Chanelle se pa blameer haar man vir moord

Chanelle Henning

Chanelle Henning se pa glo haar vervreemde man, Nico, is die enigste persoon wat voordeel sou trek uit haar moord, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gehoor.

André Gouws, een van Nico Henning se beste vriende, en Ambrose Monye, voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde sameswering om Henning te vermoor.

Chanelle Henning, ‘n onderwysersassistent, is op 8 November 2011 in Faerie Glen, oos van Pretoria, glo deur twee mans op ‘n motorfiets doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Gerhardus du Plessis, voormalige polisieman en Willem “Pike” Pieterse, het skuldig gepleit op hul aandeel in die moord en dien elk tans 18 jaar tronkstraf uit.

Ivan Saincic, Henning se pa, het Dinsdag getuig dat hy en sy vrou Sharon glo Nico is die enigste persoon wat voordeel sou trek uit hul dogter se afsterwe. “Dis definitief hoe ons voel. Hy kry toesig oor die kind. Hy hoef nie onderhoud te betaal nie. Hy is die enigste persoon wat voordeel uit haar afsterwe sou trek,” het hy gesê.

Saincic en Sharon het egter nietemin later toesig oor die kind bekom, en Nico betaal die skoolgeld. “Ek dink nie Nico het ooit gedink daar bestaan ‘n moontlikheid dat die kind na enigiemand anders toe sou gaan nie.” Saincic het getuig dat sy dogter en haar man net meer as vier jaar lank getroud was, maar dat hul verhouding reeds ‘n geruime tyd onder spanning verkeer het. “Daar was altyd prokureurs en sielkundiges betrokke in enige besluit wat gemaak moes word sover dit toesig aangaan,” het hy gesê.

Tydens die laaste deel van hul huwelik het Chanelle in Pretoria gebly, soms saam met haar ouers, en het werk by ‘n skool in Pretoria gekry. Sowat 18 maande voor haar moord het sy Nico vir ‘n egskeiding gedagvaar, en onderhoud en ‘n bydrae tot haar regskoste geëis. Nico het glo in daardie stadium ‘n dringende aansoek vir toesig van die kind gebring. “Dit het tot ‘n hewige regstryd gelei. Die kind is weggeneem en is vir agt maande lank in pleegsorg geplaas. “My dogter en Nico moes deur allerhande ondersoeke gaan om te bepaal wie die kind sou kry,” het Saincic verduidelik. “My dogter het uiteindelik in Desember 2010 toesig oor die kind bekom. Daar was talle aantygings van wangedrag. Dit is waarom die kind in pleegsorg geplaas is.”

“Sedert die eerste aansoek was daar ‘n voortdurende stryd om geld uit Nico te kry. Hy het haar R5 000 per maand betaal, waaruit sy huur, kos, en alle ander uitgawes moes dek. Die regskoste het die familie finansieel onder druk geplaas.” Saincic sê hy het op die Vrydag voor sy dogter se moord ‘n deposito van R10 000 betaal vir ‘n Reël 34-aansoek vir onderhoud, nadat Nico se beloftes oor ‘n finansiële skikking nie vrug afgewerp het nie.

Hy sê Nico het talle aantygings teen sy dogter gemaak, insluitend dat sy lui was en nie gedoen het wat sy veronderstel was om te doen nie, maar daar was geen aantygings oor dwelmgebruik nie. ‘n Finale verslag oor toesighouding moes nog uitgereik word, aangesien die familie nie daarvoor kon betaal nie. Dit het later in die hof duidelik geword dat die advokaat, wat die verslag moes opstel, bepaal het dat Chanelle toesig oor die kind moes kry.

Saincic sê Nico werk vir homself, het ‘n hele aantal besighede en is betrokke by konstruksiewerk. Hy is bewus daarvan dat hy vroeër as ‘n advokaat praktiseer het.

Patoloog prof. Gert Saayman het getuig dat Chanelle dood is weens bloedverlies as gevolg van ‘n skietwond. Sy is in die regter boarm en van regs tot links in die bors geskiet wat die aorta en beide longe perforeer het.

Die saak duur voort.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.