Chaos by Dbn-hawe kan vertragings beteken, pryse laat opskiet

Die vraghouerterminaal by die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Voortdurende vertragings wat veroorsaak word deur ʼn ernstige agterstand by die Durbanse hawe – die land se grootste – is besig om die Suid-Afrikaanse logistieke stelsel in chaos te dompel.

Volgens Roy Thomas, bedryf- en logistieke direkteur by Hume International, kan dit pryse van verbruikersgoedere in die komende maande laat opskiet en moontlik ʼn tekort aan sekere produkte veroorsaak.

“Voorspellings toon dat dit tot drie maande kan neem om vaartuie wat tans by die hawe geanker is, se vrag af te laai. Dit voorspel baie slegte nuus vir verbruikers oor die feestyd, veral gegewe die verhoogde aanvraag oor die tydperk en die feit dat die meeste gesinne vanjaar beperkte begrotings nog verder wil rek.

“Ongelukkig moet verbruikers gereed maak vir ʼn paar moeilike maande wat voorlê.”

Hy sê wat die situasie verder vererger, is die feit dat ʼn aantal vragvervoerders nou bykomende heffings teen invoerders instel weens die vertragings wat by die Durbanse hawe veroorsaak word.

“Alhoewel hierdie heffings nog nie teen bevrore en verkoelde vragte gehef is nie, raak dit byvoorbeeld die droëbestanddeelprodukkategorie soos eierpoeier.

“Ongelukkig het invoerders eenvoudig nie die vermoë om hierdie styging in koste te absorbeer nie, en hulle word met geen ander keuse gelaat as om pryse daarvolgens aan te pas nie.

“Dit het op sy beurt ʼn impak deur die hele voorsieningsketting en sal uiteindelik die verbruikers se sakke knou,” sê Thomas.

Inkomende vaartuie word na ander hawens herlei om die bottelnek te probeer verlig, maar Thomas glo dat hierdie hawens dalk ook nie die nodige kapasiteit het om die druk van ʼn vinnige toename in vragverkeer doeltreffend te hanteer nie.

“In ooreenstemming met ons strategie om baie van die vragte weg van Durban af te herlei, het ons met ons verskaffersbasis in gesprek getree om ʼn plan te ontwikkel wat ons sal toelaat om voort te gaan om produkte na Suid-Afrika te stuur om die voorsieningsketting aan die gang te hou.

“Hume International kyk byvoorbeeld tans na die herlei van vrag na Port Elizabeth en Kaapstad. Dit is egter nie ʼn kitsoplossing nie en die koste vir hierdie veranderinge is betreklik hoog vir vragte wat reeds op pad is of wag om die Durban-hawe binne te gaan.”

Uitvoerders soos dié in die sitrusbedryf het die opsie om vragte per pad na die hawe in Maputo in Mosambiek te stuur vir verdere vervoer. Hierdie opsie is egter gesluit vir invoerders, aangesien regulasies deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) nie die invoer van vragte na Suid-Afrika deur Mosambiek of Namibië toelaat nie.

“Totdat die saak by die Durbanse hawe opgelos is, sal Hume International voortgaan om in gesprek met die internasionale verskaffers en kliënte te tree en oor die verwagte tydperk van bestellings te onderhandel. Ons doen ons bes om diegene wat negatief deur die hawevertragings geraak is, te ondersteun.

“Dit lyk egter al waarskynliker dat baie invoerders se kliënte hul sperdatums – om voorraad voor Kersfees in die winkels te hê – gaan misloop,” sê Thomas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Wonder hoeveel van die kaders wat verantwoordelik is vir hierdie gemors is al aangekla en afbetaal? My geld is op ‘n ronde nul.

Johann ·

En die minister en sy kader klos verwant aan die chaos is só onbesonne onbevoegd dat hulle OF nie besef wat die skade is OFnie omgee nie OF dit deel van die plan is om die land totaal disfunksioneel te kry. Nog ‘n ANC LEGACY.

Andre ·

…alles deel van die langtermyn plan om die infrastruktuur af te breek.

Jakes ·

As onbevoegdes staatsentiteite beheer is dit die resultaat. Die agteruitgang van die hawens in SA het al dekades gelede begin. Die probleem begin by Ramaphosa en sy kaders. Ondersoek hierdie mense van heelbo af tot op grondvlak en die bevindings sal skokkend wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.