‘Chaos’ toe duine in Kalahari brand

Brande het moontlik 100 000 ha in die Kalahari vernietig. (Foto: Verskaf)

Boere in die Kalahari spook sedert Maandag om ʼn brand te blus wat reeds duisende hektaar se weiding vernietig en die lewe van talle vee geëis het.

Teen laat Saterdagaand kon die uitgeputte gemeenskap darem daarin slaag om die laaste van die vlamme te blus, maar daar is kommer dat beskadigde duine nou sowat ʼn dekade kan neem om te herstel.

“Die boere is moeg en het baie finansiële skade gely om die brande te bestry,” sê Celia Marais, wie se man en broers op vyf plase in die omgewing van Klein Mier en Groot Mier boer. “Dit was chaos hierdie week. Boere het soms deur die nag vure geblus en gedink alles is dood, maar dan vlam dit die volgende dag net weer op.

“Die gebied wat gebrand het, is groot en die duine is hoog. My man het die afgelope week 900 km afgelê om brande te blus en tussendeur te probeer boer.”

Die brand het Maandag in die gebied van Mier ontstaan en vinnig versprei en in ʼn stadium die Namibiese grens oorgesteek. Boere vermoed dit het as gevolg van weerlig ontstaan.

“Dit is algemeen dat die duine begin brand wanneer daar swaar weer is, maar die brand is gewoonlik nie so groot nie. Hierdie is boonop die tweede brand in drie weke,” sê Marais.

Hierdie foto wys die skade wat ‘n brand die afgelope week in die Kalahari aangerig het. (foto: Verskaf)

Marais sê behalwe vir die baie petrol wat boere uitgery het, het baie van die bakkies ook onklaar geraak, omdat die hoë duine moeilik begaanbaar is. Boere moes boonop kilometers ver ry vir water om die brande te bestry, omdat sommige boere tans ʼn groot waterskaarste op hul plase ervaar.

“Weens beurtkrag het die munisipaliteit die laaste week gesukkel om water uit die Oranjerivier na plase te pomp en baie boere se reserwe water het ook opgeraak. Met die brand het van die waterpyplyne boonop gesmelt en van die tenks het gebrand.”

Marais sê hulle kon nog nie vasstel wat presies die skade weens die brand is nie, maar vermoed meer as 100 000 ha het afgebrand. “Ongelooflik baie diere het doodgebrand en seergekry. Een boer het 60 skape verloor. Een van ons plase is van die baie wat heeltemal afgebrand het.

“Ons mense is moedeloos, maar ons weet God het ʼn plan en dis alles in sy hand. Niemand het darem seergekry nie en daarvoor is ons dankbaar. Dit het ons as mense ook weer geleer om saam te staan.”

Boere vra dat enigeen wat ʼn finansiële bydra wil maak om hulle in hierdie tyd by te staan, die plaaslike brandkommandant, Gert Fourie, by 082 770 3392 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.