Skrander leerling se lewe verander ingrypend ná val by skool

chanté-janse-van-rensburg

Chanté Janse van Rensburg twee weke voor haar ongeluk. Foto’s: Verskaf

Hulle is geïntimideer en gedreig tydens ʼn jarelange Dawid vs. Goliat-hofsaak, maar dit het nie ʼn ouerpaar van Drie Riviere in Vereeniging afgeskrik om vir hul dogter te veg nadat sy onder raaiselagtige omstandighede by haar laerskool geval het nie.

Chanté Janse van Rensburg, wat Maandag haar 15de verjaardag gevier het, was agt jaar oud toe haar lewe op 22 Julie 2008 handomkeer verander het. Sy was ʼn leerling aan Laerskool Risiville en het op die verhoog uitgeblink as ʼn sanger, danser en model.

“Die kind wat ek daardie dag by die skool afgelaai het, is nie dieselfde een wat ek teen 13:45 opgelaai het nie,” het Chanté se ma, Carin, Woensdag aan Maroela Media gesê.

“Sy was gesond en lewenslustig toe ek haar gaan aflaai het, maar toe ek haar gaan oplaai, het ek gesien daar is groot fout. Haar gesig was erg geswel. Sy kon nie haar balans hou nie, was naar, duiselig en het gesê haar kop is seer. Niemand by die skool kon vir my sê wat gebeur het nie. Die skool het my ook nie deur die dag laat weet dat iets fout was nie, selfs al was sy die grootste deel van die dag in die siekeboeg.”

Carin het Chanté, wat slegs kon onthou dat sy haar kop gestamp het maar steeds nie die omstandighede van die val kan oproep nie, na hul huisdokter geneem waar sy vir harsingskudding behandel is.

Carin en haar man, Anton, het kort daarna besef daar is groot fout nadat hul dogter 6 kg verloor het, haar gesig steeds geswel was en sy aanhoudend gekla het oor hoofpyn en naarheid. Sy is na verskeie dokters en neuroloë geneem, waarna vasgestel is dat sy ʼn skedelfraktuur en breinswelling opgedoen het en ’n lekkasie van serebrospinale vloeistof (SSV), die vloeistof wat die brein en rugstring omring, op vier plekke aan haar kopbeen het.

Die egpaar moes intussen by Chanté se maatjies vasstel dat sy glo die oggend om 08:00 tydens kooroefening geval en haar kop teen ʼn klavier gestamp het. Die onderwysers wat tydens die voorval daar was, het dit blykbaar nie opgemerk nie en die skool se kringtelevisiekameras het dié dag glo nie gewerk nie. Tot vandag toe weet die egpaar nie wat werklik met hul dogter gebeur het nie.

chanté-janse-van-rensburg

Chanté ná haar breinoperasie in 2009.

Chanté, toe nege jaar oud, het op 25 Augustus 2009 ʼn breinoperasie van agt ure ondergaan om twee van die SSV-lekplekke te herstel. Die ander twee kon nie herstel word nie omdat dit glo mikroskopies klein was. Sy het nie ná die operasie na wense herstel nie en epileptiese toevalle begin kry, terwyl sy ook emosionele probleme gehad en ʼn persoonlikheidsverandering ondergaan het.

Die Gautengse departement van onderwys het destyds bevind die skool is nie verantwoordelik vir Chanté se besering of mediese onkostes nie. Die egpaar was nie tevrede hiermee nie en het besluit op regstappe. Die hofsake het in 2010 begin toe hulle die Gautengse LUR vir onderwys gedagvaar het.

“Daar was ʼn houding van ‘jy is ʼn haarkappertjie en jou man is ʼn bouer, julle gaan nie die staat kan aanvat nie’,” het Carin verduidelik.

Die egpaar moes twee voertuie, twee huise en Carin se haarsalon verkoop om vir Chanté se mediese onkoste en die regskoste te betaal. “Ek moes my salon opgee om na Chanté om te sien, omdat sy voltydse sorg nodig gehad het.”

chanté-janse-van-rensburg

Chanté ná haar operasie in 2009.

Ses jaar later, op 19 Maart 2015, is die saak uiteindelik in die Johannesburgse hooggeregshof afgehandel toe die departement en die egpaar op ʼn 50/50-skikking op meriete en geldwaarde ooreengekom het. “Dit is ʼn billike skikking. Ons is tevrede en verlig dat die nagmerriesaak nou afgehandel is.”

