Chaos by vergadering oor lughawe-naam

Kaapstad Internasionale Lughawe (Foto: CapeTown-Airport.co.za)

ʼn Vergadering wat Maandagaand by die Kaapstad Internasionale Lughawe gehou is om insette van die publiek te kry oor die voorgestelde naamverandering van dié lughawe moes tydelik gestaak word toe chaos onder die deelnemers uitgebreek het.

Volgens berigte was daar sowat 800 mense teenwoordig by dié vergadering.

Maroela Media het vroeër berig die departement van vervoer het in April gesê prosesse is aan die gang om die naam van dié lughawe te verander. Die name van die lughawens by Kimberley, Port Elizabeth en Oos-Londen is ook tans onder die loep.

Lede van die EFF het daarop aangedring dat die lughawe se naam na Winnie Madikizela-Mandela Internasionale Lughawe verander moet word, en plaaslike groepe en Khoisan-verteenwoordigers het aangedring dat die lughawe óf na Krotoa, óf na Saartjie Baartman vernoem word.

Krotoa was ʼn Khoi-prinses wat van haar stam weggeneem is om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapse kolonie en haar oom se handelsvennoot, te gaan werk.

Sy is na die eerste fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootgeword het as ’n jong vrou wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan het dat sy ’n invloedryke tolk vir Van Riebeeck geword het.

Een ondersteuner van die Krotoa-voorstel het hardop geskree dat daar oorlog sal wees as dié naam nié gekies word nie.

Die vergadering moes tydelik gestaak word en sekuriteit is ontbied toe groepe oproerig geraak het, liedjies gesing en begin dans het.

Deidre Davids, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy (Acsa), het aan Maroela Media gesê lede van die publiek het tot Woensdag middernag kans om voorstelle te maak vir die naamveranderings.

“Ons wil beklemtoon die vergadering is uiteindelik afgehandel ten spyte van demonstrasies wat die vergadering ontwrig het. Die vergadering is ná die demonstrasies en ontwrigtings hervat tot en met die afgespreekte tyd van 20:00 en baie het verbaal asook per stembrief gestem.”

Volgens Davids kan voorstelle per e-pos na [email protected] of [email protected] gestuur word, per hand by die Acsa-kantore by hul naaste lughawe afgegee word óf per SMS aan 079 947 7410 gestuur word.

Volgens haar is daar twee belangrike stappe in die proses van die naamverandering.

Daar sal eerstens voorstelle aan die provinsiale geografiese benamingsraad gemaak word wat die voorstelle aan die hand van vooropgestelde kriteria sal evalueer en hulle sal dan die plaaslike LUR van kulturele aangeleenthede en sport oor hul bevindings inlig.

Die LUR sal op sy beurt die nasionale geografiese benamingsraad toespreek en dan sal daar uiteindelik ʼn aanbeveling aan die minister van kuns en kultuur gemaak word.

Daar is in dié stadium volgens Davids nog nie ʼn datum beskikbaar wanneer die nuwe naam bekendgemaak sal word nie. “Wat mense moet onthou is, dat dié besluit vir 30 dae in die Staatskoerant gepubliseer sal word.”

Oor die name van die ander drie lughawens sê Davids dat die proses vorentoe sal afhang van die voorstelle en insette wat hulle ontvang.

Ishmael Mnisi, woordvoerder van Blade Nzimande, minister van vervoer, het in April aan Maroela Media gesê die departement het talle voorstelle ontvang dat die Kaapstad Internasionale Lughawe se naam verander moet word. “Die voorstelle vir name wat direk aan die departement gegee en indirek deur die media voorgestel is, is onder meer Nelson Mandela, Albertina Sisulu, Winnie Madikizela-Mandela en Robert Sobukwe,” het Mnisi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Heinrich ·

Dis net ‘n algehele mors van geld! Daar is absoluut niks wat aanstoot gee met die huidige naam nie.

Antoinette ·

Los dit soos dit is. Genugtig. Daar kan baie meer met die voornemende vermorsing van geld gedoen word.

leser ·

dit help nie almal baklei oor ‘n naam nie, die anc het klaar gekies en so sal dit wees

Liberaal ·

Die liberale agenda is om nou van als wat westers is ontslae te wil raak, van die kultuur tot name tot tale. Een taal, geen geloof en geen diversiteit, dis nuwe liberalisme vir julle.

