Chanelle Henning-saak: Vermeende moordenaars het “saamgesweer”

Chanelle Henning

Chanelle Henning

Die Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Woensdag aangehoor daar is genoeg bewyse wat daarop dui dat die voormalige Nigeriese Olimpiese atleet, Ambrose Monye, en sy vriend, André Gouws, saamgesweer het om Chanelle Henning te vermoor.

Aanklaer Gerrie Nel het die hof gevra om Monye en Gouws skuldig te bevind aan sameswering tot moord.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het. Andre Gouws en sy medebeskuldigde, Ambrose Monye, het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ʼn sameswering om Henning te vermoor. Die staat voer aan dat Monye en Gouws ʼn komplot gesmee het saam met die voormalige polisieman Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse (alias Tattoo). Du Plessis en Pieterse, wat self erkende dwelmverslaafdes is, dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuldig gepleit het op hul aandeel in die moord.

Du Plessis en Pieterse het impliseer dat Monye en Gouws ʼn aandeel aan Henning se moord gehad het. Monye en Gouws is vriende met Henning se man, Nico Henning. Chanelle was in daardie stadium van Nico vervreem en het met regstappe begin om toesig oor hul kind te bekom, voor sy vermoor is.

Monye is later in die Pretoria-landdroshof vrygespreek op ʼn aanklag van moord. Hy het erken dat hy die twee moordenaars aan Gouws bekend gestel het, maar het niks van die moord geweet nie.

Gouws het erken dat hy Henning se bewegings dopgehou het, op Nico se versoek, om te sien of hy haar met dwelms kan betrap. Hy het ontken dat hy die moord gereël het.

Nel het aangevoer dat die hof die getuienis van Du Plessis en Pieterse se weergawes moet aanvaar, want dit was konsekwent en kan bevestig word deur bewyse. Hul bewerings dat daar verskeie ontmoetings was op spesifieke dae by spesifieke plekke, is later deur die Monye en Gouws self ook bevestig.

Nel het Monye en Gouws beskryf as die ergste getuies wat hy ooit ontmoet het. “Hulle was oneerlik en het hul weergawes van die gebeure gereeld aangepas. Hul weergawes is boonop nie net onwaarskynlik nie, maar ook onmoontlik,” het hy gesê.

Nel het verder ook gesê slegs Nico Henning kon inligting aan Gouws bekend maak soos waar Chanelle gewoon en gewaar het, asook waar die kleuterskool was.

Nel het voorts gesê Gouws het kontak met Nico vermy die dag ná die moord, maar kon egter nie die aand van die moord die versoeking weerstaan om sy vriend “geluk” te wens en te sê hoe trots hy op hom is nie. Nel het gesê dít het uitgekom nadat “Nico gedink het hy het goed gevaar in ʼn leuenverklikkertoets”.

Matthew Klein, Monye se prokureur, en Daan Mostert, Gouws se prokureur, het aangevoer dat die hof versigtig moet wees om die getuies van twee selferkende dwelmverslaafdes, moordenaars, diewe en mede-oortreders te glo.

Klein het gesê die staat se saak is gegrond op omstandigheidsgetuienis en die staat kan nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie.

Mostert het aangevoer dat die moordenaars in besit was van die moordwapen, lank voor hulle Gouws ontmoet het en dat Gouws se weergawe dat hy enigiets met hulle bespreek het, redelik en moontlik waar is.

Die hof sal op 25 November oordeel lewer.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JAVR ·

Absoluut Vuurvreter! Niemand het iets uit hierdie sinnelose moord gebaat nie! En die lydende party is die familie en kind! Dis so siek!

Waaksaam ·

Hulle is skuldig … ek het hierdie saak van die dag wat dit gebeur het gevolg … die hof kan nie anders as om hulle skuldig te bevind nie, hel man !
Kom ons hoop wel dat gereg sal seevier in die geval soos met kotze !

Trippie ·

Om een of ander rede dink ek steeds, Mnr Henning homself. Geld wat stom is maak reg wat krom is, MAAR ek mag natuurlik HEELTEMAL verkeerd wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.