Carin het gesê die skikkinggeld gaan in ‘n trustfonds belê word. Die geld sal gebruik word vir die jarelange behandeling en terapie wat steeds vir Chanté voorlê.

In die afgelope agt jaar het sy meer as 27 verskillende dokters gesien en verskeie toetse ondergaan en haar pad na ʼn volkome herstel is volgens Carin nog lank. “Sy is van medikasie afhanklik om daagliks deur die dag te kom. Sy het steeds epilepsie, depressie, post-traumatiese stres en kry steeds erge hoofpyne en naarheid.”

Sy het onlangs nog toetse en skanderings ondergaan en daar is vasgestel dat die twee SSV-lekke wat reggemaak is, weer herstel moet word tydens ʼn 23 uur lange operasie.

“Maar dit sal die laaste uitweg wees omdat die risiko vir permanente skade te groot is. Ons gaan eers stamseloorplantingbehandeling probeer om te kyk of dit nie sal sorg dat die lekplekkies self genees nie,” het Carin bygevoeg.

Chanté kan nie meer in ʼn hoofstroomskool funksioneer nie en is ʼn leerling aan Destinata Skool waar sy volgens haar ma akademies goed vaar. Sy kan glad nie aan buitemuurse aktiwiteite deelneem nie.

“Die jarelange hofgeding-nagmerrie is verby, maar die realiteit van Chanté se toestand duur voort. Ons gaan alles in ons vermoë doen om seker te maak dat sy die beste behandeling ontvang om te herstel. Ons wil ʼn boodskap aan ouers uitstuur dat dit belangrik is indien iets soortgelyk met hul kinders gebeur, dat hulle nie bang moet wees om stappe te doen nie en ook nie geïntimideer moet word nie. Moet nooit moed opgee nie, al kos dit jou wat,” het Carin gesê.

Chanté se verhaal het in 2010, omtrent ʼn jaar na haar breinoperasie, talle hartsnare geroer toe sy op die Idols-musiekkompetisie verskyn het en ʼn “Idol” vir ʼn dag was. Sy is weens haar verhaal toegelaat om aan die oudisies deel te neem selfs al was sy toe net tien en nie 16 soos vereis word nie. Carin het die vervaardigers van die ongeluk vertel en gesê sy sal dalk nie die gerief van tyd hê om tot 16 te wag om deel te neem nie. Sy het die sangoudisie met lof geslaag en ʼn goue kaartjie gekry om na die uitdunrondtes by Sun City te gaan. Sy kon egter nie met die kompetisie voortgaan nie omdat sy te siek was. “Maar ons is vol moed dat wanneer sy 16 word, sy weer aan die kompetisie gaan deelneem en tot die heel einde sal deurdring,” het Carin gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Dit is die Departement Basiese Onderwys wat, strydig met die Grondwet, beweer dat die staat “shared responsibility” het vir die versorging van kinders.

Maar sodra dinge in hul eie instellings verkeerd gaan, laat hulle die ouers met die gebakte pere. Dan is daar van die staat se “share” in die verantwoordelikheid geen sprake nie.

manmdie ·

Julle is in ons gebede sy sal genees word julle moet net glo en vertrou. Sys n pragtige kind met baie talente. Sterkte aan julle. My kind is so 3 weke terug by die skool van die trappe af gestamp en niemand ht my gebel ni, syt ha arm seer gemaak, ons het haar hospitaal toe gevat maar gelukkig is haar arm nie erg beseer ni. En vreydag word sy weer gestamp van die trappe en die juffrou sien dit , lag en loop verby help ni eers my kind ni. Toe ek gaan praat daaroor toe word dit gese, mevrou jou kind lieg. Hulle is nie eers meer veilig by die skole nie

Leendert van Oostrum ·

Mevrou ,

Die Kinderwet bepaal dat jy (ja, die ouer) jou kind moet beskerm teen mishandeling soos hierdie. Jy het probeer om die personeel te beweeg om jou kind te beskerm, en nie daarin geslaag nie.

Dit lyk vir my dat, as jy jou kind in daardie skool los kan jy ingevolge die Kinderwet skuldig wees aan die verwaarlosing van jou kind. Doelbewuste verwaarlosing van ‘n kind kan met tot tien jaar tronkstraf en ‘n boete gstraf word.

KarooKlong ·

Laerskool Risiville is in Risiville, nie in Drie Riviere nie.

