Chabane-ongeluk: Trokbestuurder was dalk dronk

Die wrak van die motor waarin minister Collins Chabane, sy bestuurder en sy lyfwag gery het (15 Maart 2015) Foto: @Thabiso_Dlamini, Twitter

Die wrak van die motor waarin minister Collins Chabane, sy bestuurder en sy lyfwag gery het (15 Maart 2015) Foto: @Thabiso_Dlamini, Twitter

Die polisie in Limpopo wag nog vir die uitslag om te bevestig of die vragmotorbestuurder wat betrokke was in die ongeluk Sondagoggend waartydens minister Collins Chabane, sy bestuurder en ʼn lyfwag dood is, onder die invloed van alkohol was.

“Die polisie het ʼn asemtoets gedoen toe die man in hegtenis geneem is,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê. “Volgens dié toets het hy moontlik alkohol gedrink, en hy is gevolglik na ʼn hospitaal geneem vir verdere bloedtoetse.”

Otto kon nie sê hoe lank dit sal duur voordat die uitslag van die bloedtoets bekend gemaak sal word nie.

Die bestuurder is intussen Sondag in hegtenis geneem. “Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag,” het Otto bygevoeg.

Chabane, die minister van staatsdiens en administrasie, en sers. Lesiba Sekele en sers. Lawrence Lentsoane is Sondagoggend omstreeks 01:00 op slag dood toe hulle ʼn vragmotor getref het wat ʼn u-draai op die N1 sowat 30 km buite Polokwane gemaak het.

Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Intussen het Dipuo Peters, minister van vervoer, het Sondag gesê die Padverkeersbestuurskorporasie en die polisie ondersoek die saak.

Jeff Radebe, minister in die presidensie, het intussen aangekondig ʼn spesiale amptelike begrafnis sal vir Chabane gereël word.

Lees alle vorige berigte oor Collins Chabane op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

jacques ·

Lyk meer vir my of daai ou in daai kar n helse spoed gery het,maar sien hy is n minister so sal dan seker die trokdrywer se skuld wees.

Anne ·

Ja hulle ry soos padvarke net omdat hulle dink hulle mag. Die pad verkeers reels is nie op hulle van toepassing nie.

Sarie van Niekerk ·

Ja dit lyk vir my ook as of die minister se motor ‘n helse spoed gery het, om ‘n motor se flenters te ry moes hy die vragmotor teen ‘n vreeslike spoed getref het. Moenie worry nie daar sal nie meer as ‘n jaar gewag word vir die uitslag van hierdie bloedalkoholtoetse nie, dit sal sommer blitsvinnig gereed wees

Hannes ·

Sal sê spoed was faktor, hulle jaag mos soos idiote op ons paie. En niks word gedoen nie.

JoeV ·

Spoed en drank het dalk geen rol gespeel nie. Basiese pad reël by so ‘n dik dubbel wit lyn met geel lyn skei verkeer wat in teenoorgestelde rigtings ry. Lyk of iemand oor daai lyn gery het.

Johan ·

Daai blou stukkie tegnologie wat hierdie blou lig bende laat dink hulle is un-touchable, het toe gefaal. Sal nogal die uitslag van die ondersoek onder oë wil kry.

Neptunus ·

Wat van “Minister se bestuurder het dalk gejaag”? As dit 01:00 die oggend plaasgevind het was die oud-MK-lid se blouligbende dalk moeg, haastig, besope of al die voorgemelde. Kom ons hoop opmetings is korrek uitgevoer, deesdae word dit maar vrotsig indien enigsins gedoen. Waar is die nuushonde onder die persmense, kon niemand gaan foto’s neem en berig hoe lank die remmerke was nie?

Piet Pompies ·

Die disrespek vir padreels deur die boksombende, nee blouligbende is ‘n kombinasie vir padsterftes. Hierdie manne jaag, gaan ander voertuie verby op blinde hoogtes…. As jy so wil ry, kry vir jou!

Schalk ·

Duidelik moes hulle die trok teen n hoe spoed getref het. Dalk, net dalk, word daar nou strenger wette toegepas op die trokke wat dink die paaie behoort aan hulle. Hoeveel mense moet nog hulle lewens verloor voordat die trok drywers vas gevat word?

