Chaos, plundering op Kaapse Vlakte

Die Kaapse Vlakte. (Foto: Verskaf)

Die polisie het Dinsdag verskeie mense in hegtenis geneem en versterkings na die Kaapse Vlakte ontplooi nadat verskeie huisbrake, plundering en openbare geweld in dié omgewing plaasgevind het.  ʼn Groep van 16 verdagtes het ʼn supermark in Gatesville, Athlone, omstreeks 14:40 bestorm en met vyf kasregisters en kruideniersware weggekom. Vier verdagtes is deur die polisie in hegtenis geneem.

In Manenberg het skares mense die strate ingevaar en twee groothandelaars geplunder.  Brigadier Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie is tans besig om gesteelde goedere op te spoor.

Vroeër die dag het openbare geweld in Tafelsig, Mitchells Plain, se Langeberg- en Kilimanjarostraat, asook in AZ Berman-rylaan uitgebreek.  Massas mense het in die strate bymekaar gekom in protes omdat die beloofde kospakkies wat in die gemeenskap uitgedeel sou word, nie gerealiseer het nie.  Motorbande is aan die brand gesteek en die polisie is met klippe bestook.  Drie verdagtes is vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Volgens Ricardo Norton, ʼn gemeenskapswerker in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte in die Wes-Kaap, is dié gebeure net die begin.

Huisbrake, plundering en openbare geweld op die Kaapse Vlakte. (Foto: Verskaf)

“Dit gaan beslis erger raak as die regering nie met die gemeenskap kommunikeer nie.  Ons mense kort hulpbronne, baie het reeds nie kos nie.  Die plaaslike en nasionale regering moet begin voorsien in die nood van die armes,” sê Norton.

“Wat plaasgevind het, is ʼn bewys van wat nog voorlê.  Lank voor COVID-19 het ons mense gesukkel om brood op die tafel te sit, nou gaan dit net erger raak.  Maatskaplike toelae kom eers weer die vierde, vyfde of sesde Mei wanneer mense geld vir kos en elektrisiteit kry.”

Sibakhulu Sonwabo, wyksraadslid vir Manenberg en Gugulethu gesamentlik, stem saam: “As ons nie waaksaam is nie, sal dit weer gebeur.  Daar was nog altyd werkloosheid en armoede in Manenberg gewees.  Die inperking vererger die situasie omdat inwoners wat bietjie gehad het, nou nóg minder het.”

Sonwabo verduidelik dat hoewel ʼn groot groep mense wat aan die plundering deelgeneem het in die uiterste armoede leef, daar ʼn dominante groep was wat met kriminaliteit opgetree het.  “Daar was jonges gewees wat hulle eie agenda wou bevorder wat die groep oorheers het,” sê hy.

Sonwabo sê meer hulp van die regering is noodsaaklik.  “Die burgemeesterskantoor het al die naweek kospakkies belowe, maar ons wag nou nog.  Ons verwag dit nou aan die einde van die week.  Maar dit sal nie genoeg wees nie.  Ons kry 30 kospakkies per wyk.  Dit moet ek tussen Manenberg én Gugulethu verdeel.”

Sonwabo meen die beperkte aantal kospakkies gaan net nog verdere verdeeldheid en onrus in die gemeenskappe veroorsaak.

Intussen het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, die wydverspreide plundering ten sterkste veroordeel: “Hoewel ons onsself in ʼn humanitêre krisis bevind, sal die oortreding van die wet nie geduld word nie.”

Ruth Solomons, woordvoerder vir die Wes-Kaapse metropolisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê gebiede om die Nyanga Junction in Manenberg was redelik stil deur die nag gewees.

Die Wes-Kaapse polisie het mense gewaarsku teen kriminele gedrag en sê die polisie sal nie huiwer om teen oortreders op te tree nie. Intussen patrolleer die polisie geïdentifiseerde gebiede totdat kalmte herstel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Die polisie en weermag moet hulle dan net uitsorteer,anargie kan nie geduld word nie as jy nie na jouself kan kyk nie hoe was jou beplaning vir 5+ kinders.

BoerSonderRoer

Die massas gaan alle winkels plunder, en die nood toestand gaan voort gaan.

Die winkels gaan binnekort leeg wees, so maak reg vir wanneer hulle na jou huis toe kom.

charmaine

Ja en dit is gewoonlik net weereens n sekere soort mens net soos wat skole geplunder word een soort mens. Maar die polise en weermag is dan self skuldig aan wangedrag.

marius

Die werklikheid van anargie . Niemand gaan dit keer nie .

Jaco

Toe ek die dag wat inperking met ‘n verdere 2 weke verleng is, teen dié soort van misdaad gewaarsku het, is ek links en regs beskuldig en gekritiseer. Nou gebeur dit wat ek voorspel het…