Chanelle Henning-saak: Monye se getuienis bevraagteken

Chanelle Henning

Die getuienis van een van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle deel was van ‘n komplot om Chanelle Henning te vermoor, is Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof bevraagteken.

“Waarom lieg jy?” wou staatsaanklaer Gerrie Nel by die voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, Ambrose Monye, weet.

Nel het Monye ondervra oor ‘n ontmoeting tussen hom, sy medebeskuldigde André Gouws en twee ander mans, Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse (alias Tattoo) wat aan die moord verbind word.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ‘n motorfiets doodgeskiet net nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het.

Monye en Gouws het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ‘n sameswering om Henning te vermoor. Die staat voer aan dat die twee mans die komplot saam met du Plessis en Pieterse gesmee het. Du Plessis en Pieterse dien tans tronkstraf van 18 jaar uit nadat hulle skuld erken het op hul aandeel in die moord.

Nel het Monye Vrydag oor ‘n ontmoeting op 4 November 2011 by ‘n Romans Pizza-restaurant in Sunnyside, Pretoria, uitgevra. Monye het getuig dat hy daar was, maar dat hy na ‘n ruk weer daar weg is, aangesien die mans glo net oor kos en in Afrikaans gepraat het.

“Nee, meneer Monye. Jy is die baas. Die hof sal dit nie aanvaar nie,” het Nel gesê. Hy het Monye na sy vorige getuienis verwys waar hy gesê het dat hy nie opdragte van enigiemand anders uitvoer nie. Nel het gesê hy kan nie glo dat Monye sou toelaat dat die mans in ‘n taal praat wat hy nie verstaan nie. Hy sê Monye se weergawe is moeilik om te verduidelik. Monye sê hy kan nie die besonderhede van die ontmoeting onthou nie, hoeveel ontmoetings daar was, of wie dit gereël het nie.

Nel het Monye beskuldig dat hy met opset voorgee dat hy deurmekaar is. Hy het toe deur selfoonrekords bewys dat Monye tydens die ontmoeting op ‘n ander plek in Pretoria was, en dat hy dit dus nie kon bywoon nie.

Nel het ook gesê dat Gouws, Du Plessis en Pieterse getuig het dat hy nie by die ontmoeting was nie. Hy wou by Monye weet waarom hy oor sy teenwoordigheid jok. “Ek kan nie onthou nie,” het Monye geantwoord.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.