Frik ·

Karooklong, soos ek die berig lees is die ouerpaar van Drie Riviere, ek merk nie dat die berig beweer dat Laerskool Rissiville in Drie Riviere is nie.

Leeutjie ·

Dit is so tragies. My 2 seuns was beide in Risiville Laerskool in Risiville en dis so jammer dat dit juis daar gebeur het. Tot vandag toe verlang hulle terug na daardie skool. So ‘n ongeluk kan by enige skool gebeur. Risiville is ‘n voorslag skool in akademie en sport en sekerlik die mees netjiese skool van die skole in die Vaaldriehoek. Hulle onderwysers is puik en dis werklik jammer dat die dogtertjie daar moes seerkry. Dis ‘n ongeluk en ek is seker dat as die onderwysers dit sou agtergekom het hulle daadwerklik sou optree.

KarooKlong ·

Frik, Phillip het sy foutjie reggemaak kort nadat ek hom reggehelp het.
Dankie vir jou inset.
Karoo groete

Charlene ·

Aai dis so `n hartseer verhaal wat as `n “onderwyser” haar werk gedoen het, soveel anders kon wees. As `n mamma gaan staan my hart omtrent is ek met die “ouma” van die kleuterskool praat. Veral omdat my dogtertjie so ongelooflik rof is. Die mamma in die verhaal is so sterk en alles, ek ek glo `n breinoperasie sal nie nodig wees nie – ek en ek kan jou belowe baie ander mamma’s (en pappa’s) bid saam jou dat jou dogtertjie gou genees sal word. Kinders is ware perels van die Here. Ek is baie bly die hofsaak is verby (ek sou sê hulle moes vir alles betaal) Sterkte vir julle pad wt nog voorlê

Elfie ·

Dis net jammer dat al die geld in die wêreld nie weer die pragkind sal terugbring na wat sy voorheen was – 100% reg en ‘n uitblinker.

Romano ·

vicarious liability… Dit wil nou se dat hulle heeltemal verantwoordelik moet gehou word. die definisie van “care” asook sekuriteit moet na gekyk word. Nalatigheid in die oe van ons wet, insluitend “Children’s Act 38 of 2005” en ons Konstitusie is geen verskoning/verdediging teenoor verantwoordlikheid sou ‘n kind onder die toesig wees van iemand op ‘n tydelike basis soos bv tydens skool tyd. Ek dink ongelukkig in vandag se samelewing is die doel van mense in ‘n regshoedanigheid om geld te maak. My gebedes is met julle

Theresa ·

Ek bid dat sy volkome sal herstel. Ek hoop ook daar is dokters wat hierdie berig lees wat weet wat hulle doen en bereid sal wees om hierdie mense te help sodat Chantè die regte behandeling sal kry en nie na die een Dr na die ander hoef te gaan nie.

CR ·

As mammie en pappie nie geld het nie is jou kind niks in Laerskool Risiville nie. As dit nou mense met hope geld was, sou hulle haar dadelik gebel het want hulle wil nie die “cash cows” verloor nie. Sterkte vir julle en jul dogtertjie.

Leeutjie ·

CR: Dit is nonsens. Ons het ook nie geld gehad nie en ons kinders was in daardie skool so gelukkig dat hulle tot vandag toe dit onthou. Daar was ryk kinders en ja, daar is lapas gebou, maar ons het gedeel aan die geriewe. As gevolg van die ryk ouers is die skool beslis die mooiste en die omgewing in Risiville is ‘n plek waar ek weer graag sal wil bly.

Pierre ·

Ek stem saam dat ongelukkige gebeur Leeutjie, maar vir onderwysers om vir 5 ure om nie agter te kom dat ‘n kind harsingskudding het nie is baie nalatig!! En die departement vind dat dit nie die skool se skuld was nie?

Susan ·

My hart gaan uit vir Chante . Mag die Here haar help dat sy volkome sal gesond word. My broer het ook n brein operasie gehad na dat hy 3 beroertes gehad het en twee are wat gebars het . Sy brein operasie was gedoen in Krugersdorp Hospitaal . Die dokter wat sy brein operasie gedoen het was wonderlik die beste spesialis ooit!!! . My broer het wonderlik gesond geword kry ook epeleptisie aan valle maar hy is op baie medikasie wat help om dit te verlig . En mense ek kan vir julle se dis n wonderlike hospitaal ,veral die ICU afdeling waar hy lank moes gebly het . Die Dokters en personeel in daai hospitaal is almal die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.