Chaos toe wag op Middelburg borgtog kry

Die Steve Tshwete -plaaslike munisipaliteit se kantoor in Middelburg. (Foto: CoGTA/Facebook)

Chaos het Vrydag op Middelburg in Mpumalanga uitgebreek nadat ʼn veiligheidswag, wat daarvan beskuldig word dat hy vier betogers op die dorp geskiet het, op borgtog vrygelaat is. Die noodlottige skietery by die munisipale kantoor het die lewe van een betoger geëis, terwyl drie ander ernstig beseer is.

Betogende werkers van die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit het die middag die strate ingevaar, vullisdromme uitgegooi en voertuie met klippe bestook. Betogers het na bewering ook ʼn bestuurder met die dood gedreig nadat dié glo een van die betogers met sy bakkie gestamp het.

Die polisie het die oproer in bedwang gebring en geen beserings is aangemeld nie.

Hennie Niemann, ʼn plaaslike DA-raadslid, sê die onrus spruit uit woede ná die hofverskyning van ʼn private veiligheidswag dieselfde dag. Die wag het in die Middelburg-landdroshof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Private veiligheidsmagte wat die munisipaliteit aangestel het om sy kantoor op die dorp teen stakende werkers te beveilig, het verlede maand vier betogers geskiet nadat hulle en talle ander onregmatige toegang tot die munisipale kantoor probeer verkry het.

Een van die veiligheidswagte is kort daarna in hegtenis geneem nadat die EFF gedreig het om ʼn moordsaak teen die munisipaliteit en die betrokkenes aanhangig te maak.

Onwettige betogings deur munisipale werkers vlam kort-kort op sedert dit in September verlede jaar begin het. Die afgelope paar weke is Middelburg egter lamgelê deur voortslepende onluste en Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het eindelik ingetree om samesprekings te bewerkstellig.

Die nuwe munisipale bestuurder, Mandla Ndlovu, het sedertdien die samesprekings voortgesit en is steeds in gesprekke met die werkers se vakbonde.

Die betogers eis al maande lank onder meer ʼn hoër gradering van die munisipaliteit wat salarisverhogings tot gevolg sal hê, en dat ʼn aantal tugverhore van hul geskorste kollegas teruggetrek word.

“In hierdie stadium het die munisipale bestuur en die vakbonde al oor sekere aangeleenthede ooreengekom, maar dit kan nog nie bespreek word nie,” sê Niemann.

“Die situasie is steeds baie gespanne, maar ons hoop dat die samesprekings ʼn vinnige einde aan die onrus sal beteken.”

ʼn Plaaslike prokureur het verlede week ʼn aansoek om ʼn dringende interdik by die hooggeregshof in Middelburg ingedien in ʼn poging om die sporadiese munisipale stakings in die dorp te beëindig en dienslewering te herstel.

“Die stadsraad het ook ʼn finale interdik teen die stakende werkers gekry wat soortgelyke optrede van die werkers vereis,” het Niemann met verwysing na die inwoners se aansoek gesê.

Hoewel die dorp die afgelope naweek redelik kalm was, bly die situasie egter plofbaar tot ʼn ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die vakbonde bereik kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Heinrich ·

Hierdie sekuriteitswag het maar net gedoen wat die polisie veronderstel was om te doen: hy het die besighede teen kriminele aktiwiteite beskerm. Mense het die reg om te protesteer. Die oomblik wanneer optrede krimineel van aard raak moet hulle pa staan daarvoor.

Lourens ·

Hulle reg om te betoog/protesteer stop waar ander se reg om fasiliteite en infrastruktuur te gebruik, begin.

Marelize ·

Dis ‘n baie lekker land die. As jy ‘n verhoging wil hê en/of van jou mede werkers wat geskors of afbetaal is wil terug hê in hulle poste – wel dan betoog jy – jy brand -gooi klip – intimideer – maak amok en siedaar jy kry wat jy wil hê. Maak nie saak of dienste gelewer word nie – maak nie saak of die verhooging bekostig kan word. In hierdie land is might right. Of hulle nou so dom is soos grond of nie.

vuurvliegie ·

Daai wag moet bevordering kry in Cele se Polisie pos.
Hy praat min en doen baie.

Delia ·

R10 000 … goeie griet. Dis baie. Ander word net op waarskuwing vrygelaat. How now??

KatjieDeKat ·

Wel die EFF het gedreig om n moordsaak teen die munisipaliteit te maak, asook die betrokke veiligheidswagte + Tien duisend rand borgtog + Dan kry jy diegene wat R500 borg kry vir inbraak, ernstige aanranding, ens = ?? Ek maak die sommetjie en bly maar stil oor die antwoord.

Jakes ·

Die wag moet die hoogste medalje kry vir sy prysenswaardige optrede. Nog meer sulke mense is nodhg om wet en orde te herstel.

Nie Verbaas ·

Hy het net in n taal gepraat wat die nutteloses verstaan.

Jacobus ·

Moes die veiligheidswag eers wag dat die stakers hom met bakstene doodgooi soos in James Teitge en sy mede wag in clover se geval? Hy het gedoen waarvoor hy opgelei is en betaal word.

Lourens ·

Vandalistiese oproermakers is die regte benaming. Beslis nie betogers nie.

Kokerboom ·

Dis tyd dat werklike belastingbetalers teenoptogte doen Hoe lank gaan ons nog die gemors aanvaar?

hpven ·

Ramaphosa skud jou kop sodat jou ore jou wakker klap…of bedank dat iemand wat die werk kan doen oorneem…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.