Chaos by EFF-faksie se mediakonferensie

Foto: @TheRealClementM op Twitter.

Foto: @TheRealClementM op Twitter.

EFF-LP Andile Mngxitama moes Donderdag uit ʼn Kaapse hotel, waar hy ʼn mediakonferensie sou hou, begelei word nadat EFF-lede en ondersteuners van Mngxitama handgemeen geraak het.

Twitter het Donderdag behoorlik gegons oor die gevegte wat by die Cape Sun Hotel uitgebreek het. EFF-lede het geweier om die lokaal te verlaat en het gesê hulle wil hoor wat Mngxitama te sê het. Mngxitama het vroeër ʼn kennisgewing aan die media uitgereik waarin hy gesê het hy gaan ʼn mediakonferensie hou en dat hy tydens die konferensie sal sê “hoekom sommige EFF-LP’s nie #paybackthemoney mag sing nie.”

Foto’s wat op Twitter gelaai is, wys hoe Mngxitama deur sy ondersteuners uit die hotel begelei word. Mngxitama het aan Sapa bevestig dat die mediakonferensie wel later gehou sal word. “Ja ek is aangerand. Ek sal nog ʼn mediakonferensie reël.”

Mngxitama het in ʼn onderhoud met ANN7 gesê mense het by die ANC geleer om mekaar met die vuiste te pak indien hulle verskillende menings het. “Ons sien politieke partye wat in ʼn oorlog is omdat hulle nie die waarheid oor hulself wil hoor nie. Ons gaan hierdie kultuur van allergies wees vir die waarheid afbreek.”

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het gesê hy verwag dat Mngxitama se faksie Donderdagaand hul plek sal inneem in die Nasionale Vergadering vir pres. Jacob Zuma se staatsrede. Op ʼn vraag aan Ndlozi oor die binnegevegte in die EFF, het hy ontken dit sal die party ondermyn. “Die EFF is hier om te bly. Ons is die volgende regering.”

Mngxitama is sedert Desember haaks met die EFF se leierskap nadat hy nie tot die party se leierskap herverkies is nie. Hy het die EFF verlede week gekritiseer aangesien hulle toelaat dat Papiki Babuile, die party se leier in Noordwes, die party van agter tralies af bestuur. Babuile is onlangs skuldig bevind aan die moord op David Chika in 2012. Chika was die ANC se sekretaris in die provinsie. Babuile het appèl aangeteken teen sy vonnis van 12 jaar tronkstraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dave ·

re ‘ Mngxitama het in ʼn onderhoud met ANN7 gesê mense het by die ANC geleer om mekaar met die vuiste te pak indien hulle verskillende menings het. ‘

Dit is verrassend nuut… hierdie keer word oom Jan nie beskuldig nie maar die anc!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.