Hannelie ·

Moet die EFF altyd krap waar dit nie jeuk nie??? Hou op baklei oor ‘n naam, Winnie is dood, sy gaan nie eens weet iets word na haar vernoem nie, so kom ons hou dit soos dit is. Aan die EFF: Verander jul eie name soos jul wil, maar nie iets wat nog die heeltyd werk nie.

Boelie Party ·

Die EFF is daar om verdeeltheid te saai en om minderhede te vernietig, reg in die liberale agenda se kraal.

Ag asb tog ·

Oral waar die EFF is is daar CHAOS en niemand kan hulle beheer nie. Hulle wil vir almal en alles voorskryf met ‘n klein persentasie steun .. te eienaardig, hulle wil die grondkwessie OWN, hulle wil die lughawe se name OWN, hulle wil alles own met so min steun . .ongelooflik .. hoekom moet Kaapstad se lughawe se naam nou verander word? Hoekom moet net ‘n sekere party se aktiviste vereer word maak nie saak HOE donker hulle verlede is nie? Vreemd dat dit verkeerd was in die NP era, maar nou reg is in die ANC era? Kan alles nie maar net dorpname he nie? Johannesburg Lughawe, Kaapstad Lughawe, Durban lughawe, hoekom moet alles na EEN groep mense vernoem word? Dit sluit minderhede heeltemal uit. AS ek moet kies moet dit Kaapstad bly maar aangesien ek geen se het nie sal ek ook eerder agter die KHOI mense staan.

jaques ·

Ek stem, ek sal dan ook eerste vir Krotoa gaan, val elk geval beter op die tong as daai ander laaaaang naam.

Andre ·

@Skuus. Baie goeie kommentaar, maar ons wil de Klerk se naam nêrens sien nie. Vernoem dan eerder na Mandela as de Klerk.

Ampie ·

Ek stel voor die naam word terug verander na die D.F. Malan lughawe. Die man het minstens bygedra tot die ontwikkeling van Kaapstad. Die ander het geen bydrae gelewer nie.

JSG ·

Vír wat moet lughawens na persone vernoem word? Indien jy iemand wil vereer, rig ‘n monument vir die persoon op. Die stad waar die lughawe geleë is, is die naam wat die lughawe moet wees. Dis tog heel logies, of hoe?

Cryo ·

Hoe dit ook al sy, dit gaan n kommunistiese persoon se naam wees. Mark my words

Stephen Namibia ·

Piesang Republiek. Dit is die verskil tussen eerste en vierde wereld lande. Niks kan op beskaafde manier in Afrika plaasvind nie.

Tokkolos ·

Genugtig die land is in die moeilikheid en mense het nie huise nie Maar daar is geld om te mors op sulke snert Jip S.A. is all the way down

Tania Heyns ·

Dagsê Vir maroela

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

G@be ·

GELDMORS….
wie word ondermyn met die naam Kaapstad intl lughawe?

Judge Dredd ·

Die ANC het klaar besluit – Kaapstad word altyd as die moederstad beskryf – Winnie Mandela as die moeder van die nasie(what a joke) – so raai ‘n bietjie na wie dit vernoem gaan word?

Alida ·

Los die naam dit pla niemand en kos nie geld nie. Indien hulle dit verander na ou Winnie toe wonder ek hoe die toeriste van ander lande daardie spul name gaan uitspreek. Dit is belaglik los die naam soos dit is.

Afrikaanse Knaap ·

Wat van Cape Town International Airport?
Dan neuk niemand mekaar nie en niemand word ontstel nie.

GM ·

Ja, ons kan net nie ‘win’ nie. Mense ly honger, mense is dakloos, die werkloosheidsyfer is hoog, maar name moet verander word. Wat is fout met Cape Town International? Die mense noem nog die plekke, wat se name al toeka verander is, nog op hul ou name. Wie kan nou in elk geval al hul name uitspreek. Ek weet nou nog nie wie O.R. Tambo (of Thambo – sien, ek kan dit nie eers spel nie!) was nie.

Michael ·

Hoekom noem hulle dit nie weer DF MALAN nie minstens het hulle dan iets om oor te baklei.

bolla ·

Wat het Winnie met die kaap te doen? As dit dan verander moet word, verander dit na iets of iemand eie aan Kaapstad, Antjie Somers of so iets. LOL.

jean ·

By all means….gee die lughawe ‘n Khoisan naam….die land het in elk geval aan hulle behoort!!

