Chanelle Henning-saak: “Nico het my gehuur”

Andre Gouws Foto: Werner Beukes, SAPA

Andre Gouws Foto: Werner Beukes, SAPA

André Gouws, een van die mans wat skuldig bevind is op Chanelle Henning se moord, het Donderdag tydens sy vonnisoplegging in die Pretoriase hooggeregshof erken dat Henning se man, Nico, die meesterbrein van haar moord is.

Gouws (49) sê hy is ʼn voormalige polisiebeampte. Die hof het gehoor dat hy vir die eerste keer die “ware” weergawe gee en dat hy dit tot nou toe nie eers met sy prokureur bespreek het nie. Staatsaanklaer Gerrie Nel wou weet hoekom die hof hom nou moet glo, waarop hy geantwoord het: “Want dit is die regte ding om te doen.”

Gouws sê hy het besluit om met die waarheid vorendag te kom nadat hy in sy daaglikse Bybelstudie-boek gelees het: “Wat sou Jesus doen?”

Hy het sy verklaring voorgelees en gesê hy is skuldig bevind aan moord en dat hy sy medebeskuldigde en veroordeelde, Ambrose Monye, aangesê het om Chanelle te vermoor. Gouws is deur emosies oorweldig toe hy die volgende voorgehou het: “Ek is deur Nico Henning gehuur om sy vervreemde vrou te vermoor. Die motief was sodat hy toesig oor sy seun kon kry, omdat Nico die enigste oorlewende ouer sou wees.”

Hy het gesê hy ken Nico al vir 23 jaar lank en het Chanelle ook geken. Volgens Gouws het die egpaar ná die verbrokkeling van hul huwelik probleme ervaar. Hy sê Nico het onder andere probeer om Chanelle in ‘n swak lig te plaas in ʼn poging om toesig oor hul seun te kry. Hy het glo valse verklarings van seksuele aanranding teen haar gemaak, waarna die seun in pleegsorg geplaas is. “Nico het my gehuur om dwelms op Chanelle te plant en hy het my ook gevra om haar te vermoor, maar ek kon dit nie self doen nie, so toe huur ek op my beurt vir Monye.”

Gouws sê Nico het hom na Chanelle se huis geneem en hom gewys watter roetes sy werk en skool toe volg. Hy het dié inligting aan Monye verskaf, wat op sy beurt weer die inligting aan die twee skieters, Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse, oorhandig het. “Nico het vir my kontant gegee om die motorfiets te koop wat tydens haar skietery gebruik is. Die oggend van haar moord het ek van Monye verneem die sluipmoord het plaasgevind en dat hy sy geld soek. Nico het ná die moord geweier om met my te praat. Een van sy vriende het vir my gesê dit kan wees omdat hy op medikasie is.”

Nico het hom glo R1 miljoen vir die moord aangebied, maar hy het tot vandag toe glo nie ʼn sent van die geld gesien nie. Monye sou R50 000 van dié geld gekry het.

Daar is in die stadium geen aanduiding of Nico in hegtenis geneem gaan word nie.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het. Du Plessis en Pieterse, wat selferkende dwelmverslaafdes is, dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuldig gepleit het dat hulle haar geskiet het.

Die saak duur voort.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henko ·

Gouws het baie gelieg, maar ek is geneig om hom dié keer te glo. Weet nie eers of ek moet sê ja, so lees elke misdadiger in die tronk die Bybel en kom tot “bekering” – maar ek gaan hom die voordeel van die twyfel gee. Ek dink meeste mense het geweet (vermoed) dat Nico die baasbrein is. Gouws en sy medepligtige is klaar gevonnis, dus, hulle het niks om te verloor deur nou die waarheid te praat nie. Waarom alleen gaan sit? Passop net dat Nico nie vlug nie.

Jasper ·

Die getuienis moet nou bewys word. Ek hoop die ondersoekbeampte is op en wakker.

Elize Grundling ·

Snaaks genoeg, ek het van die begin af vermoed hierdie pes het iets met sy eks vrou se dood te doen. Slapgat – dan wil hy ‘n goeie pa vir sy seuntjie wees ?? Laat hy saam met ander in die tronk gaan sit en vrot !!!

Linda ·

Persoonlik dink ek was daar nie n ander skuldige as haar man van die begin af nie – wie anders sou baat uit haar dood – so kom die waarheid uit al bring die kraai dit uit…. dat die polisie so gou besluit het haar man is nie skuldig nie is snaaks – het hy iemand in sy sak? In elk geval Boet jy gaan steeds sit – hoop jou vriend was hierdie opoffering werd…

linda ·

Meeste mense het van die begin af vermoed haar man was betrokke – wie anders sou uit haar dood baat – die feit dat die polisie so gou op hom opgegee het is vir my snaaks – het hy dalk iemand in sy sak? Die waarheid kom uit al bring die kraai dit uit – jy gaan steeds sit boet

mariaan ·

Dit het nie enige speurvernuf gekos om te weet wie die opdrag gegee het nie. Dit is net verstommend dat die polisie hom nooit arresteer het of selfs verdink het nie. Nou is hy nog steeds nie gearresteer nie. Waarskynklik om hom kans te gee om te vlug. Mens kan nie anders om tot die gevolgtrekking te kom dat iemand in die polisie deel van die beplanning was nie en nou probeer spore dood vee nie. Geld praat hier baie hard!!

Babs ·

Het Gouws nie Bybel gelees voor hy tronk toe is nie. Snaaks hoe almal bekeer word wanneer hulle “sit” maar as hulle daar uitkom is dit maar weer terug na die ou lewe. As hy die regte ding gedoen het en Nico Henning verkla het, sou die moord nie plaasgevind het nie.

hyla ·

Is alles goed en wel< maar hoekom was die mense bereid om te sit vir Nico, en nou eers uit te kom met die waarheid. moes mos gepraat het toe hulle besef hulle is vas!!!!En intussen ly n klein seuntjie, maak n pa wat sy kind lief het nou so?????Ouma en Oupa het n groot taak vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.