Chaos toe duisende by Steve Biko opdaag vir entstof

Steve Biko- akademiese hospitaal (Foto: ANA)

Honderde gesondheidswerkers, sommige met ’n afspraak, is Sondag by die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria weggewys nadat meer as 2 000 gesondheidswerkers, sommige sonder ’n afspraak, by die hospitaal opgedaag het om teen Covid-19 ingeënt te word.

Maroela Media het vroeër berig twee Sondae is geïdentifiseer waartydens algemene praktisyns van private praktyke, wat vooraf geregistreer het, met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt kon word.

Steve Biko-hospitaal in Pretoria en Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg is in dié stadium nog die enigste twee inentingspersele in Gauteng. Chris Hani Baragwanath was egter oor die naweek toe en algemene praktisyns is toe almal na Steve Biko om ingeënt te word.

Om sake te vererger het hospitaalgroepe hul personeel, glo van verpleegsters tot administratiewe personeel, na Steve Biko verwys om ingeënt te word. Dít het ’n stormloop van gesondheidswerkers tot gevolg gehad.

“Teen 10:00 [Sondag] het ons besef dit is chaos,” vertel dr. Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), Maandag aan Maroela Media.

Coetzee sê hoewel daar meer as genoeg entstowwe vir almal was, maak die administratiewe stelsel dit egter net moontlik om 1 200 gesondheidswerkers per dag in te ent – 100 per uur.

‘n Plakkaat dui aan waar die inentings by die Steve Biko-hospitaal plaasvind. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sowat 270 algemene praktisyns het vooraf geregistreer om Sondag hul inenting teen Covid-19 te ontvang. Minder as 100 van hulle kon egter gister te midde van die chaos gehelp word.

Die res is almal ten spyte van ’n afspraak weggewys.

’n Algemene praktisyn van Centurion, wat verkies om anoniem te bly, is een van diegene vooraf geregistreer het om die entstof Sondag by Steve Biko te ontvang. Sy afspraak was vir 10:40 geskeduleer hoewel daar aanbeveel word dat ’n persoon sowat 20 minute voor die afspraak by die hospitaal moet wees.

Hy vertel dat hy egter vroeër die oggend van die lang toue by die hospitaal ingelig is en toe reeds 08:30 in die ry geval het. Hy is eers ná 16:00 ingeënt. Sommige algemene praktisyns wat by dieselfde praktyk as hy werk, is ten spyte van afsprake weggewys.

Hy verduidelik dat ’n nommer aan ’n persoon gestuur word wanneer hy of sy registreer om ingeënt te word. Dié nommer word dan aangevra voordat die persoon ingeënt kan word.

Volgens hom is verskeie gesondheidswerkers sonder nommers egter Sondag voor hom gehelp.

“Geen sosiale afstand is gehandhaaf nie, veral nie buite die hospitaal nie. Dit is eers op die negende verdieping [streng toegepas]. Dit het ook omtrent sewe ure geneem om by die negende verdieping uit te kom.”

“Dit was nogal ’n redelike gemors gewees.”

(Foto: Graeme Robertson/AFP)

Hy sê hy is bekommerd oor hoe die toediening van entstowwe vorentoe gaan verloop wanneer die res van die bevolking hul inentings moet ontvang.

Volgens Coetzee sal meer persele vir inenting later beskikbaar gestel word sodra die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) die aansoek vir ’n meer wydverspreide gebruik van die Johnson & Johnson-entstof goedgekeur het.

Die eerste dosisse van dié entstof is in dié stadium goedgekeur vir gebruik in ’n navorsingsomgewing, nog nie vir wyer gebruik nie.

Coetzee sê ʼn klomp lesse kan uit Sondag se stormloop geleer en vorentoe geïmplementeer word wanneer die res van die bevolking ingeënt word. “Dit wat Sondag gebeur het, was nie veronderstel om te gebeur nie. Maar so leer ons.”

Gesondheidswerkers word intussen gevra om nie sonder ’n afspraak vir hul inenting op te daag nie.

“Die entstowwe gaan nie weghardloop nie,” sê Coetzee.

Dr. Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, het intussen die provinsie se gesondheidswerkers gerus gestel dat almal die entstof sal ontvang.

Mokgethi sê dit is duidelik dat die vraag na die Covid-19-entstof al groter word en dat sommige vrees dat die land se dosisse gaan opraak voordat hulle ingeënt kan word. “Ons wil ons gesondheidswerkers daarvan verseker dat dit nie nodig is om paniekbevange te wees nie. Niemand sal agterweë bly nie.”