Boela ·

Die land het nie aan die Khoisan behoort nie. Daar bestaan geen getuienis dat hulle enige idee van eiendomsreg gehad het nie. Die blote feit dat jy jou op ‘n gegewe tyd op ‘n bepaalde plek bevind, maak jou nie eienaar van dié plek nie, nog minder maak dit dat dié plek aan jou behoort.

Bert ·

Maak dit Krotoa. Die Khoisan was die oorspronklike inwoners van daardie area. Hulle moet erkenning kry.

ek sê maar ·

Beslis eerder Krotoa! Die Khoisan word amper nêrens erken (ja so bietjie op landswapenen dis ook al) en is die enigste ware eerste bewoners van SA so, dis niks minder as reg nie.

Kapenaar ·

“Danie Craven International Airport”

Dankie, klaar gepraat.

RDP ·

Ek ondersteun glad nie enige naamverandering nie,maar as ek moet kant kies sal dit def vir Krotoa wees.
Net nog een stappie om ons land in die afgrond in te stoot. Met werkloosheidsyfers soos ons land gaan dit die verstand te bowe hoekom geld hierop gemors moet word.

Casper Labuschagne ·

In ‘n land waar sin en rede nêrens meer te vinde is nie, sal oorlog sekerlik uitbreek oor ‘n beuselagtigheid soos om ‘n nuwe naam te gee vir ‘n lughawe waar die huidige naam vir niemand aanstoot gee nie. En dit is juis die probleem, die huidige naam wat nie aanstoot gee nie, gee juis aanstoot vir die rede dat dit nie ‘n rol speel in hierdie postkoloniale vergelding teen witmense nie.

Retha ·

Netso Casper! Puik gestel! Die ANC en kie wil hul stempel op ALLES afdruk. Enigiets wat hul nie benoem het is mos onaanvaarbaar. Na vandag se bekendmaking dat ons ekonomies agteruit beweeg gaan dit my verstand te bowe dat daar nog geld sulke nonsens spandeer wil word. Dis belaglik…

Cecilia van Rooyen ·

Dit is weereens bewys dat die mense nie ‘n idee het hoe om met geld te werk nie. Aan die een kant skree hulle oor werkloosheid en belowe die arme mense dat hulle gaan sorg dat almal werk kry. Die mense word vertel dat dit ons skuld is dat hulle nie huise het nie en dat hulle(EFF, ANC, ens.) sal sorg vir huise. Nou wil hulle die lughawens se name verander wat derduisende rande gaan kos. Enige mens wat weet wat aangaan in ons land sal eerder die geld vat en huise bou en werk skep. Daar is mos nie politieke name in gedrang by die spesifieke lughawens nie. Is dit waarvoor ons belasting moet betaal?

James ·

Lughawens moet nie na mense vernoem word nie. Dit is belaglik. Dit moet na die Stad vernoem world. Cape Town International. Kaapstad Internasionaal.

JSG ·

Stem volkome saam . Vernoem lughawens na die stad of gebied waar dit is. Dis nutraal en niemand word benadeel. Indien jy iemand wil vereer, rig ‘n monument vir die persoon op.

Disselboom ·

Dis ‘n wetenskaplike feit dat niemand eers van Krotoa sou geweet het as Jan van Riebeeck nie in die Kaap aangekom het nie… met ‘n skip met katrolstelsels, seile, navigasie; Krotoa is ‘n onlangs beklemtoonde figuur in die geskiedenis van bykans vier eeue gelede en is op geen manier aan lugvaart verwant nie. Maar nou ja, in Nederland kan mens na bv “Die Nagwag” van Rembrandt gaan kyk; in Suid-Afrika pas ons naarstiglike obskure rotstekeninge op.

Casper Labuschagne ·

As student het ek vir etlike jare in ‘n woonstel in Braamfontein gewoon. Op ‘n weeklikse basis was daar ‘n motorkar wat gestop het en vir aanwysings na die lughawe gevra het, want sê die buitelanders, hulle het die hele pad in Jan Smutslaan opgery tot in Braamfontein maar hulle kan nie die lughawe vind nie.

Moet geensins ‘n lughawe na persone vernoem nie, veral nie as daar ook hoofpaaie is wat daardie naam deel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.