Chaotiese begin vir begrotingsrede; droewige prentjie geskets

Minister Malusi Gigaba. Foto: Elmond Jiyane

Die uitdagings wat pres. Cyril Ramaphosa gaan moet takel binne sy kabinet en binne die land se finansiële en fiskale werklikhede was vanmiddag duidelik tydens die begrotingsrede van Malusi Gigaba, minister van finansies.

Die belangrikste begrotingsnuus is sekerlik die aankondiging dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) vanjaar vir die eerste keer in 25 jaar verhoog word. Min beleidsbesluite kan die finansiële verknorsing waarin die Suid-Afrikaanse staat homself bevind, sterker aandui as hierdie besluit, wat deur regressiewe belasting wat die armes en laer middelklas die hardste sal slaan, sterker aandui.

Die verhoging van die BTW-vlak van 14% na 15% (darem met voortgesette vryskelding vir basiese voedselsoorte) behoort meer as R28 miljard vir die staatskas te in.

Dit was sekerlik die mees chaotiese begin vir ‘n begrotingsrede in die Suid-Afrikaanse geskiedenis toe John Steenhuisen, die DA-hoofsweep, geopper het dat Gigaba pas aan meineed skuldig bevind is en dus sekerlik nie bevoeg is om die begrotingsrede te lewer nie.

Minute van onsekerheid het gevolg terwyl Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, oudergewoonte nie die reëls genoegsaam onder die knie gehad het om op Steenhuisen se maneuver te reageer of, alternatiewelik, nogmaals nie die wil gehad het om teen iemand van haar eie ANC op te tree nie.

In verdere protes teen Gigaba se nabyheid aan staatskaping en die Gupta-familie het die EFF die begrotingsrede geboikot. En toe Gigaba die poduim bestyg, het net sowat die helfte van die ANC-koukus applous gegee.

Al drie gebeure het getoon hoe enige verdere vertraging van streng optrede teen staatskaping-geassosieerde ministers teen Ramaphosa kan boemerang.

Wat die res van die begroting en begrotingsrede betref, was dit maar ‘n droewe verhaal.

Gigaba het dit as ‘n “taai, maar hoopvolle” begroting getipeer. Die taaiheid het meestal in die feite van die onmiddellike geblyk te lê, en die hoop in die projeksies van die toekoms.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het vanjaar weer R48,2 miljard te min ingevorder, wat die grootste rede vir die verhoging in BTW was.

Die besluit om gratis hoër onderwys aan studente uit gesinne met ‘n jaarlikse inkomste onder R350 000 te verskaf, gaan oor die volgende drie jaar R57 miljard kos, en is die grootste groeiende uitgawe in die begroting.

Gigaba het ook onderneem om besteding aan die staatsdiens te verminder, maar in gebreke gebly om te sê hoe die regering beplan om dit te doen.

‘n Bykomende brandstofheffing van 52 sent per liter is aangekondig, asook laer as inflasionêre persoonlike en maatskappybelastingaanpassings, en hoër as inflasionêre verhogings in welsynstoelaes.

Die staat gaan 291 000 hektaar grond teen R4,2 miljard aankoop vir grondhervorming, en staatsbesteding gaan met 2,1% groei, het Gigaba belowe.

Dit was ‘n moeilike begrotingsrede deur ‘n minister van finansies wat duidelik in die knyp is en waarskynlik nie lank in sy pos gaan oorleef nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Arrogante vermetelheid van n ZUMAIKIE om die vergrype van homself en sy mede ANC KADER te finansier deur SA DIE HOOGS BELASTE LAND in die WERWLD te maak!!!!!! ANC EN ZUMA LEGACY!!!!!!

Jongboer ·

Waarom is News24 so opgewonde..?
Het Ramaphosa die ondersteuning om die man te laat gaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.