Chabane-‘sluipmoord’: Bestuurder weer in hof ná aanranding

Die wrak van die motor waarin minister Collins Chabane, sy bestuurder en sy lyfwag gery het (15 Maart 2015) Foto: @Thabiso_Dlamini, Twitter

Die wrak van die motor waarin minister Collins Chabane, sy bestuurder en sy lyfwag gery het (15 Maart 2015) Foto: @Thabiso_Dlamini, Twitter

Die vragmotorbestuurder Amukelani Rikhotso, wat betrokke was in ʼn ongeluk in Maart waartydens die minister van staatsdiens en administrasie gesterf het, het Dinsdag weer in die Polokwane-landdroshof in Limpopo verskyn ná hy glo ʼn kameraman van die SAUK aangeval het.

“Die verdagte het glo die kameraman aangeval deur met sy vuis teen die kamera se lens te slaan,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die kameraman het gevolglik geringe beserings aan sy gesig opgedoen.”

Rikhotso (29) staan tereg op drie aanklagte van strafbare manslag en een aanklag dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het. Hy is vrygelaat op borgtog van R5 000 vir sy beweerde betrokkenheid in die ongeluk.

Minister Collins Chabane en sy lyfwagte, sersante Lesiba Sekele en Lawrence Lentsoane is dood toe Rikhotso glo met sy vragmotor ʼn U-draai voor hul motor op die N1 tussen Mokopane en Polokwane gemaak het. Chabane en sy lyfwagte is op die toneel dood. Rikhotso is nie tydens die ongeluk beseer nie.

Die saak van strafbare manslag is uitgestel tot 25 September, het Otto gesê.

Lees alle vorige berigte oor Collins Chabane op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.