Chaos in Parow ná moordverdagte se hofverskyning

‘n Gemeenskapslid dring op ‘n plakkaat aan dat die verdagte nie borgtog toegestaan word nie. (Foto: ANA)

Ontstoke gemeenskapslede het Vrydag die strate van Parow in die Wes-Kaap ingevaar nadat Moehydien Pangaker (54) in die Goodwood-landdroshof hof verskyn het in verband met die moord op die agtjarige Tazné van Wyk.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brandweer-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê nooddienste is omstreeks 11:30 na Parowstraat in dié Kaapse voorstad ontbied nadat ontstoke gemeenskapslede ’n huis in dié straat aan die brand gesteek het. Die lede glo Van Wyk is ná haar verdwyning in dié huis aangehou voordat sy vermoor is. Die huis is vermoedelik ’n dwelmhuis.

Volgens Carelse is twee ander geboue in Carstensstraat en ’n woonstel in Voortrekkerstraat aan die brand gesteek. Geen beserings is aangemeld nie.

‘n Lid van die gemeenskap praat met polisielede. (Foto: Ayanda Ndamane, ANA)

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie se eenheid vir openbare orde is vanoggend ontplooi nadat geboue aan die brand gesteek en ’n motor gedurende die chaos op sy dak gegooi is.

Van Wyk het ’n beroep op die publiek gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie. Hy waarsku dat enigeen wat hom of haar hieraan skuldig maak, aangekla en in hegtenis geneem sal word.

Maroela Media het vroeër vandag berig die emosies het hoog geloop toe Pangaker vanoggend in ’n stampvol hof verskyn het op aanklagte van moord en ontvoering. Dit kom nadat Tazné se liggaam Woensdagaand in ’n stormwaterpyp buite Worcester aangetref is.

Ontstoke gemeenskapslede. (Foto: Ayanda Ndamane /ANA)

Polisiebeamptes het hul hande vol gehad met ʼn stampvol hofsaal terwyl chaos buite die hof uitgebreek toe nóg mense daarop aangedring het om in die hof toegelaat te word.

Die saak teen Pangaker is vanoggend tot 17 April uitgestel.

Lees alle berigte oor Tazné se verdwyning op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

So ‘n kêrel ontvang netso parool. Volgens ander mediaberigte het hy ‘n lys skuldigbevindings agter hom. Maar Januz Wallush moet bly sit, want Chris Hani se familie sê hy hoort in die tronk. Duidelik tel die families se stem nie in misdade wat nie politiek van aard is.

antieke antie ·

ek verstaan die kwaad wees maar regverdig brandstigting ens regtig dit?.. betoog maar moet dit vernietig word….want al regverdig mense dit is dit nog kriminele dade… gaan in en vat die mense uit ens en straf mense wat kriminele beskerming gee …. maar wie het die inligting gegee…. hoekom het die ingeligtes nie opgetree voor die tyd nie?

marius ·

Waarom neem die gemeenskap reg in eie hande ? Want hulle is radeloos omrede die regspleging geen beskerming bied nie . As daar op elke straat hoek ‘n eerbare polisieman staan , sal hierdie dinge nie gebeur nie. Dis die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.