Gauteng het 16 800 van die 80 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof ontvang. Altesaam 5 700 van dié dosisse is versprei na Steve Biko-hospitaal en die res na Chris Hani Baragwanath-hospitaal.

Altesaam 2 134 Gautengse gesondheidswerkers was teen Saterdag reeds ingeënt, het die LUR gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pieter ·

Julle ANC regering bly maar net een groot sirkus. Julle kan en sal nooit ooit n land kan best nie. Nie eers in julle drome nie

Misky ·

Dis nou die “slim mense” (dokters en verpleegsters) wat na ons moet omsien as ons siek is en waarsku hoe om op te tree. Maar dis waar en wat gaan die dag gebeur as dit nou oop is vir almal en watse vertrapping gaan dit nie wees nie. Laat my dink aan `n trop skape wat almal tegelyk in die kraal wil kom en helfte word vertrap in die proses….

Alet ·

Ek het ook aan daai een gedink. As dit tyd word om die res van our people te ent. Wil nie eers daaraan dink nie.

Ansie ·

Hoekom soveel meer na Chris Hani Baragwanath as almal na Steve Biko verwys word? Soos gewoonlik is die ANC se gesondheidsdienste absoluut onvoorspelbaar en onbetroubaar. Waarom was Chris Hani Sondag toe?

Johann ·

Mmmmm? As ek reg onthou het onse Cerol na sy eie inenting die land voor stok gekry omdat ons gegewe sy ANC WIL ALS SELF DOEN AL KAN ONS NIE rekord, voorspel het hoer kom chaos? Maar hey,skielik…uit die bloute…is die wanbestuur en onbevoegdheid en onbesonne eie mags beheptheid skoonveld! Nie dat dit die gewetenlose ANC plan nie….maar elke dood wat kon vorkom word is op hulle terroris hande. ANC LEGACY!!!!!!!!

Sêmanet ·

Ek praat dalk uit my beurt. Maar hoekom word oumense, kinders en die haweloses nie eerste gehelp nie, hulle is tog die vatbaarste, of hoe?

Alet ·

Kinders en haweloses is nie noodwendig die vatbaarste nie. Ou mense wel en mense met onderliggende siektes.

Barney ·

Omdat gesondheidswerkers baie meer blootgestel word aan die virus en ‘n noodsaaklike diens is om die res van die bevolking te help wanneer hulle siek word. Dit gaan niemand baat as ‘n massa gesondheidswerkers dood of in die hospitaal is nie. Sover ek weet, is die oumense in die eerste groepe wat gaan kry na die gesondheidswerkers. Kinders is ‘n lae risiko.

Kokerboom ·

Kan die mense niks ordelik en bepland doen? Ek gee totaal moed op op. Leer hul nooit? Dit hou net aan en aan en raak al erger!!!
Ek wil regtig NIE meer deel wees van hul lewensstyl en benadering.

Estelle ·

Toemaar, dis Suid Afrika. Teen volgende week behoort ons dit by elke robot te kan koop.

Ou bees ·

Hmmmm was dit nou so moeilik om die wat nie afsprake gemaak het weg te wys?

Alet ·

Ja want tien teen een was die wat nie afsprake gehad het nie boeties en sussie en ooms en tannies

Magda ·

Hoekom net 2134 na Steve Biko en die res van 16800 na Chris Hani Hospitaal??

Alet ·

Hospitaal toe op ‘n Sondag? En hulle wil die Nasionale Gesondheidsdienste beheer en bestuur. Wat ‘n grap. Dis nie Covid wat ons kluite toe gaan stuur nie.

Queline ·

baie geluk met die wat al inge-ent is, maar wat is als in daai entstof. Besef die gesondheids personeel dat dit dalk nie so goeie ding is nie. Waar is die studies en uitslae oor die so genaamde entstof. As jy slim genoeg is sal jy mos nie enige iets in gou liggaam laat in ent nie.
Ek dink al die ANC mininsters en amptenare moet maar eerste ingeent word, maak maar net seker dat dit nie net water is nie. ;-)

Carel Johannes ·

Eish, wat ‘n gemors van ‘n gemors – jy wil jou laat inent?, jy gaan eerder met Covid besmetting daar wegstap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.