Jakoos ·

As die trokdrywer wel ‘n u-draai oor die pad gemaak het, is hy nie onskuldig nie. Maar ek sou ook graag wou weet of die bestuurder van die motor nugter was en by die spoedgrens gehou het. Ons weet almal die manne wat die ministers vervoer dink hulle is verhewe bo verkeersreëls.

ig ·

Volgens n Forensiese ondersoeker wat op die toneel was het die voertuig teen omtrent 200km per uur gery.Daar was ook geen briekmerke nie.Die voertuig het 100 meter verder tot stilstand gekom.Dit Mense vertel die verhaal.

EMK ·

Mens wonder ook of die bloedalkoholvlakke van die minister se motorbestuurder OOK getoets was.Sou graag wou weet waarvandaan hul kom daardie tyd van die nag? Partytjie? Nou-ja, dan kan mens mos dink…

EMK ·

Spoed ja, besiste bydraende faktor tot ongeluk. Mens wonder nou net of die bloedalkoholvlak van die minster se motorbestuurder OOK getoets is? Waar sou hulle daardie tyd van die nag vandaan kom? Sekerlik nie van ‘n kerkdiens nie, so mens neem aan daar is ook maar weggelê aan die langnekbottels….

Hendrik ·

Voertuie met ABS los nie briekmerke nie. Dit neem egter ‘n motor met ABS, EBD, ens. 30m op te stop vanaf ‘n spoed van 100km/h. Op 200 km/h sal dit beslig langer neem. 50-60m? Min mense weet dat indien jy jou ligte domp jy jou spoed moet verminder want dan kan jy net 50m ver sien. Wie doen dit of watter motoris is bewus daarvan?

Neptunus ·

‘n Voorwerp wat 200 km/h beweeg reis meer as 50 m/s. Reken dan reaksietyd saam die remtyd en jy sal vind daar is min tyd om ‘n stilstaande trok in die nag te ontwyk. Die trokdrywer is seker die oorsaak maar hier was vir seker bydraende nalatigheid vanaf die oorlede vryheidsvegter se chauffeur se kant af.

Martie ·

Hoop die bloedtoets se uitslag “verdwyn” nie soos die persoon s’n wat my kind doodgery het nie

Eliza-beth ·

Ai, Martie – ek raak sommer ontsteld as ek mense soos jy se kommentaar lees. Wees verseker, en ek weet dit maak nie jou hartseer minder nie, maar wees verseker daar sal wel eendag reg en geregtigheid geskied – indien nie in hierdie lewe wel dan in die hiernamaals.

Charles ·

Ja en soos wat gebeur het toe my sussie se kind ook dood gery is deur polisie man en niks gebeur het nie.Vandag se helde

JJOBSN ·

Spoed/Lawaaiwater is hoofsaaklik oorsake van hierdie grusame ongeluk(ke). Hartseer vir die lewensverlies, laat die ondersoek sy gang gaan want daar moet tog iemand skuldig wees hetsy spoed/lawaaiwater van albei partye en moenie die U-DRAAi vergeet nie.

ig ·

Hopelik sal hierdie U draai veroorsaak dat al die blouligvoertuie ook n U draai (ommekeer) sal maak en ook soos beskaafde mense begin bestuur.Gelukkig was daar nie onskuldige mense ook dood nie.

CHRISTA ·

Hoe het hy doodluiters agter in sy motor gesit terwyl die bestuurder teen so ‘n spoed jag. Ek hoop die ander ministers neem ook nou kennis: Hulle is nie untouchable nie, al het hulle twee lyfwagte.

Des ·

Baie mense sterf weekliks en jaarliks op ons paaie en dit is maar net nog ‘n ongeluk wat nie opgehef word nie. Omdat dit ‘n minster is, word daar nou groot ophef gemaak. ‘n Lewe is ‘n lewe met gesinne, families en naasbestaandes. Wat van daardie mense…..

Willie ·

Ministers is veronderstel om ‘n voorbeeld te stel en aan hulle motorbestuurders te sê om by die padreels te hou. Teen die spoed waarteen hulle gery het sou ‘n stuk vragmotorband, wat jy nie in die nag kan sien nie, moontlik dieselfde gevolge gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.