Chaos in Bela-Bela: Seun sterf

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ʼn voorval waar ʼn 11-jarige seun dood is, glo weens die polisie se optrede.

Betogers het Dinsdag chaos gesaai in Bela-Bela in Limpopo toe hulle onder meer ʼn gebou aan die brand gesteek en polisielede met klippe bestook het. Die woedende betogers het die dorp se strate ingevaar en amok veroorsaak, na bewering oor ʼn besluit deur die dorpsraad om munisipale tariewe met R500 te verhoog.

Volgens Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, is lede van die polisie se eenheid vir openbare orde ontbied en is die betogers met rubberkoeëls uiteengejaag. Dlamini het gesê Karabo Khumalo (11) was saam met sy ma toe hy deur ʼn rubberkoeël in die kop getref is.

“Hy is na ʼn plaaslike hospitaal gehaas voor hy later na die Polokwane-hospitaal oorgeplaas is. Hy is Woensdag oorlede.”

Dlamini het gesê die afvuur van ‘n amptelike vuurwapen is nie by Opod aangemeld nie en word ondersoek. “Die seun se dood is eers Donderdag aangemeld. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek gaan voort.”

Talle betogers is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ʼn gebou en die burgemeester se voertuig aan die brand gesteek is. Twee polisiebeamptes het geringe beserings opgedoen toe hulle met klippe bestook is. Aanklagte van brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweld word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karen van Zyl ·

Hoekom was daar ‘n 11 jarige seun in die betoging? Sy ma moes hom beskerm deur hom nie saam te vat nie, maar sy wil vir hom wys hoe dit gedoen moet word en kyk nou??

rudi ·

Dis seker EFF wat skoor soek want hul betaal in elk geval niks

Jean ·

Dit is altyd tragies dat ‘n kind sterf, maar net soos met Hector en Stompie het hulle nie gehoort waar hulle was nie. Hulle is deur VOLWASSENES opgesteek om klip te gooi en brand te steek en by politieke bedrywighede betrokke te raak as minderjariges, en moes die gevolge daarvan dra. Hulle is geen helde in my oe nie .. hulle is kinders waarvan hulle ouers NIKS gedink het nie, om hulle voor te stoot om basies ‘n misdaad te pleeg nie. Want ek kan nie glo dat wanneer jy klippe na polisiemanne en karre gooi en hulle aan die brands steek, jy geen wette oortree het nie. Spyt kom altyd te laat. Die polisie moet dit altyd ontgeld, swart of wit .. maar die betogers en brandstigters wil skotvry daarvan afkom. Ongelukkig werk dit nie so nie.!

Anon ·

Ek is bevrees dat Suid Afrika wel deur ‘n ‘transformasie’ gaan, en die is die verandering van ‘n demokrasie na ‘n kommunistiese diktatorskap. JZ wil totale beheer toon teenoor alle ander partye. Die anc dink hulle is almagtig en dat niemand enigiets aan hul kan doen nie, en indien daar nie drastiese stappe gevat word nie, sal dit gedeeltelik waar word. JZ is al reeds op 10 jaar in bewind. Dit is baie langer as wat ‘n man soveel krag kan dra. Binne kort kan hy in die voetstappe van Mugabe loop, die beheer totaal en al wil hou. Hy is besig om te verander aan ‘n diktator en dit is duidelik in sy optrede, deur om die weermag in te roep en deur soveel polisie beamptes te ontplooi. JZ wil nie beheer oor gee nie. En die anc ondersteun sy beweging van diktatorskap. Hul wil media beheer en enige waarheid wat gepraat word of enige probleme wat aangespreek word is of ‘rasisme’, of ‘teen die bevordering van die land’. Die taal gebruik waar een van die LP’s gevloek het op nasionale televisie is totaal onaanvaarbaar, en dit is nie eens aangespreek nie. Dit is ‘n duidelike teken dat die parament gebreek is, en dat daar geen belangstelling is om die anc te korrigeer nie.

Anon ·

Die sogenaamde ‘radikale ekonomiese hervorming’ is maar net ‘n afleiding van die totale onvermoë van die staat en JZ om die land te regeer. Al wie baat hiervan is JZ en lede van die anc wat in gesag posisie sit. Daar is so baie armoede, maar JZ is nie skaam om elke maand sy salaris te neem nie. As hy en ander persone in gesag posisies net realistiese salarisse kan kry, kan daardie geld bestee word aan waar dit regtig nodig is. Ek is van mening dat daar so min transformasie is juis weens die hoeveelheid geld wat aan die minderheid gegee word. Dit is nie dat daar teveel blanke persone is wat kapitaal behou nie maar eerder dat een man en uitgekiesde lede sulke massiewe salarisse en luukshede gegee word. (om by te las wil ek net vra: Is dit net ek, of is daar baie nepotisme in die staat?).

Anon ·

Om af te sluit: ek is bang vir dit wat kom, en vir die rigting in wat ons land beweeg. En ek weet dat daar talle ander is wat so voel. Opgeleide mense is besig om uit die land te vlug, en dit gaan SA net nog verder laat agteruit gaan. Maar tot dan vrees ek en talle ander vir ons lewens en die onsekerheid van wat gaan gebeur word meer realisties elke dag wat verby gaan. En dit voel asof daar niks is wat ons, die mense, kan doen nie. Ons kan binne kort in die posisie beland waar media ontneem word daarvan om die waarheid te praat, waar internet beheer word en sosiale media heeltemal verban word. Die pessimistiese uitkyk op die situasie raak al hoe meer ʼn realistiese uitkyk.

Kobus ·

Vol punte vir jou Anon….wat jy daar se gaan n realiteit wees voor 2019 se verkiesing….diktatorskap en een partystaat…Zuma is ver van skaatmat…sy pionne is opgestel vir n bloedige geveg…en hy sal agteroor sit en giggel…want hy is die std3 outjie wat n hele land sy eie gemaak het….nogal goed gedoen vir homself in n 10 jr tydperk.

Burn ·

Kinders word voorgestoot om klip te gooi en brandstigting te pleeg .. wat verwag hulle? Hector Peterson en Stompie Sepei is geen helde nie .. vandag word Hector vereer en ‘n standbeeld vir hom opgerig . Waarvoor veg ‘n KIND?? Hy is opgesteek .. Die burgemeester se kar is aan die brand gesteek, en dis maar reg? Polisielede is beseer en dis maar reg? Jammer .. as jy met vuur speel SAL jy GEBRAND WORD!!

Connie ·

Kind moes in die eerste plek nie daar gewees het nie. Hy moes in die skool wees.

jaco ·

Oops. Swart polisie skiet n swart kind dood. Mini-marikana. Nou seker weer 2 jaar van ondersoeke en toesmeerdery. Die ANC moet asseblief net wakker word en besef: dis moeilik om n derde wêreld land te regeer. As hulle wetgewing en optrede teen stakings, optogte ens ens van 1994 af meer streng was, het dinge nie so handuit geruk nie. Die ANC kan ook sommer n paar goed oor openbare orde by hulle pelle China en Saoedi-Arabië gaan leer. Sulke straatonrus is ongekend daar en wie dit ook al probeer, kry sommer die doodstraf

Thinus van der Heever ·

Kan Maroela Media net die regte inligting plaas asb. Die betogings het nie in die dorp plaasgevind nie, maar wel in die swartwoongebied( lokasie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.