Chanelle Henning-moord: Monye se oproepe, dreigemente bevraagteken

Ambrose Monye Foto: EWN

Oproepe na en van die telefoon van een van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn komplot gesmee het om Chanelle Henning te vermoor, is Maandag in die Pretoriase hooggeregshof bevraagteken.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het dit aan Ambrose Monye, voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, gestel dat die oproepe wat hy op 8 November 2011 gemaak en ontvang het, verband hou met Henning se moord. “Daardie oproepe was ʼn verslag oor die moord,” het Nel gesê. “Dis ʼn leuen,” het Monye geantwoord.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seun by ʼn kleuterskool afgelaai het.

Monye en sy medebeskuldigde, André Gouws, het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ʼn beweerde sameswering om Henning te vermoor.

Die staat voer aan dat Monye en Gouws ʼn komplot saam voormalige polisieman Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse (alias Tattoo) gesmee het. Du Plessis en Pieterse het skuld erken op hul aandeel in die moord en dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit.

Nel het verwys na selfoonrekords wat aandui dat Pieterse vir Monye om 07:31 die oggend geskakel het. Monye het hom direk daarna teruggeskakel. Monye het Pieterse toe weer om 07:38 en om 07:52 geskakel.

Nel voer aan dat Pieterse hom gebel het om hom in kennis te stel dat Henning vermoor is, en dat hy Pieterse toe drie keer geskakel het om te bevestig dat hy weggekom het.

Monye ontken dié aantygings en sê die oproepe het verband gehou met sy verskyning in die hof daardie dag. Hy het Pieterse glo versoek om die hofverrigtinge daardie dag by te woon.

Nel het verder verduidelik hoe Pieterse en Du Plessis glo dae voor die moord, onsuksesvol was om haar te vermoor en dat Monye ʼn ontmoeting by Romans Pizza in Sunnyside, Pretoria gereël het om die “probleme uit te stryk”.

Monye ontken dat hy dié ontmoeting gereël het.

Hy ontken ook dat hy Du Plessis gedreig het toe hy na bewering nie meer aan die moord wou deel hê nie.

Nel sê ook Monye het ʼn betaling vir die moord geëis en Gouws het op 8 November R44 000 uit sy bankrekening onttrek. ʼn Paar dae later is ʼn bedrag van R31 500 glo in Monye se rekening inbetaal. Nel voer aan dit was die betaling vir die moord.

Nel het sy kruisverhoor afgesluit en Daan Mostert, vir André Gouws, sal Monye volgende ondervra.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.