Chaos op Upington waar Bela-wet bespreek word

Talle inwoners het Donderdag by die Piet Thole-gemeenskapsaal op Upington byeengekom om aan ʼn openbare deelnameproses oor die omstrede Bela-wetsontwerp deel te neem. (Foto: Andrus Strauss / #Hope4SA)

Gemoedere het hoog geloop toe inwoners Donderdag by die Piet Thole-gemeenskapsaal op Upington in die Noord-Kaap byeengekom het om aan ʼn openbare deelnameproses oor die omstrede Bela-wetsontwerp deel te neem.

Dit het glo tot ʼn dramatiese uittog deur die voorsitter van die provinsiale wetgewer, Limakatso Alfonsina Koloi, gelei nog voordat inwoners ʼn stem vir of teen die wetgewing kon uitbring.

Andrus Strauss, premierskandidaat van die nuutgestigte #Hope4SA-party, sê ongeveer 600 mense het die vergadering bygewoon en die meeste van hulle was teen die wetgewing gekant.

Chaos het boonop ook die vorige dag op Kuruman tydens die openbare deelnameproses daar uitgebreek, onder meer weens beweerde swak reëlings wat prosesse vir openbare deelname in dié provinsie glo uit die staanspoor belemmer het.

Maroela Media het al vroeër berig oor frustrasies wat ondervind is met provinsiale staatsdepartemente se kommunikasie en hantering van prosesse vir openbare deelname oor die Bela-wetgewing; asook klagtes dat gemeenskappe se insette met minagting bejeën word.

Volgens Strauss was dit weereens die geval Donderdag in Upington.

Hy sê klousule 39 van dié wetgewing het veral ʼn hewige debat ontketen, aangesien dit “geheimhouding van ouers met betrekking tot swangerskappe voorstel en onderwysers toelaat om minderjariges te help om aborsies sonder ouertoestemming te ontvang”.

“Hierdie omstrede kwessie het lede van #Hope4SA en verskeie ander organisasies genoop om die wetsontwerp teen te staan.”

Strauss het altesame 64 petisies van bekommerde ouers en onderwysers ingevorder wat nie die vorige dag op Kuruman aan ʼn stemmery oor die wetsontwerp kon deelneem nie.

Daar was egter ʼn groot bohaai toe die meeste mense hul teenkanting teen die beoogde wet te kenne gegee het, met die gevolg dat die paneelvoorsitter (wat die vergadering moes fasiliteer) glo geweier het dat daar gestem word.

Die voorsitter van die provinsiale wetgewer, Limakatso Alfonsina Koloi, het na bewering geweier dat inwoners vir of teen die Bela-wetsontwerp stem. (Foto: Andrus Strauss)

Sy het boonop uitgestap sonder om enige van die petisies wat aan haar oorhandig is, saam te neem.

“Sy het dit net op die tafel neergegooi voordat hulle uitgeloop het,” het Strauss aan Maroela Media gesê.

“Hierdie petisies, wat wydverspreide kommer oor die wetsontwerp simboliseer, het die frustrasies beklemtoon van diegene wat nie die vorige dag aan die stemproses kon deelneem nie weens logistieke beperkings en die gebrek aan die voorsiening van stembriewe.”

Strauss sê die skielike uittog van die voorsitter het boonop groot vrae oor die integriteit van die proses laat ontstaan en bekommernisse laat opvlam dat daar gepoog word om slegs mense wat ten gunste is van die wet, te mobiliseer om die vergaderings by te woon.

Toe die meerderheid egter Donderdag teen die wetgewing uitgevaar het, het die voorsitter geweier dat daar gestem word, aldus Strauss.

Hy is verder oortuig die ganse debakel was beplan, maar sê gemeenskappe se stemme sal nie stilgemaak word nie. Hy het ook onderneem om die saak na die Nasionale Raad van Provinsies te eskaleer.

“Ons veg vir ons kinders se toekoms.

“Ek wil nie sien dat ons pragtige land soos Noord-Korea word nie, waar ouers geen regte oor hul eie kinders het nie. Gaan stem asseblief teen die wetsontwerp vir die toekoms van jou kinders en kleinkinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê maar net ·

Asseblief Here Jesus, verpletter hierdie voorgestelde wetsontwerp ter wille van ons kinders en kleinkinders. In Jesus naam.

Pierre ·

Natuurlik sal hulle nie wil he mens moet deelneem nie, volgende sal die rooikappies wag staan en intimideer en ontwrig sodat geen stem gemaak sal word nie.

Vonkprop ·

Wys jou net. Die vooraf beplande “script” het nie die opsie van teenkanting bevat nie en toe weet die tannie nie hoe om dit te hanteer nie toe loop sy maar. Erger as ‘n stout kind. Sodra die ANC nie sy sin kry nie, pluk hulle hulself op en maak hulle uit die voete. Ons land moet meer begin terug druk en nie net so alles bly aanvaar nie. ANC is almal papbroeke. Hulle is baie bang vir konflik.

Christine ·

As jy durf waag om hulle teen te gaan is hulle agressief en kan nie die vrae antwoord agv uiterste onkunde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.