrekking van ondergrondse water deur myne nie ń bydrae lewer nie. Kan die boor van toetsgate nie help om die sinkgate vroegtydig op te spoor nie.

Ellie ·

Centurion is gebou op dolomiet – ek het ‘n eenheid in ‘n meenthuis kompleks naby hierdie sinkgat waar daar 2 meenthuise gesloop moes word, en 4 “opgehys” kon word nadat ‘n sinkgat daar gevorm het. Die komplekse moet nou almal ekstra versekering uitneem om dekking te kry vir sinkgate wat moontlik kan vorm – dit kos vrek baie geld en is ‘n baie lang proses. So ja – dit is ‘n werklike probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.