Chaos buite Bloemhof-polisiestasie oor inhegtenisneming

Argieffoto

Sowat 600 betogers brand sedert Maandag buitebande en bestook voertuie met klippe buite die polisiestasie in Bloemhof, Noordwes.

Die betogers dring daarop aan  dat ’n vermeende verdagte vrygelaat behoort te word. Die 28-jarige verdagte is Maandag in hegtenis geneem.

Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, verduidelik dat die verdagte reeds in die Bloemhof-landdroshof verskyn het op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer asook ontvoering.

Die verdagte is inhegtenis geneem ná ’n voorval op 11 Januarie tussen taxi-eienaars, taxi-bestuurders en lede van die gemeenskap. Volgens Makau is sowat vyf mense ernstig beseer toe ’n bakleiery tussen lede van die taxi-gemeenskap uitgebreek het. Een van die beseerdes is gehospitaliseer vir verdere behandeling.

Volgens Makau is dit in die stadium nog onduidelik wat presies tot die konfrontasie gelei het, maar die verdagte het glo iemand tydens die voorval aangerand. ’n Persoon is ook glo tydens die voorval ontvoer.

Die N12 uit die dorp in die rigting van Warrenton was vir ’n kort tydperk deur die betogers versper en moet, indien moontlik, Woensdag vermy word aangesien die verdagte weer in die hof sal verskyn om aansoek om borgtog te doen.

Makau het gesê dat nog inhegtenisnemings binnekort sal volg in verband met die voorval.

Geen voertuie is gedurende die betoging beskadig nie en die polisie monitor tans die situasie buite die polisiestasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gatvol ·

Hulle Kan net sowel die land afbrand en klaar kry. Dit gaan nooit einde kry nie.

Manie ·

Julle buurland het mos die laaste week vir julle gewys hoe werk n regering met betogers

Wurmpie ·

Neem hulle ook in hegtenis dan kan hul saam in die tronk kuier

Msp ·

AI, verkiesing tyd dan kan krimmenele hulle sakke vul sonder om om te gee vir vervolging.

At Dippenaar ·

Ek woon in Bloemhof. Sedert Dinsdagoggend het die dorp buna tot stilstand gekom. Besighede het gesluit en Woensdag het selfs die grootste supermark nie eens geopen nie. Honderde inwoners van die swart woonbuurt Boitumeleng het Woensdagoggend na die landdroshof opgeruk em eis die vrylating van oproermakers wat Dinsdag in hegtenis geneem is. Bloemhofinwoners self is onseker wat aangaan en die dorp is vanoggend totaal verlate.

Mel ·

Ek woon ook hier. En dit is belaglik. Mense word gedreig om hul besighede te sluit. Hle het gister n garage in gestorm met sambokke en mense gedwing om toe te maak. Ek kan net wonder hoe hulle dink die kos vandaan moet kom as daar nie besigheid is nie. En selfs die kinders word hulle geleerdheid geweier. Hoe moet die mense wat hulle geld eerlik verdien hulle families versorg as hulle nie mag werk nie? Die betogers moet die gereg sy gang laat gaan en ophou mense dreig want hulle benadeel net hulself meer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.