Chanelle Henning se moordenaars kan appèl aanteken

Chanelle Henning Foto: platinumweekly.com

Chanelle Henning Foto: platinumweekly.com

Chanelle Henning se veroordeelde moordenaars Ambrose Monye en Andre Gouws, se aansoek om verlof tot appèl is Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof toegestaan.

Regter Johan Kruger het die twee mans op 5 Januarie tot lewenslange tronkstraf gevonnis en hulle as geharde, koelbloedige moordenaars beskryf.

Monye en Gouws het skuld erken op hul aandeel in die jong ma se huurmoord nadat hulle skuldig bevind is, maar Kruger het bevind die twee het dit slegs gedoen in die hoop op ʼn ligter vonnis.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het slegs ʼn vonnis van 20 jaar geëis.

Chanelle Henning is in November 2011 in Faerie Glen, Pretoria-Oos, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Voormalige polisieman Gerhardus du Plessis en sy vriend, Willem Pieterse, het al twee skuld beken op die moorde en is elk tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Nico Henning is in Desember 2013 in hegtenis geneem kort nadat Gouws getuig het hy het hom R1 miljoen aangebied om sy vervreemde vrou te vermoor. Hulle was in ʼn hofgeding gewikkel oor toesig vir die seuntjie. Nico moet op 3 Junie weer in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met ʼn aanklag van moord, maar ʼn datum is nog nie bepaal vir sy hofsaak nie.

Monye het erken hy het as tussenganger opgetree en die huurmoordenaars gereël nadat Gouws hom R50 000 aangebied het. Hy voer aan hy het nooit vir Chanelle ontmoet nie.

Monye en Gouws se prokureurs voer aan die lewenslange vonnisse is “skokkend onvanpas” en kan ander oortreders ontmoedig om skuld te beken. Al twee het aangevoer die hof moes bevind het dat die omstandighede ʼn ligter vonnis regverdig. Die prokureurs het ook aangevoer die twee mans het hul volle samewerking aan die staatsaanklaer en die polisie gebied om die meesterbrein vas te trek.

Jan van Rooyen, vir Gouws, het gesê sy kliënt is die enigste persoon wat die vermeende meesterbrein direk aan die misdaad kan koppel en sy getuienis is noodsaaklik vir die suksesvolle vervolging van die vermeende oortreder.

Matthew Klein, vir Monye, het aangevoer die vonnis sluit die deur vir toekomstige soortgelyke sake waar ʼn beskuldigde moontlik sy samewerking aan die polisie kan bied. -SAPA

Lees alle berigte wat met Chanelle Henning verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

leana ·

Daar is NIKS wat die seuntjie se moeder gaan terug bring nie. Ook nie die ouers se dogter nie. Hou hulle waar hulle is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.