Chapmanspiek-tragedie: ‘Sy was die ongelooflikste vrou’

Andrew en Jolandi le Roux. Foto: Facebook

Die jong vrou van Seepunt, Kaapstad, wat Sondag op haar verjaardag by Chapmanspiek na haar dood geval het, word Woensdag begrawe.

Jolandi le Roux het omstreeks 17:00 saam met geliefdes by dié gewilde toeristebestemming vir haar verjaardag gaan stap toe sy by die uitkykpunt gegly en na haar dood geval het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die NSRI se bemanning van Kommetjie en Houtbaai na die toneel ontbied nadat ooggetuies met afgryse toegekyk het hoe die vrou van ’n krans afval.

Ambulansdienste, polisiebeamptes, reddingswerkers, asook ’n reddingshelikopter is op ’n kransvlak onder die uitkykpunt ontplooi om die vrou te hulp te snel. Sy het egter reeds aan haar beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar, het Lambinon gesê.

Die vrou se naasbestaandes is op die toneel deur ’n polisietraumaberader, NSRI-bemanning en paramedici bygestaan waarna haar liggaam van die berg verwyder en in die sorg van forensiese patologie- dienste gelaat is.

Andrew en Jolandi op hul troudag in 2017. Foto: Facebook

Medelye stroom intussen in op sosiale media met talle wat Jolandi beskryf as die “ongelooflikste vrou” wat “altyd geglimlag het, maak nie saak wat nie”. Ander beskryf die nuus van haar dood as “hartverskeurend” en sê Jolandi se man, Andrew, is seker platgeslaan. Die egpaar was onlangs ʼn jaar getroud.

Jolandi se broer, Jacques de Villiers, het intussen bekend gemaak dat ʼn roudiens Woensdag gehou sal word. “Die dood laat ʼn hartseer agter wat niemand kan genees nie. Die liefde laat ʼn herinnering wat niemand kan steel nie,” het De Villiers gesê.

Die roudiens sal Woensdag om 14:00 in die Stellenberg NG Kerk gehou word. “In plaas van blomme, sal ʼn bydrae tot die NSRI- of Berg- soek-en-redding waardeer word,” het De Villiers gesê.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KG ·

Dis ongelooflik hartseer!! My opregte medelye aan al haar geliefdes.

Liza ·

Ai Jaques, my hart breek vir jou, jou ma en jou sussie se man….die Here sal julle dra deur die hartseer tyd….ek hou aan bid vir julle….

Lize-Mari ·

Maroela Media, kan julle asseblief die dag van begrafnis regmaak. Dit is more middag 14:00 nie Donderdag nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Lize-Mari

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die datum is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

MS ·

Ai, julle, dis so hartseer! Dink aan die familie en vriende, dis ‘n groot verlies :(

Zettie ·

Wat ‘n absolute hartseer storie en tragedie. Baie sterkte aan al die geliefdes wat hierdeur geraak word. Sy was ‘n pragtige vrou en julle ‘n lieflike paartjie. R I V

Colleen ·

Mag God julle vertroos in hierdie hartseer tyd. Sjoe ek het haar nie eers geken nie, maar voel so hartseer. So ‘n mooi mens wat hopeloos te vroeg moes gaan.

Carl ·

Baie hartseer en krap weer ou wonde oop. `n Paar jaar gelede het `n vriend se seun ook daar afgeval, nadat `n rukwind hom daar afgewaai het. Jonothan Erasmus.
Dit sal dalk `n goeie idee wees om die onderskeie gevaarlike punte met beskermende heinnings materiaal toe te span tussen die afgrond en die see.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.