Chanelle Henning-moord: Twee verdagtes kry tronkstraf

Chanelle Henning

Gerhardus du Plessis en Willem Pieterse het Woensdag skuldig gepleit op die moord van Chanelle Henning.

Du Plessis en Pieterse is albei tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir moord en vyf jaar vir die onwettige besit van ʼn vuuwapen en ammunisie. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Die staatsaanklaer, adv Gerrie Nel, het aan die hof bevestig dat ʼn pleitooreenkoms bereik is. Henning se ouers was betrokke by die proses en het die ooreenkoms onderteken. Volgens die ooreenkoms sal Du Plessis en Pieterse teen die ander beskuldigdes in die saak getuig. Die staat het gevra dat Du Plessis en Pieterse albei tot effektief 18 jaar tronkstraf gevonnis word op aanklagte van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die hof het gehoor dat Du Plessis en Pieterse vriende is. Pieterse is glo ʼn kennis van die voormalige Olimpiese atleet, Ambrose Monye (37), wat ook ʼn beskuldigde is in die saak. Pieterse het glo “werkies” gedoen vir Monye. Andre Gouws (47), ʼn beweerde vriend van Henning se eksman, Nico, het glo opdrag aan Monye gegee dat Henning vermoor word. Die hof het gehoor Pieterse het Du Plessis aan Monye voorgestel en hulle het saam met Gouws ʼn vergadering gehou waar Henning se moord beplan is. Gouws het Du Plessis en Pieterse glo gaan wys waar Henning gebly het en waar haar seuntjie skoolgaan. Du Plessis het gesê wou nie voortgaan met die moord nie maar Monye het glo gedreig om sy gesin dood te maak.

Du Plessis en Pieterse is op Dinsdag 8 November na Faerie Glen waar hulle Henning doodgeskiet het nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Du Plessis het Henning doodgeskiet met ʼn vuurwapen wat hy glo by Preshan Singh, nog ʼn beskuldigde in die saak, gekry het. Monye het glo verneem dat die Valke op sy spoor was en het Pieterse beveel om die motorfiets wat in die moord gebruik is te verbrand. Du Plessis het homself ʼn paar dae later aan die polisie oorgegee. Daar is ook redes vir versagtende omstandighede aangevoer waartydens die hof gehoor het dat Pieterse twee kinders het en dat een ʼn gehoorgestremde is. Pieterse en sy gesin woon in ʼn huurhuis terwyl sy vrou die enigste broodwinner is. Pieterse het erken dat hy verslaaf is aan alkohol en dwelms. Du Plessis sê hy het homself aan die polisie oorgegee weens die trauma wat hy ervaar het na die moord. Die hof het gehoor dat Du Plessis vroeër met post-traumatiese stres gediagnoseer is nadat hy op ʼn misdaadtoneel was waar ʼn kind vermoor is. Hy het ook erken dat hy ʼn dwelmverslaafde is.

Singh is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Monye en Gouws sal op 17 Januarie om borg aansoek doen.

Vir ‘n uiteensetting van die gebeure rondom die moord op Chanelle Henning kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leoni Swanepoel ·

Weet julle dis vir my hartverskeurend dat die moordenaar versagtende omstandighede moet kry omdat hy ‘n gestremde kind het. Wat van die seuntjie van 5 wat lewenslank sonder ‘n mamma moet grootword? Dis net ‘n ander tipe van gestremdheid. Word hulle beskerm omdat hulle polisie was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.