ʼn Vergadering wat Maandagaand by die Kaapstad Internasionale Lughawe gehou is om insette van die publiek te kry oor die voorgestelde naamverandering van dié lughawe moes tydelik gestaak word toe chaos onder die deelnemers uitgebreek het.
Volgens berigte was daar sowat 800 mense teenwoordig by dié vergadering.
Maroela Media het vroeër berig die departement van vervoer het in April gesê prosesse is aan die gang om die naam van dié lughawe te verander. Die name van die lughawens by Kimberley, Port Elizabeth en Oos-Londen is ook tans onder die loep.
Lede van die EFF het daarop aangedring dat die lughawe se naam na Winnie Madikizela-Mandela Internasionale Lughawe verander moet word, en plaaslike groepe en Khoisan-verteenwoordigers het aangedring dat die lughawe óf na Krotoa, óf na Saartjie Baartman vernoem word.
Krotoa was ʼn Khoi-prinses wat van haar stam weggeneem is om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapse kolonie en haar oom se handelsvennoot, te gaan werk.
Sy is na die eerste fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootgeword het as ’n jong vrou wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan het dat sy ’n invloedryke tolk vir Van Riebeeck geword het.
Een ondersteuner van die Krotoa-voorstel het hardop geskree dat daar oorlog sal wees as dié naam nié gekies word nie.
Die vergadering moes tydelik gestaak word en sekuriteit is ontbied toe groepe oproerig geraak het, liedjies gesing en begin dans het.
Deidre Davids, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy (Acsa), het aan Maroela Media gesê lede van die publiek het tot Woensdag middernag kans om voorstelle te maak vir die naamveranderings.
“Ons wil beklemtoon die vergadering is uiteindelik afgehandel ten spyte van demonstrasies wat die vergadering ontwrig het. Die vergadering is ná die demonstrasies en ontwrigtings hervat tot en met die afgespreekte tyd van 20:00 en baie het verbaal asook per stembrief gestem.”
Volgens Davids kan voorstelle per e-pos na [email protected] of [email protected] gestuur word, per hand by die Acsa-kantore by hul naaste lughawe afgegee word óf per SMS aan 079 947 7410 gestuur word.
Volgens haar is daar twee belangrike stappe in die proses van die naamverandering.
Daar sal eerstens voorstelle aan die provinsiale geografiese benamingsraad gemaak word wat die voorstelle aan die hand van vooropgestelde kriteria sal evalueer en hulle sal dan die plaaslike LUR van kulturele aangeleenthede en sport oor hul bevindings inlig.
Die LUR sal op sy beurt die nasionale geografiese benamingsraad toespreek en dan sal daar uiteindelik ʼn aanbeveling aan die minister van kuns en kultuur gemaak word.
Daar is in dié stadium volgens Davids nog nie ʼn datum beskikbaar wanneer die nuwe naam bekendgemaak sal word nie. “Wat mense moet onthou is, dat dié besluit vir 30 dae in die Staatskoerant gepubliseer sal word.”
Oor die name van die ander drie lughawens sê Davids dat die proses vorentoe sal afhang van die voorstelle en insette wat hulle ontvang.
Ishmael Mnisi, woordvoerder van Blade Nzimande, minister van vervoer, het in April aan Maroela Media gesê die departement het talle voorstelle ontvang dat die Kaapstad Internasionale Lughawe se naam verander moet word. “Die voorstelle vir name wat direk aan die departement gegee en indirek deur die media voorgestel is, is onder meer Nelson Mandela, Albertina Sisulu, Winnie Madikizela-Mandela en Robert Sobukwe,” het Mnisi gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
41 Kommentare
Dis net ‘n algehele mors van geld! Daar is absoluut niks wat aanstoot gee met die huidige naam nie.
Los dit soos dit is. Genugtig. Daar kan baie meer met die voornemende vermorsing van geld gedoen word.
dit help nie almal baklei oor ‘n naam nie, die anc het klaar gekies en so sal dit wees
Die liberale agenda is om nou van als wat westers is ontslae te wil raak, van die kultuur tot name tot tale. Een taal, geen geloof en geen diversiteit, dis nuwe liberalisme vir julle.
Moet die EFF altyd krap waar dit nie jeuk nie??? Hou op baklei oor ‘n naam, Winnie is dood, sy gaan nie eens weet iets word na haar vernoem nie, so kom ons hou dit soos dit is. Aan die EFF: Verander jul eie name soos jul wil, maar nie iets wat nog die heeltyd werk nie.